DANIËL 9:1-19

DANIËL 9:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Darius was 'n Mediër en hy het koning geword ná Ahasveros. In die eerste jaar nadat Darius koning geword het van Babel, het ek, Daniël, in die boeke gelees dat die Here met die profeet Jeremia gepraat het. Die Here het vir hom gesê die vyande sal Jerusalem verwoes. Daar sal 70 jaar lank net hope klippe wees. Ek het tot my Here, tot God, gebid. Ek het gevas en getreur. Ek het gebid tot my Here, tot God. Ek het my sonde en die sonde van my volk bely en gesê: “Here, U is die Groot God. Almal moet bang wees vir U en hulle moet U eer. U maak 'n verbond met die mense wat lief is vir U en wat doen wat U gesê het. U is lief vir hulle. Ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Ons het nie geluister na U nie, ons het nie gedoen wat U gesê het ons moet doen nie. Ons het nie geluister na die profete nie. Hulle was u dienaars. Hulle het u boodskap gebring vir ons konings, ons amptenare, ons voorvaders, vir al die mense in die land. U het reg gedoen, maar ons het nie reg gedoen nie. Ons is skaam. Ons, die mense van Juda en Jerusalem, al die Israeliete, is skaam. Ons was ontrou aan U, en U het ons weggejaag na ander lande, lande wat naby is en lande wat ver is. Ons is skaam, Here, want ons het sonde gedoen teen U. Ons konings, ons amptenare en ons voorvaders het sonde gedoen teen U. Ons het nie geluister na U nie. Maar U, ons God die Here, U is genadig, U sal ons sonde vergewe. “U is ons God die Here, maar ons het nie na U geluister nie. U het die profete, u dienaars, na ons toe gestuur. Hulle het u wette vir ons gegee, maar ons het nie gelewe soos die wette sê nie. Al die Israeliete was ongehoorsaam aan U. Hulle het nie geluister na wat U gesê het nie. Daarom het U gedoen wat U gesê het. U het gesê U sal ons straf as ons sonde doen teen U. Moses, u dienaar, het dit so geskryf in sy wette. U het gedoen wat U vir ons en ons konings gesê het. U het dit baie sleg laat gaan in Jerusalem, dit het nog nooit in die hele wêreld so sleg gegaan nie. Moses het dit so geskryf in sy wette, en dit gaan baie sleg met ons. Maar ons het aangehou om verkeerd te doen en ons het vergeet dat U altyd reg is. Ons het nie gevra dat U weer goed moet wees vir ons nie, U, ons God die Here. En U, ons God die Here, U doen reg. U doen wat U gesê het. Ons het nie geluister na U nie, en U het dit sleg laat gaan met ons. “En nou, Here ons God, U het lank gelede u volk uit Egipte gebring toe U wonderwerke gedoen het. Daarom ken al die mense u Naam vandag nog. Maar ons het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Here, U het altyd u volk gered, red ons ook nou. Hou op om kwaad te wees vir u stad Jerusalem, vir u gewyde berg. Ons en ons voorvaders het sonde gedoen, ons het verkeerd gedoen. Dit is hoekom al die volke rondom ons nou lag vir Jerusalem en vir ons, u volk. “En nou, ons God, luister asseblief na my. Ek is u dienaar en ek bid: U moet asseblief weer goed wees vir u tempel wat verwoes is, doen dit omdat U God is. Luister asseblief, my God, kyk hoe verwoes is ons en Jerusalem, die stad wat aan U behoort. Ons bid dat U weer goed moet wees, nie omdat ons iets gedoen het wat reg is nie, maar omdat U lief is vir ons. Here, luister asseblief. Here, vergewe ons asseblief. Here, doen dit asseblief. Moenie wag nie. My God, doen dit asseblief omdat U God is, want hierdie stad en hierdie volk behoort aan U.”

DANIËL 9:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was. En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy. En ek het tot die HERE my God gebid en belydenis gedoen en gesê: Ag, Here, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, ons het gesondig en verkeerd gedoen en goddeloos gehandel en in opstand gekom en van u gebooie en verordeninge afgewyk. En ons het nie geluister na u knegte, die profete, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons owerstes en ons vaders en tot die hele volk van die land nie. Aan U, Here, kom die geregtigheid toe, maar aan ons beskaming van die aangesig soos dit vandag is, aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel, die wat naby en die wat ver is in al die lande waarheen U hulle verdryf het, oor hulle ontrou wat hulle teen U begaan het. Here, aan ons kom toe beskaming van die aangesig, aan ons konings, aan ons owerstes en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het. By die Here onse God is barmhartigheid en vergewing, want ons het teen Hom opgestaan en na die stem van die HERE onse God nie geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie. Maar die hele Israel het u wet oortree en afgewyk deurdat hulle nie na u stem geluister het nie; daarom is die vloek en die eed oor ons uitgestort wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, want ons het teen Hom gesondig. En Hy het sy woorde in vervulling laat gaan wat Hy oor ons gespreek het en oor ons rigters wat ons bestuur het, deur groot onheil oor ons te bring wat onder die ganse hemel nie gebeur het soos in Jerusalem nie; soos in die wet van Moses geskrywe is — al hierdie onheil het oor ons gekom, en ons het die aangesig van die HERE onse God nie om genade gesmeek deur ons te bekeer van ons ongeregtighede en ag te gee op u waarheid nie. Daarom was die HERE wakker oor die onheil, om dit oor ons te bring; want die HERE onse God is regverdig by al sy werke wat Hy doen, maar ons het nie na sy stem geluister nie. Nou dan, o Here onse God wat u volk uit Egipteland met 'n sterke hand uitgelei en vir U 'n Naam gemaak het soos dit vandag is, ons het gesondig, ons was goddeloos. O Here, laat tog volgens al u geregtigheid u toorn en u grimmigheid van u stad Jerusalem, u heilige berg, afgewend word, want om ons sondes en die ongeregtighede van ons vaders ontwil is Jerusalem en u volk 'n voorwerp van versmading vir almal rondom ons. Hoor dan nou, onse God, na die gebed van u kneg en na sy smekinge, en laat ter wille van die Here u aangesig skyn oor u heiligdom wat woes lê. Neig u oor, my God, en hoor, open u oë en aanskou ons verwoeste plekke en die stad waar u Naam oor uitgeroep is; want nie op grond van ons geregtigheid werp ons ons smekinge voor u aangesig neer nie, maar op grond van u grote barmhartigheid. Here, hoor! Here, vergeef! Here, merk op en doen dit, vertoef tog nie, om U ontwil, my God; want u Naam is oor u stad en u volk uitgeroep.

DANIËL 9:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was in die eerste regeringsjaar van Darius seun van Ahasveros. Hy was van geboorte 'n Mediër maar het koning geword oor die Galdese ryk. In sy eerste regeringsjaar het ek, Daniël, uit die Skrifte vasgestel dat volgens die woord van die Here wat tot die profeet Jeremia gekom het, Jerusalem sewentig volle jare 'n puinhoop sou wees. Daarom het ek my na die Here God gewend in gebed en smeking: ek het gevas, rouklere aangetrek en as oor my kop gegooi. Ek het tot die Here my God gebid en bely: “Ag, Here, groot en ontsagwekkende God, U handhaaf u verbond en u trou teenoor dié wat vir U liefhet en u gebooie gehoorsaam. Ons het gesondig, ons het oortree, ons het verkeerde dinge gedoen, ons was opstandig en het nie gelewe volgens u gebooie en u bepalings nie. Ons het nie geluister na u dienaars die profete nie, wat in u Naam ons konings, ons leiers, ons familiehoofde en die hele bevolking aangespreek het. U is regverdig, Here. Dit is onsself wat hierdie ellende oor ons gebring het, oor die mense van Juda, oor die inwoners van Jerusalem, oor die hele Israel, dié wat naby is sowel as dié wat ver is, ver in al die lande waarheen U hulle verstrooi het oor hulle ontrou teenoor U. Here, hierdie ellende het oor ons, oor ons konings, oor ons leiers en oor ons familiehoofde gekom omdat ons teen U gesondig het. Maar U, Here ons God, bewys barmhartigheid en U vergewe, al was ons opstandig teen U. “Ons was nie aan U, Here ons God, gehoorsaam nie, ons het nie volgens u wil gelewe nie, u wil wat U deur u dienaars, die profete, aan ons gegee het. Die hele Israel het u wil oortree; hulle het afvallig geword en nie na U geluister nie. Daarom het U die vloek wat met 'n eed bevestig is en wat opgeteken is in die wet van Moses, die dienaar van God, oor ons laat kom. Dit is omdat ons teen U gesondig het. U het die woorde wat U in verband met ons en ons regeerders uitgespreek het, in vervulling laat gaan en hierdie groot onheil oor ons gebring. Daar het nog nooit op die aarde so iets gebeur soos in Jerusalem nie. Al hierdie onheil het oor ons gekom net soos dit geskryf staan in die wet van Moses; tog het ons, Here ons God, nie ons saak met U reggemaak deur ons van ons sonde te bekeer en in te sien dat U doen wat U sê nie. Daarom het U ons hierdie onheil nie gespaar nie maar dit oor ons gebring. Here ons God, U is regverdig in alles wat U doen, ons het nie na U geluister nie. “Here ons God, U het u volk deur u groot mag uit Egipte gelei en daardeur u Naam groot gemaak soos dit vandag nog is. Maar ons het gesondig, ons het verkeerd gedoen. Here, U het reddingsdade gedoen, neem tog u toorn en u woede weg van Jerusalem, u stad, u heilige berg, want deur ons sonde en deur die oortredinge van ons voorvaders spot almal rondom ons nou met Jerusalem en met u volk. Ter wille van Uself, hoor tog my gebed en smeking, en verskyn tog tot redding van u verwoeste heiligdom. Luister tog, my God! Hoor ons tog! Sien tog ons verlatenheid raak, en dié van die stad waaroor u Naam uitgeroep is. Ons pleit by U om ontferming, nie omdat ons regverdig is nie, maar op grond van u groot barmhartigheid. Hoor, Here! Vergewe, Here! Gee tog ag op ons en tree op! Ter wille van Uself, moenie talm nie, my God. U Naam is oor u stad en oor u volk uitgeroep.”

DANIËL 9:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die •boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die HERE tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees. Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in 'n roukleed en met stof op die kop. Ek het gebid tot die HERE, my God; ek het bely en gesê: “Ag, my Heer, U is die groot en ontsagwekkende God wat die verbond en verbondstrou in stand hou vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom. Ons het gesondig, ons het verkeerd opgetree, ons het ons skuldig gemaak en in opstand gekom. Ons het afgewyk van u gebooie en u beslissings. En ons het nie geluister na u diensknegte die profete nie, hulle wat in u Naam gepraat het met ons konings, ons •hoë amptenare, ons voorouers en met die hele volk van die land. By U, my Heer, is daar regverdige optrede, en by ons is daar gesigte vol skaamte, soos dit vandag is – by die manne van Juda, by die inwoners van Jerusalem en by die hele Israel, dié wat naby is en dié wat ver is in al die lande waarheen hulle verdryf is op grond van die ontrou wat hulle teen U gepleeg het. HERE, by ons is daar gesigte vol skaamte – by ons konings, ons hoë amptenare en ons voorouers, omdat ons teen U gesondig het; by my Heer, ons God, is daar ontferming en vergifnis. Omdat ons teen Hom in opstand was en nie geluister het na die stem van die HERE ons God, deur sy wette te volg wat Hy aan ons voorgehou het deur sy diensknegte, die profete nie; en omdat die hele Israel u wet oortree en afgewyk het deur nie te luister na u stem nie, het die vloek en die eed wat geskryf staan in die Wet van Moses, die dienaar van God, teen ons losgebreek. Ja, ons het teen Hom gesondig, en Hy het sy woorde gestand gedoen wat Hy gespreek het oor ons en ons rigters wat ons moes rig, deur 'n groot onheil oor ons te bring – iets wat onder die ganse hemel nog nie gebeur het, soos daar wel in Jerusalem gebeur het nie. Soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, het al hierdie onheil oor ons gekom, maar ons het die guns van die HERE ons God nie gesoek deur van ons sondeskuld weg te draai en ag te slaan op u waarheid nie. Die HERE het met die onheil gereed gestaan, en het dit oor ons gebring. Die HERE ons God is immers regverdig in alles wat Hy doen. Maar ons het nie na sy stem geluister nie. “ En nou, my Heer, ons God, U wat u volk uit Egipteland uitgelei het met 'n sterk hand en vir U 'n naam gemaak het soos dit vandag is – ons het gesondig, ons is skuldig. My Heer, laat, in ooreenstemming met al u weldade, u toorn en woede asseblief wegdraai van u stad Jerusalem, u heilige berg. Want dit is deur ons sonde en die sondeskuld van ons voorouers dat Jerusalem en u volk 'n bespotting geword het vir almal om ons. Daarom, ons God, luister na die gebed van u dienskneg en na sy smeekbede, en laat, ter wille van my Heer, u aangesig skyn oor u heiligdom, wat verwoes lê. Draai u oor, my God, en hoor! Maak u oë oop en sien ons verwoeste plekke raak en ook die stad waaroor u Naam uitgeroep is! Want nie op grond van ons regverdige dade lê ons ons smeekbede voor u nie, maar op grond van u oorvloedige barmhartigheid. My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.”

DANIËL 9:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasveros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak is oor die koninkryk van die Chaldeërs; In die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, deur boeke die getal van die jare verstaan waarvan die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het, dat hy sewentig jaar in die verwoestings van Jerusalem sou volbring. En ek het my aangesig tot die HERE God gerig om te soek deur gebed en smekinge, met vas en rouklere en as. En ek het tot die HERE my God gebid en my belydenis afgelê en gesê: HERE, die groot en vreeslike God, hou die verbond en die barmhartigheid vir die wat Hom liefhet en aan die wat sy gebooie bewaar; Ons het gesondig en ongeregtigheid gepleeg en goddeloos gehandel en in opstand gekom deur af te wyk van u bevele en van u verordeninge. Ons het ook nie geluister na u knegte, die profete nie, wat in u Naam gespreek het tot ons konings, ons vorste en ons vaders en tot die hele volk van die land. O HERE, geregtigheid behoort aan U, maar vir ons is aangesig verwarring soos vandag; aan die manne van Juda en aan die inwoners van Jerusalem en aan die hele Israel wat naby en ver is, deur al die lande waarheen jy hulle verdryf het vanweë hulle oortreding wat hulle teen jou begaan het. O HERE, aan ons behoort verwarring van aangesig, aan ons konings, aan ons vorste en aan ons vaders, omdat ons teen U gesondig het. Aan die HERE ons God behoort barmhartighede en vergifnis, al het ons teen Hom in opstand gekom; Ons het ook nie na die stem van die HERE onse God geluister om te wandel in sy wette wat Hy ons deur die diens van sy knegte, die profete, voorgehou het nie. Ja, die hele Israel het u wet oortree, ja, deur weg te gaan, sodat hulle nie na u stem sou luister nie; daarom word die vloek oor ons uitgegiet en die eed wat geskrywe is in die wet van Moses, die kneg van God, omdat ons teen hom gesondig het. En Hy het sy woorde bevestig wat Hy teen ons gespreek het en teen ons regters wat ons gerig het, deur 'n groot onheil oor ons te bring, want onder die ganse hemel het nie gebeur soos oor Jerusalem nie. Soos geskrywe is in die wet van Moses, al hierdie onheil het oor ons gekom, maar ons het nie ons gebed voor die aangesig van die HERE onse God gedoen om ons van ons ongeregtighede af te bekeer en u waarheid te verstaan nie. Daarom het die HERE die onheil gewaak en dit oor ons gebring, want die HERE onse God is regverdig in al sy werke wat Hy doen, want ons het na sy stem nie geluister nie. En nou, HERE onse God, wat u volk uit Egipteland met 'n sterke hand uitgelei het en u 'n roem verwerf het soos dit vandag is; ons het gesondig, ons het goddeloos gehandel. O HERE, laat tog, volgens al u geregtigheid, u toorn en u grimmigheid afgewend word van u stad Jerusalem, u heilige berg, want ter wille van ons sondes en oor die ongeregtighede van ons vaders het Jerusalem en u volk geword. 'n Smaad vir almal wat oor ons is. Hoor dan nou, o onse God, die gebed van u kneg en sy smekinge, en laat u aangesig skyn oor u heiligdom wat verlate lê ter wille van die HERE. O my God, neig u oor en luister; maak u oë oop, en aanskou ons verwoestings en die stad waaroor u Naam uitgeroep is, want ons bring ons smekinge voor U nie ter wille van ons geregtigheid nie, maar ter wille van u groot ontferming. O HERE, hoor; O HERE, vergewe; O HERE, luister en doen; stel nie uit om u ontwil nie, o my God, want u naam is oor u stad en u volk uitgeroep.

DANIËL 9:1-19 Die Boodskap (DB)

Darius, die seun van Ahasveros, was ’n Mediër, maar hy het koning geword van die Babiloniërs. Tydens sy eerste jaar as koning het ek die Woord van die Here bestudeer. Ek het toe gesien dat volgens die Woord van die Here soos Hy dit deur die profeet Jeremia laat opteken het, Jerusalem vir 70 jaar ’n verlate stad moes wees. Daarom het ek met gebed en smeking voor die Here God gaan staan. Ek het glad nie geëet nie, rouklere aangetrek en as op my kop uitgegooi as teken van my opregtheid. Toe het ek tot die Here my God gebid en bely: “O Here, U is ’n groot en verskriklike sterk God! U kom altyd u beloftes na teenoor die mense wat U liefhet en doen wat U van hulle verwag. Maar ons het sonde gedoen en die pad byster geraak. Ons het in opstand teen U gekom en die rug vir u opdragte en reëls gedraai. Ons het geweier om te luister na u boodskappers wat in u Naam met ons konings, ons leiers, ons voorouers en die hele volk gepraat het. Here, U doen altyd wat reg is, maar ons is heeltyd besig om skandes te maak. Ons almal doen dit, dié wat in Juda en Jerusalem bly, maar ook dié wat U oor die hele wêreld verstrooi het omdat hulle nie na U wou luister nie. Here, hierdie skande het oor ons gekom omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers U in die steek gelaat het met hulle skandelike dade. Ten spyte van ons opstandigheid is U, o Here ons God, bereid om ons te vergewe. Want U is ’n goeie God wat ons baie liefhet. “Ons het nie geluister na U, ons Here en God, nie, want ons het nie gedoen wat u dienaars, die profete, vir ons gesê het nie. Die hele Israel het die rug vir U gedraai en wou nie doen wat U van hulle verwag nie. Toe U met hulle gepraat het, het hulle hulle ore toegedruk. Daarom dra ons nou die gevolge van ons verkeerde dade soos U ons gewaarsku het in die wet van Moses, u dienaar. U het gedoen wat U gesê het U met ons en ons leiers gaan doen. Wat met Jerusalem gebeur het, is die grootste ramp ooit. Alles het gebeur net soos dit in die wet van Moses geskryf staan. En tog, Here ons God, het ons geweier om op te hou sonde doen. Ons wou nie na U toe terugkom om te kom sê ons is jammer nie. Daarom het U ons nie jammer gekry nie. U het ons die gevolge laat dra van ons ongehoorsaamheid. Want U is ’n God wat doen wat U sê. U tree altyd reg op. “Here, ons God, U het u mag bewys toe U u volk uit Egipte laat trek het. Daarom word u Naam tot vandag toe nog onthou en met groot respek behandel. Maar ons is sleg en vol sonde. Here, U is vol goedheid en liefde; moet tog nie langer vir Jerusalem kwaad wees nie. Dit is tog u stad, u heilige berg staan daar. Dit is ons en ons voorvaders se skuld dat ons bure oor Jerusalem lag en spot. O God, hoor tog as ek voor U pleit. Herstel tog u tempel wat verwoes is, sodat almal kan weet en sien dat U God is. O my God, luister tog na my en hoor my versoek. Kyk net weer ’n bietjie na ons en sien in watter ellende ons is. En dit nogal in die stad wat u Naam dra. Ons vra nie u hulp omdat ons dit verdien nie, maar omdat ons weet dat U so goed en vol genade is. Hoor, Here! Vergewe, Here! Tree op, doen asseblief iets! Dit is u stad en u mense oor wie u Naam uitgeroep is. Moenie wag nie, my God, sodat almal kan sien dat U God is.”

DANIËL 9:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was in die eerste regeringsjaar van Ahasveros se seun Darius. Hy was ’n Mediër. Hy het oor die Babiloniërs regeer. Tydens die eerste jaar van sy koningskap het ek, Daniël, die Skrifte van wat die HERE vir die profeet Jeremia gesê het, nagegaan oor die tydperk wat Jerusalem vervalle sou lê. Dit sou 70 jaar wees. Ek het toe voor God die Here gekom en gevas en gebid. Ek het sakke aangetrek en as oor my gestrooi. Ek het tot die HERE my God gebid en voor Hom my skuld bely. Ek het gebid: “Ag, Here, U is ’n groot en geweldige God. U hou by u verbond. U bly lojaal aan dié wat u bepalings navolg. “Ons het gesondig en verkeerd gedoen. Ons het teen U oortree en van u bevele en gebooie afgewyk. Ons het nie na u dienaars, die profete, geluister nie. Hulle het namens U met ons konings, ons leiers, ons voorgeslagte en almal wat in die land woon, gepraat. U is reg, Here. Ons staan vandag beskaamd voor U, ons almal wat aan Juda behoort en in Jerusalem woon, ons almal van Israel wat naby en ver is in al die lande waarheen U ons verban het omdat ons aan U ontrou was. HERE, ons is skaam omdat ons konings, ons leiers en ons voorouers teen U gesondig het. “Maar die Here, ons God, ontferm Hom oor ons en vergewe ons, selfs al het ons teen Hom in opstand gekom. “Ons was nie gehoorsaam aan die HERE ons God om te lewe volgens die voorskrifte wat Hy vir ons gegee het deur sy knegte, die profete, nie. Die hele Israel het van u bepalings afgewyk en weggedwaal omdat ons nie na U geluister het toe U ons geroep het nie. “U het nou oor ons die dreigemente en vervloekings laat kom wat in die wet van u dienaar Moses geskryf staan, want ons het sonde teen U gedoen. U het presies met ons en ons leiers laat gebeur wat U ons beloof het. Daar was nog nooit so ’n groot ramp op aarde soos die een wat U oor Jerusalem laat kom het nie. Elke vervloeking wat in Moses se wet staan, het oor ons gekom. Nogtans het ons ons nie voor die HERE verootmoedig en gebreek met ons sondes en gesoek na u waarheid nie. Die HERE het teëspoed oor ons laat kom. Die HERE ons God is reg in alles wat Hy doen, want ons het nie na Hom geluister nie. “Here, ons God, U het u volk met krag uit Egipte verlos en so die goeie Naam gemaak wat U vandag nog het. Maar ons het oortree. Ons het goddeloos opgetree. Here, tree regverdig op en neem weg u vurige woede van u stad Jerusalem, daar waar u tempel is. As gevolg van die sonde en die oortreding van ons voorouers het Jerusalem en u volk ’n bespotting geword in die oë van almal wat rondom ons woon. “Ons God, luister tog na die gebed van u dienaar en sy smeking. Ter wille van Uself, word tog weer goedgesind teenoor u verwoeste tempel, Here. “Spits tog u ore, maak oop u oë, sien ons ellende raak! Kyk hoe lyk die stad wat u Naam dra! Ons vra dit nie omdat ons regverdig is nie, maar ons smeek U omdat U barmhartig is. Here, hoor tog! Here, vergewe ons! Here, luister tog en doen iets daaraan! Moenie nog wag nie, o God, want u stad en u volk dra u Naam.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid