DANIËL 9:1-19

DANIËL 9:1-19 NLV

Dit was in die eerste regeringsjaar van Ahasveros se seun Darius. Hy was ’n Mediër. Hy het oor die Babiloniërs regeer. Tydens die eerste jaar van sy koningskap het ek, Daniël, die Skrifte van wat die HERE vir die profeet Jeremia gesê het, nagegaan oor die tydperk wat Jerusalem vervalle sou lê. Dit sou 70 jaar wees. Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi. Ek het tot die HERE my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg. “Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk. Ons het nie na u dienaars, die profete, geluister nie. Hulle het namens U met ons konings, ons leiers, ons voorgeslagte en almal wat in die land woon, gepraat. U is reg, Here. Ons staan vandag beskaamd voor U, ons almal wat aan Juda behoort en in Jerusalem woon, ons almal van Israel wat naby en ver is in al die lande waarheen U ons verban het omdat ons aan U ontrou was. HERE, ons is skaam omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers teen U gesondig het. “Maar die Here, ons God, ontferm Hom oor ons en vergewe ons, selfs al het ons teen Hom in opstand gekom. “Ons was nie gehoorsaam aan die HERE ons God om te lewe volgens die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het deur sy knegte, die profete, nie. Die hele Israel het van u bepalings afgewyk en weggedwaal omdat ons nie na U geluister het toe U ons geroep het nie. “U het nou oor ons die dreigemente en vervloekings laat kom wat in die wet van u dienaar Moses geskryf staan, want ons het sonde teen U gedoen. U het presies met ons en ons leiers laat gebeur wat U ons beloof het. Daar was nog nooit so ’n groot ramp op aarde soos die een wat U oor Jerusalem laat kom het nie. Elke vervloeking wat in Moses se wet staan, het oor ons gekom. Nogtans het ons ons nie voor die HERE verootmoedig en gebreek met ons sondes en gesoek na u waarheid nie. Die HERE het teëspoed oor ons laat kom. Die HERE ons God is reg in alles wat Hy doen, want ons het nie na Hom geluister nie. “Here, ons God, U het u volk met krag uit Egipte verlos en so die goeie Naam gemaak wat U vandag nog het. Maar ons het oortree. Ons het goddeloos opgetree. Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon. “Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here. “Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is. Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor DANIËL 9:1-19

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid