Gedurende Dawid se bewind was daar ’n hongersnood wat drie jaar lank geduur het. Toe het Dawid die HERE daaroor geraadpleeg. Die HERE het geantwoord: “Daar rus ’n bloedskuld op Saul en sy familie omdat hy van die Gibeoniete doodgemaak het.” Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was nie Israeliete nie, maar ’n oorblyfsel van die Amoriete. Israel het voorheen met ’n eed belowe dat hulle nie die Gibeoniete sou uitroei nie. Tog het Saul in sy geesdrif vir Israel en Juda hulle probeer uitwis. Dawid vra toe vir hulle: “Wat kan ek vir julle doen? Waarmee kan ek julle vergoed? Sê my sodat julle tot seën kan wees vir die erfdeel van die HERE.” “Wel,” antwoord die Gibeoniete, “dit gaan nie om silwer of goud nie. Ons wil ook nie hê dat een Israeliet doodgemaak word nie.” “Sê my net wat wil julle hê,” sê Dawid, “en ek sal dit vir julle doen.” Hulle het geantwoord: “Dit gaan om die man wat ons wou uitwis en beplan het dat ons geen plek binne die grondgebied van Israel sou hê nie. Sewe mans uit sy familie moet aan ons uitgelewer word sodat ons hulle voor die HERE in Gibea van Saul, die een wat die HERE uitgekies het, kan teregstel.” “Dis goed so,” sê die koning. “Ek sal dit doen.” Dawid het Mefiboset seun van Jonatan en kleinseun van Saul se lewe gespaar op grond van die eed wat hy en Saul se seun Jonatan voor die HERE afgelê het. Hy het egter Saul se twee seuns Armoni en Mefiboset uitgelewer. Hulle ma was Rispa, die dogter van Aja. Hy het ook die vyf seuns van Saul se dogter Merab, die vrou van Adriël, die seun van Barsillai die Megolatiet uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle op die berg voor die HERE tereggestel het. Die sewe is almal saam doodgemaak. Dit was aan die begin van die garsoes. Maar Rispa, dogter van Aja, het rouklere gevat en op ’n rots oopgegooi. Sy het gedurende die hele garsoestyd daar gebly totdat die eerste reën geval het. Sy het nie toegelaat dat roofvoëls bedags of roofdiere snags aan haar seuns se lyke vreet nie. Toe Dawid hoor wat Aja se dogter Rispa, byvrou van Saul, doen, het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan by die inwoners van Jabes in Gilead laat haal. Saul en Jonatan het destyds in die geveg op Gilboa teen die Filistyne omgekom. Die Filistyne het die liggame op die stadsplein van die Filistynse stad Bet-San opgehang, maar die inwoners van Jabes in Gilead het hulle liggame daar gaan steel. Dawid het hierdie bene van Saul en Jonatan laat haal. Hy het dit saam met die bene van die manne wat die Gibeoniete tereggestel het op die dorp Sela in Benjamin, in die grafkelder van Saul se pa, Kis, laat begrawe. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. Daarna het God die gebede vir die land verhoor.
Lees 2 SAMUEL 21
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 SAMUEL 21:1-14
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's