2 SAMUEL 21:1-14

2 SAMUEL 21:1-14 Bybel vir almal (ABA)

In die tyd toe Dawid koning was, was daar een maal drie jaar lank hongersnood in die land. Dawid het vir die Here gevra hoekom dit so is, en die Here het gesê dit is omdat Saul mense laat vermoor het toe hy die mense van die stad Gibeon almal wou doodmaak. Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie, hulle was Amoriete. Die Israeliete het vir hulle belowe dat hulle kan aanhou lewe. Maar Saul het probeer om hulle almal dood te maak. Hy het gedink hy doen goed vir Israel en Juda. Koning Dawid het die mense van Gibeon geroep en hy het vir hulle gevra: “Wat kan ek vir julle doen? Hoe kan ek julle help sodat julle weer sal wil hê dat dit goed moet gaan met die volk van die Here?” Die mense van Gibeon het vir die koning gesê: “Ons wil nie silwer of goud hê van Saul en sy familie nie. En ons mag nie iemand van die volk Israel doodmaak nie.” Die koning het vir hulle gevra: “Sê vir my, wat moet ek vir julle doen?” Hulle het vir die koning gesê: “Daar was 'n man wat ons mense doodgemaak het en wat ons almal wou doodmaak sodat ons nie meer 'n plek sal hê in die hele Israel nie. Ons vra sewe manne van sy nageslag. Ons wil hulle ophang by die tempel in die stad Gibea-van-Saul, die stad van die man vir wie die Here gekies het.” Die koning het gesê: “Goed, ek sal die sewe manne gee.” Die koning het nie vir Mefiboset seun van Jonatan gegee nie, want Dawid en Jonatan het voorheen 'n ooreenkoms gemaak, en die Here was die getuie. Maar Dawid het die twee seuns van Saul en Rispa dogter van Aja gevat, en ook vyf seuns van Mikal dogter van Saul. Dit was haar en Adriël seun van Barsillai van Megola se vyf seuns. Dawid het die seuns vir die mense van Gibeon gegee, en die mense van Gibeon het hulle opgehang op die berg by die tempel. Die sewe manne het saam gesterf. Dit het gebeur in die tyd toe die mense begin het om die gars af te sny. Rispa dogter van Aja het rouklere geneem en sy het dit oopgegooi oor 'n rots. Sy het daar gebly vandat hulle begin het om die gars af te sny totdat dit begin reën het. Sy het gekeer sodat die voëls nie in die dag by hulle liggame kon kom nie, en ook nie die wilde diere in die nag nie. Dawid het gehoor wat Rispa dogter van Aja gedoen het. Rispa was 'n byvrou van Saul. Dawid het toe die bene van Saul en Jonatan laat haal. Die leiers van die stad Jabes-Gilead het die bene gaan steel op die oop stuk grond in die stad Bet-San. Die Filistyne het Saul en Jonatan se liggame daar opgehang nadat hulle vir Saul op Gilboa-berg oorwin het. Dawid het die bene van Saul en Jonatan laat bring en hy het ook die bene van die manne wat hulle opgehang het, laat bymekaarmaak. Dawid het dit laat begrawe in die land Benjamin, in die graf van Kis, Saul se pa. Die graf was in 'n rots. Nadat die koning dit alles laat doen het, het God weer geluister na die gebede vir die land.

2 SAMUEL 21:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe daar in die dae van Dawid 'n hongersnood was, drie jaar lank, jaar ná jaar, het Dawid die aangesig van die HERE gesoek; en die HERE het gesê: Vanweë Saul en vanweë sy huis waarop bloedskuld rus, omdat hy die Gibeoniete omgebring het. Toe roep die koning die Gibeoniete en sê vir hulle — die Gibeoniete het naamlik nie behoort tot die kinders van Israel nie, maar by 'n oorblyfsel van die Amoriete; en hoewel die kinders van Israel vir hulle gesweer het, het Saul probeer om hulle om te bring in sy ywer vir die kinders van Israel en Juda — Dawid dan het aan die Gibeoniete gesê: Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, dat julle die erfdeel van die HERE kan seën? Daarop sê die Gibeoniete vir hom: Dit is ons teenoor Saul en sy huis nie te doen om silwer en goud nie, en dit gaan vir ons nie daarom om iemand in Israel dood te maak nie. En hy vra: Wat dink julle dan moet ek vir julle doen? En hulle sê vir die koning: Die man wat ons vernietig het en planne teen ons beraam het om ons te verdelg sonder dat ons in enige grondgebied van Israel kan voortbestaan — laat sewe manne van sy seuns aan ons gegee word, dat ons hulle voor die HERE kan ophang in Gíbea van Saul, die uitverkorene van die HERE! En die koning het gesê: Ek sal hulle gee. Maar die koning het Mefibóset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, verskoon vanweë die eed by die HERE wat tussen hulle was, tussen Dawid en Jónatan, die seun van Saul. Toe neem die koning die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, wat sy vir Saul gebaar het, Armóni en Mefibóset, en die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy vir Ádriël, die seun van Barsíllai, die Meholatiet, gebaar het; en hy het hulle oorgegee in die hand van die Gibeoniete, wat hulle opgehang het op die berg voor die aangesig van die HERE, sodat al sewe tesame omgekom het; en hulle is gedood in die eerste dae van die oes, in die begin van die gars-oes. En Rispa, die dogter van Aja, het 'n sak geneem en dit vir haar oopgespan op die rots, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemel op hulle gegiet het, en sy het die voëls van die hemel oordag nie toegelaat om op hulle te gaan sit nie, en ook nie die diere van die veld in die nag nie. Toe aan Dawid meegedeel is wat Rispa, die dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het, het Dawid gegaan en die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan van die burgers van Jabes in Gílead gaan haal, wat dit van die plein van Bet-San gesteel het, waar die Filistyne hulle opgehang het op die dag toe die Filistyne Saul op Gilbóa verslaan het. En hy het die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan daarvandaan weggebring. Hulle het ook die bene van die wat opgehang is, versamel, en die bene van Saul en van sy seun Jónatan in die land Benjamin, in Sela, in die graf van sy vader Kis begrawe; en hulle het alles gedoen volgens die bevel van die koning. En daarna het God Hom oor die land ontferm.

2 SAMUEL 21:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

In Dawid se tyd was daar 'n keer hongersnood wat drie jaar aanmekaar geduur het. Dawid het toe die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Dit is te wyte aan Saul en sy moordenaarshuis, want hy het van die Gibeoniete laat doodmaak.” Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was natuurlik nie Israeliete nie, maar 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het 'n verdrag met hulle gesluit gehad, maar later het Saul hulle probeer uitroei in sy geesdrif vir die saak van Israel en Juda. Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek julle vergoed sodat die land van die Here weer sy oeste kan lewer?” Die Gibeoniete het hierop geantwoord: “Ons verwag nie silwer of goud van Saul en sy familie nie en ook nie dat iemand in Israel doodgemaak moet word nie.” Dawid vra toe: “Wat wil julle dan hê moet ek vir julle doen?” Hulle antwoord die koning: “Daar was 'n man wat ons wou uitroei en wat beplan het om ons te verdelg sodat ons nie in die grondgebied van Israel kon voortbestaan nie. Daar moet nou sewe mans uit sy familie aan ons gegee word, sodat ons hulle kan doodmaak en voor die Here kan ophang by Gibea van Saul, die man wat deur die Here uitgekies was.” Dawid het geantwoord: “Goed, ek sal dit doen.” Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan seun van Saul, gespaar vanweë die verbond wat in die Naam van die Here tussen Dawid en Saul se seun Jonatan bestaan het. Maar die koning het vir Armoni en Mefiboset, die twee seuns wat Rispa dogter van Aja by Saul gehad het, gevat asook die vyf seuns van Saul se dogter Merab wat sy gehad het by Adriël seun van Barsillai die Megolatiet. Hy het hulle almal uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle doodgemaak en voor die Here op die berg opgehang het. Die sewetal het saam omgekom. Hulle is gedood teen die tyd dat daar gewoonlik begin word met die garsoes. Rispa dogter van Aja het toe rouklere gevat en dit vir haar op 'n rots oopgegooi. Van die begin van die oestyd af totdat die reëntyd aangebreek het, het sy bedags die roofvoëls en snags die roofdiere nie aan die lyke laat vreet nie. Toe daar aan Dawid meegedeel is wat Aja se dogter Rispa, 'n byvrou van Saul, gedoen het, het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan laat haal by die burgers van Jabes in Gilead. Hulle het dit destyds op die stadsplein van Bet-San gaan steel waar die Filistyne dit opgehang het toe Saul op Gilboa verslaan is. Hy het Saul en sy seun Jonatan se bene daarvandaan laat bring en ook dié van die manne wat op die berg opgehang is en almal by Sela in Benjamin laat begrawe in die graf van Kis, Saul se pa. Alles is gedoen net soos die koning beveel het. Daarna het God weer gebede vir die land verhoor.

2 SAMUEL 21:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die tyd van Dawid was daar drie agtereenvolgende jare lank hongersnood. Dawid het die teenwoordigheid van die HERE opgesoek, en die HERE het gesê: “Dit is oor Saul, oor sy huis van bloedskuld, omdat hy die Gibeoniete doodgemaak het.” Toe ontbied die koning die Gibeoniete en praat met hulle. Die Gibeoniete was nie deel van die Israeliete nie, maar was deel van 'n oorblyfsel van die Amoriete. Die Israeliete het vir hulle 'n eed afgelê, maar Saul het in sy ywer vir die Israeliete en Juda probeer om hulle uit te wis. Dawid het vir die Gibeoniete gesê: “Wat moet ek vir julle doen, en waarmee moet ek versoening doen, sodat julle die eiendom van die HERE kan seën?” Die Gibeoniete het vir hom gesê: “Dit gaan nie vir ons oor silwer en goud as dit by Saul en sy familie kom nie; dit gaan nie vir ons daaroor om iemand in Israel dood te maak nie.” Toe vra hy: “Wat sê julle dan moet ek vir julle doen?” Hulle het vir die koning gesê: “Die man wat ons vernietig het, wat planne teen ons beraam het, sodat ons uitgewis is sonder enige bestaansreg in die hele gebied van Israel, laat daar sewe manne uit sy nageslag aan ons gegee word – dan sal ons hulle voor die HERE aan pale hang in Gibea van Saul, die uitverkorene van die HERE. ” Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.” Die koning het Mefiboset, seun van Jonatan, seun van Saul, gespaar oor die eed voor die HERE tussen hulle, tussen Dawid en Jonatan, seun van Saul. Die koning het Armoni en Mefiboset geneem – die twee seuns van Rispa, dogter van Aja, wat sy vir Saul in die wêreld gebring het – asook die vyf seuns van Merab, die dogter van Saul, wat sy in die wêreld gebring het vir Adriël, seun van Barsillai, die man uit Megola. Hy het hulle aan die Gibeoniete oorhandig en dié het hulle voor die HERE aan pale gehang op die berg. Die sewe het saam beswyk. Hulle is om die lewe gebring gedurende die eerste dae van die oes, aan die begin van die garsoes. Rispa, dogter van Aja, het 'n roukleed geneem en dit vir haar op die rots oopgesprei, van die begin van die oes af totdat daar water uit die hemelruim op hulle neergestort het. Sy het nie die voëls van die hemel toegelaat om bedags op die lyke toe te sak nie, en ook nie die wilde diere snags nie. Toe daar aan Dawid vertel is wat Rispa, dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het, het hy wat Dawid is, gegaan en die beendere van Saul en sy seun Jonatan gaan haal by die burgers van Jabes in Gilead, wat dit in die geheim verwyder het van die plein in Bet-San, waar die Filistyne hulle opgehang het die dag toe die Filistyne Saul op Gilboa verslaan het. Dawid het die beendere van Saul en Jonatan daarvandaan opgeneem. Hulle het ook die beendere van dié wat aan pale gehang is, bymekaargemaak. Hulle het toe die beendere van Saul en sy seun Jonatan neergelê in die graf van Kis, Saul se vader, in die gebied van Benjamin, in Sela. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. God het die smeekbedes vir die land daarna verhoor.

2 SAMUEL 21:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe was daar hongersnood in die dae van Dawid, drie jaar, jaar na jaar; en Dawid het die HERE geraadpleeg. En die HERE antwoord: Dit is vir Saul en vir sy bloedige huis, omdat hy die Gibeoniete gedood het. En die koning het die Gibeoniete geroep en vir hulle gesê: (en die Gibeoniete was nie uit die kinders van Israel nie, maar uit die oorblyfsel van die Amoriete; en die kinders van Israel het vir hulle gesweer; en Saul het probeer om hulle dood te maak in sy ywer vir die kinders van Israel en Juda.) Daarom sê Dawid vir die Gibeoniete: Wat moet ek vir julle doen? en waarmee sal ek versoening doen, dat julle die erfdeel van die HERE kan seën? Toe sê die Gibeoniete vir hom: Ons sal geen silwer of goud van Saul en van sy huis hê nie; en vir ons mag jy geen man in Israel doodmaak nie. En hy sê: Wat julle sal sê, dit sal Ek vir julle doen. En hulle het die koning geantwoord: Die man wat ons verteer het en wat teen ons uitgedink het dat ons verdelg sou word om in enige van die gebiede van Israel te bly, Laat sewe manne van sy seuns aan ons oorgegee word, en ons sal hulle aan die HERE ophang in Gíbea van Saul, wat die HERE uitgekies het. En die koning sê: Ek sal hulle gee. Maar die koning het Mefiboset, die seun van Jónatan, die seun van Saul, gespaar vanweë die eed van die HERE wat tussen hulle was, tussen Dawid en Jónatan, die seun van Saul. Maar die koning het die twee seuns van Rispa, die dogter van Aja, geneem wat sy vir Saul gebaar het, Armoni en Mefiboset; en die vyf seuns van Migal, die dogter van Saul, wat sy grootgemaak het vir Adriël, die seun van Barsillai, die Meholatiet; En hy het hulle in die hand van die Gibeoniete oorgegee, en hulle het hulle op die heuwel voor die aangesig van die HERE opgehang; en hulle het al sewe saam geval en gedood in die dae van die oes, in die eerste dae, in die begin van die gars oes. En Rispa, die dogter van Aja, het rouklere geneem en dit vir haar op die rots uitgesprei, van die begin van die oes af totdat water uit die hemel op hulle geval het, en die voëls van die hemel nie toegelaat het om bedags op hulle te rus nie, en ook die diere van die veld in die nag. En daar is aan Dawid meegedeel wat Rispa, die dogter van Aja, die byvrou van Saul, gedoen het. Dawid het toe gegaan en die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan geneem van die manne van Jabes in Gílead, wat hulle gesteel het van die straat van Betsan, waar die Filistyne hulle opgehang het, toe die Filistyne Saul in Gilboa verslaan het. En hy het die bene van Saul en die bene van sy seun Jónatan daarvandaan opgebring; en hulle het die bene van die wat opgehang is, bymekaargemaak. En die gebeente van Saul en sy seun Jónatan het hulle begrawe in die land Benjamin in Sela, in die graf van sy vader Kis; en hulle het alles uitgevoer wat die koning beveel het. En daarna is God vir die land gebid.

2 SAMUEL 21:1-14 Die Boodskap (DB)

Daar was op ’n keer in Dawid se tyd baie min kos in die land. Dit het vir drie jaar aangehou omdat dit nie gereën het nie. Dawid het toe vir die Here gaan vra wat verkeerd is. Die Here se antwoord was: “Saul het mense van Gibeon laat doodmaak, en sy familie moet eers daarvoor betaal.” (Die mense van Gibeon was nie Israeliete nie. Hulle voorouers was Amoriete. Die Israeliete het belowe hulle sal hulle nie doodmaak nie, maar Saul het probeer om hulle uit te roei omdat hy gedink het dit sal beter wees vir die mense van Israel en Juda.) Dawid het die mense van Gibeon laat roep en vir hulle gevra: “Wat moet ek vir julle doen en hoe moet ek die saak regstel sodat dit weer goed kan gaan met die Here se land?” Die mense van Gibeon het gesê: “Ons wil nie Saul of sy familie se geld hê nie. Aan die ander kant mag ons seker nie vra dat van die Israeliete doodgemaak word nie, of hoe?” “Ek sal doen wat julle vir my vra,” sê Dawid. Hulle sê toe vir die koning: “Daardie man wou ons uitroei; hy het ’n plan gehad om ons só by te kom dat ons nêrens in die land ’n plekkie sou hê nie. Daarom moet sewe van sy kinders of kleinkinders vir ons gegee word sodat ons hulle kan ophang om die Here tevrede te stel. Ons wil hulle in Gibea ophang, die dorp waar Saul gewoon het, die man vir wie die Here eers gekies het.” Die koning het gesê: “Ek sal hulle gee.” Die koning het nie Mefiboset, Jonatan se seun en Saul se kleinseun, vir hulle gegee nie, want hy en Jonatan het dit mos voor die Here vir mekaar belowe. Die koning het toe Rispa se twee seuns gegee. Hulle name was Armoni en Mefiboset. (Rispa was een van Saul se vroue; haar ma was Aja.) Hy het ook die vyf seuns van Merab, Saul se dogter wat met Adriël getroud was, gegee. (Adriël was Barsillai van Megola se seun.) Hy het hulle vir die mense van Gibeon gegee. Die mense van Gibeon het hierdie sewe mans almal gelyk doodgemaak en hulle op die berg by die Here se altaar opgehang. Dit het gebeur aan die begin van die oestyd, net toe die mense begin gars oes het. Rispa, Aja se dogter, het ’n swart bokhaarkombers gevat en vir haar ’n skuiling op die klipplaat gemaak. Daar het sy gesit en bedags die aasvoëls en snags die jakkalse van die lyke af weggehou. Sy het by die lyke waggehou vandat die oes begin het totdat dit op die lyke gereën het. Die mense het vir Dawid gaan vertel wat Rispa, Saul se haremvrou, gedoen het. Hy het toe Saul en sy seun Jonatan se bene laat haal by die mense van Jabes in Gilead. (Die mense van Jabes het hulle lyke mos een nag gaan afhaal van die binnekant van die muur van Bet-San af waar die Filistyne hulle opgehang het nadat hulle vir Saul op Gilboaberg doodgemaak het.) Dawid het Saul en Jonatan se bene en die bene van die mans wat by Gibeon opgehang is, in Benjamin, in Kis se graf by Sela laat begrawe. Nadat die mense alles presies gedoen het soos die koning vir hulle gesê het, het God weer die land jammer gekry en die mense se gebede geantwoord.

2 SAMUEL 21:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gedurende Dawid se bewind was daar ’n hongersnood wat drie jaar lank geduur het. Toe het Dawid die HERE daaroor geraadpleeg. Die HERE het geantwoord: “Daar rus ’n bloedskuld op Saul en sy familie omdat hy van die Gibeoniete doodgemaak het.” Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was nie Israeliete nie, maar ’n oorblyfsel van die Amoriete. Israel het voorheen met ’n eed belowe dat hulle nie die Gibeoniete sou uitroei nie. Tog het Saul in sy geesdrif vir Israel en Juda hulle probeer uitwis. Dawid vra toe vir hulle: “Wat kan ek vir julle doen? Waarmee kan ek julle vergoed? Sê my sodat julle tot seën kan wees vir die erfdeel van die HERE.” “Wel,” antwoord die Gibeoniete, “dit gaan nie om silwer of goud nie. Ons wil ook nie hê dat een Israeliet doodgemaak word nie.” “Sê my net wat wil julle hê,” sê Dawid, “en ek sal dit vir julle doen.” Hulle het geantwoord: “Dit gaan om die man wat ons wou uitwis en beplan het dat ons geen plek binne die grondgebied van Israel sou hê nie. Sewe mans uit sy familie moet aan ons uitgelewer word sodat ons hulle voor die HERE in Gibea van Saul, die een wat die HERE uitgekies het, kan teregstel.” “Dis goed so,” sê die koning. “Ek sal dit doen.” Dawid het Mefiboset seun van Jonatan en kleinseun van Saul se lewe gespaar op grond van die eed wat hy en Saul se seun Jonatan voor die HERE afgelê het. Hy het egter Saul se twee seuns Armoni en Mefiboset uitgelewer. Hulle ma was Rispa, die dogter van Aja. Hy het ook die vyf seuns van Saul se dogter Merab, die vrou van Adriël, die seun van Barsillai die Megolatiet uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle op die berg voor die HERE tereggestel het. Die sewe is almal saam doodgemaak. Dit was aan die begin van die garsoes. Maar Rispa, dogter van Aja, het rouklere gevat en op ’n rots oopgegooi. Sy het gedurende die hele garsoestyd daar gebly totdat die eerste reën geval het. Sy het nie toegelaat dat roofvoëls bedags of roofdiere snags aan haar seuns se lyke vreet nie. Toe Dawid hoor wat Aja se dogter Rispa, byvrou van Saul, doen, het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan by die inwoners van Jabes in Gilead laat haal. Saul en Jonatan het destyds in die geveg op Gilboa teen die Filistyne omgekom. Die Filistyne het die liggame op die stadsplein van die Filistynse stad Bet-San opgehang, maar die inwoners van Jabes in Gilead het hulle liggame daar gaan steel. Dawid het hierdie bene van Saul en Jonatan laat haal. Hy het dit saam met die bene van die manne wat die Gibeoniete tereggestel het op die dorp Sela in Benjamin, in die grafkelder van Saul se pa, Kis, laat begrawe. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. Daarna het God die gebede vir die land verhoor.