HANDELINGE 18:18-28

HANDELINGE 18:18-28 Bybel vir almal (ABA)

Paulus het 'n lang tyd daar by die gelowiges in Korinte gebly. Toe het hy hulle gegroet en hy het met 'n skip weggeseil na die provinsie Sirië. Hy het eers in die hawestad Kenchreë sy hare laat afskeer. Hy het dit gedoen omdat hy 'n gelofte gemaak het. Priscilla en Akwila het ook saam met hom weggegaan. Toe het hulle in Efese gekom, dit is die stad waar Paulus vir Akwila en Priscilla laat bly het toe hy later daar weggegaan het. Paulus het eers na die sinagoge gegaan en hy het daar met die Jode gepraat. Toe die Jode hom vra om langer daar te bly, wou hy dit nie doen nie. Hy het hulle gegroet en gesê: “As God wil hê dit moet gebeur, dan sal ek weer na julle toe kom.” Toe het hy met 'n skip weggeseil van Efese. Nadat Paulus in die hawestad Sesarea aangekom het, het hy na Jerusalem gegaan en hy het die gemeente daar gegroet. Toe het hy na die stad Antiogië gegaan en hy het 'n tyd lank daar gebly. Toe het Paulus weggegaan van die stad Antiogië en hy het van die een plek na die ander plek deur die lande Galasië en Frigië gegaan. Hy het al die gelowiges bemoedig. 'n Jood, Apollos, het in die stad Efese aangekom. Hy is gebore in die stad Aleksandrië en hy was iemand wat baie goed kon praat. Hy het die Ou Testament baie goed geken. Apollos het by mense baie geleer hoe die Here wil hê 'n mens moet lewe. Hy was baie opgewonde en hy het aanmekaar daaroor gepraat. Hy het vir die mense die dinge oor Jesus reg geleer, maar hy het net geweet dat Johannes die Doper mense gedoop het. Hy het nie geweet dat die apostels ook mense gedoop het in die Naam van Jesus nie. Apollos het in die sinagoge begin preek, hy was nie bang om dit te doen nie. Toe Priscilla en Akwila hoor wat hy sê, het hulle hom saam met hulle huis toe geneem en hulle het vir hom meer vertel van die dinge van God. Toe Apollos na die land Agaje wou gaan, het die gelowiges in Efese hom bemoedig. Hulle het ook 'n brief geskryf vir die gelowiges in Agaje om te vra dat hulle vir Apollos moet sê hy is welkom. In Agaje was daar mense wat gelowiges geword het omdat God genadig was vir hulle. Nadat Apollos daar aangekom het, het hy vir hulle baie gehelp. Want hy het baie hard met die Jode gestry, al die mense kon dit sien. Hy het gewys dat hulle verkeerd is en hy het uit die Ou Testament vir hulle gelees en gewys dat Jesus die Christus is vir wie almal gewag het.

HANDELINGE 18:18-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Áquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het 'n gelofte gedoen. En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek. En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie, maar van hulle afskeid geneem en gesê: Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil. En hy het van Éfese afgevaar. En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë. En nadat hy 'n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk. EN 'n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, 'n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte. Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het. En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Áquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê. En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang. En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut; want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 18:18-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Nadat Paulus nog 'n tyd lank daar by die gelowiges in Korinte gebly het, het hy van hulle afskeid geneem en saam met Priscilla en Akwila na Sirië toe vertrek. Voordat hy in Kenchreë aan boord gegaan het, het hy sy hare laat afsny, omdat 'n gelofte wat hy afgelê het, vervul was. By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote verlaat en in die sinagoge ingegaan, waar hy met die Jode geredeneer het. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. Hy het van hulle afskeid geneem en gesê: “As God wil, kom ek na julle toe terug.” Hy het van Efese af weggegaan en in Sesarea aangekom. Daarvandaan het hy Jerusalem toe gegaan en die gemeente gegroet, en toe na Antiogië toe vertrek, waar hy 'n tyd lank gebly het. Daarna het hy weer vertrek en deur die landstreek van Galasië en Frigië gereis. Oral het hy die gelowiges geestelik versterk. Intussen het daar 'n Jood met die naam Apollos, wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was 'n begaafde spreker met 'n deeglike kennis van die Skrif. Hy het in die leer van die Here onderrig ontvang en het met groot geesdrif gepraat en aan ander noukeurig alles oor Jesus geleer; maar die doop waarvan hy geweet het, was net dié van Johannes. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die leer van God nog duideliker gemaak. Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig en vir hom 'n brief saamgegee aan die gelowiges daar om te versoek dat hulle hom vriendelik moet ontvang. Daar aangekom, was hy tot groot hulp vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en uit die Skrif bewys dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 18:18-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Paulus nog 'n geruime tyd by die broers vertoef het, het hy afskeid geneem en per skip na Sirië vertrek, vergesel van Priscilla en Akwila. In Kenchreë het hy sy kop laat kaal skeer, omdat hy 'n gelofte afgelê het. Hulle het in Efese aangekom, waar hy sy reisgenote agtergelaat het. Self het hy egter die •sinagoge binnegegaan en met die Jode geredeneer. Alhoewel hulle hom versoek het om langer te bly, het hy nie ingestem nie, maar afskeid geneem en gesê: “Ek sal, as dit God se wil is, weer na julle kom.” Hy het toe van Efese af weggevaar. Nadat hy in Caesarea geland het, het hy die •gemeente gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Nadat Paulus 'n tyd lank daar gebly het, het hy weer vertrek, en van plek tot plek deur die landstreek van Galasië en deur Frigië gereis, en al die dissipels versterk. 'n Jood met die naam Apollos, 'n boorling van Aleksandrië, het in Efese aangekom. Hy was 'n welsprekende man, goed onderlê in die Skrifte. Hy het oor die Weg van die Here onderrig ontvang, en geesdriftig gepraat en deeglike onderrig gegee oor die dinge wat op Jesus betrekking het, alhoewel hy net die doop van Johannes geken het. Hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom huis toe geneem en vir hom die Weg van God nog duideliker uiteengesit. Toe hy na Agaje wou afreis, het die broers hom aangemoedig en vir die dissipels geskryf om hom gasvry te ontvang. Met sy aankoms daar was hy van groot hulp vir diegene wat deur die genade gelowig geword het, omdat hy die Jode kragtig in die openbaar teengespreek het, terwyl hy uit die Skrifte bewys het dat Jesus die Christus is.

HANDELINGE 18:18-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Paulus het daarna nog 'n geruime tyd daar gebly, en dan het hy van die broers afskeid geneem en daarvandaan na Sirië gevaar, en saam met hom Priscilla en Aquila; hy het sy hoof in Kenchrea geskeer, want hy het 'n gelofte gehad. En hy het in Éfese gekom en hulle daar gelos; maar self het hy in die sinagoge ingegaan en met die Jode geredeneer. Toe hulle begeer het dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie ingestem nie; Maar hulle het afskeid geneem en gesê: Ek moet in elk geval hierdie fees vier wat in Jerusalem kom, maar ek sal weer na julle terugkeer as God wil. En hy het van Éfese afgevaar. En nadat hy in Cesaréa geland het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgegaan na Antiogië. En nadat Hy 'n tyd daar deurgebring het, het Hy weggegaan en die hele land Galasië en Frigië in volgorde deurgetrek en al die dissipels versterk. En 'n sekere Jood met die naam van Apollos, gebore in Aleksandrië, 'n welsprekende man en magtig in die Skrif, het na Éfese gekom. Hierdie man is onderrig in die weg van die Here; en vurig in die gees, het hy die dinge van die Here ywerig gespreek en geleer, omdat hy net die doop van Johannes geweet het. En hy het met vrymoedigheid in die sinagoge begin spreek; en toe Aquila en Priscilla dit gehoor het, het hulle hom na hulle geneem en vir hom die weg van God meer volmaak uitgelê. En toe Hy van plan was om na Achaje oor te gaan, het die broeders geskryf en die dissipels vermaan om Hom te ontvang; Want hy het die Jode kragtig oortuig, en dit in die openbaar, deur deur die Skrifte te toon dat Jesus Christus is.

HANDELINGE 18:18-28 Die Boodskap (DB)

Paulus het daarna nog ’n ruk lank met sy werk in Korinte voortgegaan. Op ’n dag het hy besluit om ’n paar ander gemeentes te gaan besoek. Hy het van die gelowiges in Korinte afskeid geneem en met ’n skip na Sirië vertrek. Priscilla en Akwila het saam met hom gegaan. Toe Paulus in Kenchreë aankom, het hy al die hare op sy kop afgeskeer. Dit was die bewys dat hy ’n belofte nagekom het wat hy vroeër aan die Here gemaak het. Daarna is Paulus na Efese toe. Akwila en Priscilla het besluit om in Efese agter te bly. Met sy verblyf in die stad het Paulus ’n vinnige besoek by die plaaslike sinagoge afgelê. Daar het hy met die Jode oor Jesus gaan praat. Die mense was so aangegryp deur wat hy gesê het dat hulle wou hê hy moes nog ’n hele ruk by hulle bly. Paulus het egter nie daarvoor kans gesien nie. “As God wil, kom ek binnekort weer na julle toe,” het hy vir hulle gesê. Hy het daarna met ’n skip uit Efese weggevaar en in Sesarea aangekom.Daar het hy al die gemeentelede gaan groet en toe na Antiogië vertrek. Paulus het daar oorgebly. Na ’n kort rustydjie het hy weer begin reis, dié keer deur die landstreke van Galasië en Frigië. Hy het by al die gelowiges wat daar gebly het ’n draai gaan maak en hulle moed ingepraat. Intussen het ’n Christen met die naam Apollos in Efese aangekom. Hy was ’n Jood wat in die stad Aleksandrië in Egipte gebore is. Apollos was ’n goeie spreker. Hy het die Bybel ook goed geken. Tog was sy kennis oor Jesus nog maar gebrekkig. Hy was net met die doop van Johannes die Doper gedoop. Apollos was ’n goeie prediker. Hy het sy bes gedoen om die mense te leer hoe om Jesus na te volg. Apollos het ook in die sinagoge in Efese met die mense oor Jesus gaan praat. Priscilla en Akwila het hom daar raakgeloop. Toe hulle hoor wat hy vir die mense oor Jesus sê, het hulle besef dat hy nog nie alles mooi verstaan nie. Hulle het hom toe na hulle huis genooi. Daar het hulle die evangelie deeglik aan hom verduidelik. Apollos het daarna besluit om na die Romeinse provinsie Agaje te gaan. Die gelowiges in Efese het hom aangemoedig om dit te doen. Hulle het ’n brief geskryf wat hy moes saamvat waarin hulle vra dat die gelowiges in Agaje vir Apollos vriendelik moet ontvang en blyplek aan hom moet verskaf. Toe Apollos in Agaje opdaag, was die Christene wat daar gewoon het baie bly. Hulle kon sien dat God hom na hulle toe laat kom het, want hy het baie vir hulle almal beteken. Apollos het daar voor almal bewys dat die Jode wat nie in Jesus wou glo nie, verkeerd was. Met hulle slim redenasies was hulle nie opgewasse teen hom nie. Hy het uit die Bybel vir hulle gewys dat Jesus die Messias is.

HANDELINGE 18:18-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Paulus het nog etlike dae in Korinte gebly, en toe van die gelowiges afskeid geneem. Hy het Sirië toe gevaar, en Priscilla en Akwila is saam met hom. (In Kengreë het hy sy hare laat skeer omdat hy ’n gelofte gedoen het.) By hulle aankoms in Efese het Paulus sy reisgenote by die hawe gelos en self die sinagoge besoek. Daar het hy met die Jode geredeneer. Hulle het hom gevra om langer te bly, maar hy wou nie. Toe hy vertrek, het hy gesê: “Ek kom na julle toe terug, as God wil.” Hy het toe van Efese af weggevaar en in Sesarea aan land gegaan. Daarvandaan het hy opgegaan en die gemeente in Jerusalem gaan groet, en toe Antiogië toe vertrek. Na hy ’n tyd lank in Antiogië gebly het, het hy weer vertrek. Hy het deur die landstreke Galasië en Frigië gereis, en oral die gelowiges geestelik versterk. Intussen het Apollos, ’n Jood wat in Aleksandrië gebore is, in Efese aangekom. Hy was ’n begaafde spreker en goed met skrifuitleg. Hy het in “Die Pad van die Here” onderrig ontvang en het met brandende geesdrif gepraat en ander noukeurig geleer van Jesus. Hy het egter net die doop van Johannes geken. Hy het self met vrymoedigheid in die sinagoge begin preek. Toe Priscilla en Akwila hom hoor, het hulle hom eenkant gevat en vir hom “Die Pad van God” nog duideliker uiteengesit. Toe Apollos na Agaje toe wou gaan, het die gelowiges hom aangemoedig. Hulle het vir die gelowiges in Agaje geskryf dat hulle hom moet ontvang. Daar aangekom, het hy baie beteken vir dié wat deur die genade van God gelowig geword het, want hy het die Jode in die openbaar kragtig weerlê en met die Skrif bewys dat Jesus die Messias is.