2 KORINTIËRS 6:1-10

2 KORINTIËRS 6:1-10 NLV

As julle medewerkers smeek ons julle om toe te sien dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Want Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou verhoor, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” Inderdaad – dit is nóú die regte tyd; dit is nóú die dag van verlossing. Ons gee niemand enige aanstoot nie, met die bedoeling dat ons bediening nie geblameer moet word nie. In elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God deur aanhoudend te volhard: in swaarkry, in nood, in benoudheid. Onder katshoue, in tronke, in oproere, in uitputtende arbeid, in slapelose nagte, in hongersnood het ons opgetree met integriteit, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid, deur betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die boodskap van die waarheid en in die krag van God. Ons tree op met die wapens van geregtigheid in ons regter- en linkerhand, in eer en oneer, in veragting en aanprysing; soos verleiers, en tog is ons opreg; soos onbekendes, en tog is ons goed bekend; soos mense wat sterwend is, en kyk, ons lewe; as gegéseldes, en tog is ons nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd blymoedig; soos bedelaars, maar ons verryk baie mense; soos mense wat niks besit nie, en tog besit ons alles.

Video vir 2 KORINTIËRS 6:1-10