2 KORINTIËRS 6:1-10
2 KORINTIËRS 6:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As medewerkers van God doen ons 'n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! Want Hy sê: “Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing! Ons gee in geen opsig enige aanstoot aan iemand nie, sodat daar nie met die bediening foutgevind kan word nie. Maar in alles beveel ons onsself aan as dienaars van God, met groot uithouvermoë: in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede; geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger; met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde; met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van •geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand; te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is; as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Paulus, en die ander mense wat saam met my werk, werk saam met God. Daarom vra ons mooi vir julle: Onthou dat God genadig is vir julle, moenie dink dat dit nie belangrik is nie. Want God het gesê: “ Toe die tyd reg was vir My, het Ek gehoor hoe jy bid. Ja, toe die dag gekom het, die dag toe Ek jou wou red, het Ek jou gehelp.” Julle moet weet dit is nóú die regte tyd, dit is nóú die dag wanneer God julle wil red. Ons wil nie hê dat iemand slegte dinge moet dink van ons nie, sodat niemand sleg sal praat oor die werk wat ons vir God doen nie. Julle kan glo dat ons altyd dienaars van God is. Ons hou aan om vir God te werk wanneer ons swaarkry, wanneer ons bang is, wanneer ons probleme het, wanneer mense ons slaan, wanneer ons in die tronk is, wanneer mense vir ons probleme gee, wanneer ons hard moet werk, wanneer ons nie kan slaap nie, wanneer ons honger is. Ons hou aan om hierdie werk te doen omdat ons eerlik is, omdat ons weet hoe om reg te lewe, omdat ons geduldig is, omdat ons goed wil wees vir mense, omdat die Heilige Gees by ons is, omdat ons regtig lief is vir mense. Ons hou aan om die werk te doen terwyl ons die waarheid praat oor Jesus, en terwyl God ons help met sy krag. Ons doen wat God wil hê, dit is die wapens waarmee ons veg. Ons gebruik hierdie wapens wanneer ons aanval en wanneer ons verdedig. Ons hou aan om die werk te doen wanneer mense goeie dinge oor ons sê en wanneer mense slegte dinge oor ons sê, ons hou aan wanneer hulle dink ons is nie belangrik nie en wanneer hulle dink ons is baie belangrik. Mense sê ons vertel leuens, maar ons praat die waarheid. Party mense wil nie glo dat ons apostels is nie, maar party mense glo dat ons apostels is. Mense doen baie slegte dinge aan ons, ons sterf amper, maar ons lewe nog. Mense hou aan om ons te straf, maar hulle kan ons nie doodmaak nie. Dit lyk of ons altyd huil, maar ons is bly. Ons lyk soos mense wat arm is, maar ons maak baie mense ryk by God. Ons lyk soos mense wat niks het nie, maar ons het alles.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN as medewerkers vermaan ons julle ook dat julle die genade van God nie tevergeefs mag ontvang nie. Want Hy sê: In die tyd van die welbehae het Ek jou verhoor, en in die dag van heil het Ek jou gehelp. Kyk, nou is dit die tyd van die welbehae; kyk, nou is die dag van heil. Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly; in reinheid, in kennis, in lankmoedigheid, in vriendelikheid, in die Heilige Gees, in ongeveinsde liefde; in die woord van waarheid, in die krag van God, deur die wapens van die geregtigheid in die regter- en linkerhand; deur eer en oneer, deur slegte en goeie gerug, as verleiers en tog waaragtig; as onbekendes en tog goed bekend, as sterwendes en kyk, ons lewe, as getugtig en tog nie gedood nie; as bedroefdes, maar altyd opgeruimd; as armes, maar wat baie ander ryk maak; as mense wat niks het nie en tog alles besit.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
As medewerkers van God doen ons 'n beroep op julle om te sorg dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou gebede verhoor, en op die dag van redding het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding. Ons wil nie hê dat daar met ons bediening fout gevind word nie. Daarom gee ons ook niemand aanleiding tot aanstoot nie, maar in alles laat ons ons ken as dienaars van God. Dit doen ons met baie geduld in verdrukking, ontbering en nood. Ons is geslaan, in die tronk gegooi en het in oproere beland; ons het swaar gewerk, nagte sonder slaap deurgemaak en honger gely. Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen. Ons ontvang eer en oneer, ons word beledig en geprys. Ons word behandel as verleiers, en tog is ons betroubaar; as onbekendes, en tog is ons goed bekend; as sterwendes en, soos julle sien, ons lewe; as gestraf, maar ons is nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd opgeruimd; as armes, maar ons maak baie ander ryk; as mense wat niks het nie, en tog besit ons alles.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
As medewerkers van God doen ons 'n ernstige beroep op julle om nie die genade van God tevergeefs te ontvang nie! Want Hy sê: “Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” Kyk, nou is die gunstige tyd, kyk, nou is die dag van verlossing! Ons gee in geen opsig enige aanstoot aan iemand nie, sodat daar nie met die bediening foutgevind kan word nie. Maar in alles beveel ons onsself aan as dienaars van God, met groot uithouvermoë: in verdrukkings, in ontberings, in benoudhede; geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger; met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde; met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van •geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand; te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is; as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ons smeek julle dan, as medewerkers saam met Hom, dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang nie. (Want Hy sê: Ek het jou verhoor in 'n tyd wat welgevallig is, en op die dag van verlossing het Ek jou ondersteun; kyk, nou is die tyd van welbehae; kyk, nou is die dag van redding.) Moenie in enige ding aanstoot gee nie, sodat die bediening nie verwyt word nie; Maar ons moet ons in alles goedkeur as dienaars van God, in baie geduld, in verdrukkinge, in noodsaaklikhede, in benoudhede, In slae, in gevangenisse, in rumoer, in arbeid, in waak, in vas; Deur reinheid, deur kennis, deur lankmoedigheid, deur vriendelikheid, deur die Heilige Gees, deur ongeveinsde liefde, Deur die woord van die waarheid, deur die krag van God, deur die wapenrusting van geregtigheid, regs en links, Deur eer en oneer, deur slegte gerug en goeie gerug: soos bedrieërs en tog waaragtig; As onbekend, en tog welbekend; as sterwendes, en kyk, ons lewe; as getugtig en nie gedood nie; As bedroefdes, maar altyd bly; as arm, maar maak baie ryk; as wat niks het nie, en tog alles besit.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Die Boodskap (DB)
As God se medewerker en verteenwoordiger hier op aarde wil ek nou ’n ernstige versoek tot julle rig: moet asseblief nie die genade wat God aan julle bewys, ignoreer nie. Hoor net wat sê Hy in die Bybel: “Op presies die regte oomblik het Ek jou hulpkreet gehoor. Daardie dag toe jy My bitter nodig gehad het, het Ek jou gehelp.” Wel, dit is nou weer sulke tyd. God se tyd van redding is hier. Vandag is die dag! Moenie hierdie geleentheid deur julle vingers laat glip nie. Wat my eie werk betref: ek wil nie hê dat ander mense beswaar moet hê teen wat ek doen nie. Ek doen my bes om te keer dat so iets gebeur. Daarom vertel ek julle graag waaroor my werk en dié van my helpers presies gaan. Ons getuigskrif is dat ons in alle omstandighede op ons pos bly as God se diensknegte. Kyk net watter moeilike omstandighede moes ons al ter wille van ons geloof verduur: Ons lewens was al dikwels in gevaar. Ons is ook vervolg. Boonop moes ons groot krisisse in die gesig staar. Ons is geslaan en in tronke gestop. Mense het betogings teen ons gehou omdat ons vir hulle die goeie nuus gebring het. Ons moes hard werk om aan die lewe te bly. Baie nagte was ons sonder slaap en ons moes dikwels sonder kos klaarkom. Tog leef ons rein en opreg. Ons het die regte kennis oor God. Ons is geduldig en ons straal warmte en vriendelikheid uit. Die krag van die Heilige Gees is ook deur ons werksaam. Ons het ander mense regtig lief, sonder dat ons enigiets in ruil van hulle terugverwag. Ons praat altyd die waarheid. Boonop tree ons op in die groot krag wat van God af kom. Ons is tot die tande toe bewapen vir ons taak. En ons wapens? Ja, natuurlik: die goeie nuus dat God sondaars vryspreek wat ons in staat stel om reg te leef. Met hierdie wapens in ons hande durf ons die wêreld aan. Ons weet hoe dit voel om deur ander geëer én beledig te word. Ons naam is al dikwels deur die modder gesleep. Ander kere weer is ons geprys en oorlaai met eer. Ons is ook al dikwels beskuldig dat ons leuens vertel. Tog praat ons net die waarheid. Baie mense maak asof hulle ons glad nie ken nie. Maar gelukkig ken God ons. Mense het ons al ’n hele paar keer vir dood afgeskryf. Maar kyk: ons lewe nog. Ons is aangerand en geslaan. Tog is ons nog hier. Ons ken hartseer, maar ons is altyd vol vreugde. En armoede - ja, natuurlik weet ons ook wat dit is. Maar ons het al baie mense se lewe skatryk gemaak met die goeie nuus. Ons is regtig brandarm. Nie een van ons het ’n sent op ons naam nie, tog is ons skatryk. Ons werk immers vir God aan wie alles behoort en wat ons oorlaai met sy goedheid.
2 KORINTIËRS 6:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
As julle medewerkers smeek ons julle om toe te sien dat julle die genade van God nie tevergeefs ontvang het nie. Want Hy sê: “Op die regte tyd het Ek jou verhoor, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” Inderdaad – dit is nóú die regte tyd; dit is nóú die dag van verlossing. Ons gee niemand enige aanstoot nie, met die bedoeling dat ons bediening nie geblameer moet word nie. In elke opsig laat ons ons ken as diensknegte van God deur aanhoudend te volhard: in swaarkry, in nood, in benoudheid. Onder katshoue, in tronke, in oproere, in uitputtende arbeid, in slapelose nagte, in hongersnood het ons opgetree met integriteit, met begrip, met verdraagsaamheid en vriendelikheid, deur betoning van die teenwoordigheid van die Heilige Gees, deur opregte liefde, deur die boodskap van die waarheid en in die krag van God. Ons tree op met die wapens van geregtigheid in ons regter- en linkerhand, in eer en oneer, in veragting en aanprysing; soos verleiers, en tog is ons opreg; soos onbekendes, en tog is ons goed bekend; soos mense wat sterwend is, en kyk, ons lewe; as gegéseldes, en tog is ons nie doodgemaak nie; as bedroefdes, en tog is ons altyd blymoedig; soos bedelaars, maar ons verryk baie mense; soos mense wat niks besit nie, en tog besit ons alles.