HANDELINGE 18:18-28

HANDELINGE 18:18-28 NLV

Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe gevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.) By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. Toe hy vertrek, het hy gesê: “Ek kom na julle toe terug, as God wil.” Hy het toe van Efese af weggevaar en in Sesarea aan land gegaan. Daarvandaan het hy opgegaan en die gemeente in Jerusalem gaan groet, en toe Antiogië toe vertrek. Na hy ’n tyd lank in Antiogië gebly het, het hy weer vertrek. Hy het deur die landstreke Galasië en Frigië gereis, en oral die gelowiges geestelik versterk. Intussen het Apollos, ’n Jood wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker en goed met skrifuitleg. Hy het in “Die Pad van die Here” onderrig ontvang en het met brandende geesdrif gepraat en ander noukeurig geleer van Jesus. Hy het egter net die doop van Johannes geken. Hy het self met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom eenkant gevat en vir hom “Die Pad van God” nog duideliker uiteengesit. Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig. Hulle het vir die gelowiges in Agaje geskryf dat hulle hom moet ontvang. Daar aangekom, het hy baie beteken vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en met die Skrif bewys dat Jesus die Messias is.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid