HANDELINGE 10:1-23

HANDELINGE 10:1-23 NLV

In Sesarea was daar ’n Romeinse weermagoffisier met die naam Kornelius, ’n offisier oor honderd man van die Italiaanse Regiment. Hy het toegewy aan die God van Israel geleef en het ontsag vir Hom gehad, hy en sy hele huishouding. Hy het baie bydraes vir die armes onder die Joodse volk gegee en hy het deurentyd tot God gebid. Een middag teen drie-uur het hy in ’n gesig duidelik ’n engel van God na hom toe sien kom wat vir hom sê: “Kornelius!” Kornelius het hom aangestaar en bang geword en gevra: “Wat is dit, Meneer?” Die engel het hom geantwoord: “Jou gebede en wat jy vir die armes doen, het God opgeval! Stuur daarom nou dadelik mans na Joppe toe en laat daar ’n sekere Simon haal. Sy noemnaam is Petrus. Hy is ’n gas by ’n ander Simon, ’n leerlooier. Sy huis is by die see.” Toe die engel wat met hom gepraat het, vertrek, het Kornelius twee van sy huiswerkers en een van sy lyfwagte, self ’n soldaat wat aan God toegewy geleef het, geroep. Hy het hulle alles vertel en hulle Joppe toe gestuur. Die volgende dag, toe Kornelius se afvaardiging al naby die dorp was, het Petrus dakstoep toe gegaan om te bid. Dit was teen twaalfuur die middag, en hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle die ete klaarmaak, het hy in geestesvervoering geraak. Hy het die hemel oop gesien en iets soos ’n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word en afkom grond toe. In die doek was allerhande diere, reptiele en voëls. ’n Stem sê toe vir hom: “Staan op, Petrus! Slag en eet!” “Nooit nie, Here!” het Petrus gesê. “Ek het nog nooit iets wat onrein is, geëet nie.” Toe kom die stem weer: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onrein ag nie.” Dit het drie keer gebeur. Toe is die doek weer in die hemel opgetrek. Petrus was verdwaas. Wat kon die gesig tog beteken? Juis op daardie stadium kry die mans wat deur Kornelius gestuur is, die huis en hulle staan by die voordeur. Hulle was op soek na die huis van Simon en vra toe of Simon met die noemnaam Petrus daar ’n gas is. Terwyl Petrus nog wonder oor die gesig, het die Gees vir hom gesê: “Hier is drie mans wat jou soek. Gaan ondertoe en moenie huiwer om saam met hulle te gaan nie, want Ék het hulle gestuur.” Petrus het toe ondertoe gegaan en vir die mans gesê: “Hier is ek, dis vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” Hulle het geantwoord: “Kornelius, ’n Romeinse offisier oor honderd man, het ons gestuur. Hy is ’n opregte man en een wat ontsag vir God het, en die hele Joodse volk het hoë agting vir hom. ’n Heilige engel het hom opdrag gegee om u na sy huis te laat haal en dat hy moet luister na wat u te sê het.” Petrus nooi hulle toe vir die nag in. Die volgende dag het hy saam met hulle vertrek, en ’n paar van die medegelowiges in Joppe het saam met hom gegaan.