2 KORINTIËRS 5:14-20

2 KORINTIËRS 5:14-20 NLV

Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het. Hy hét vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie meer vir hulself moet leef nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ’n menslike maatstaf nie. Al het ons Christus ook vroeër volgens ’n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom. Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!