2 KORINTIËRS 5:14-20
2 KORINTIËRS 5:14-20 Bybel vir almal (ABA)
Ons bring hierdie boodskap oor Christus omdat Christus lief is vir ons. Ons móét hierdie boodskap bring. Almal moes gesterf het, maar een Mens het gesterf. Hy het dit vir almal gedoen, en daarom het hulle almal gesterf. Ja, Christus het vir almal gesterf. Daarom moet die mense wat nou 'n nuwe lewe het, nie meer lewe vir hulleself nie. Nee, hulle moet lewe vir Christus, want Christus het vir hulle gesterf, en God het Hom weer laat lewe. Christus het dit gedoen vir die mense wat nou 'n nuwe lewe het. Daarom, van nou af dink ons nie meer soos ongelowiges oor mense nie. Ons het miskien voorheen oor Christus gedink soos mense wat ongelowig is, maar nou doen ons dit nie meer nie. As iemand aan Christus behoort, dan het God daardie persoon 'n nuwe mens gemaak. Die persoon se ou lewe is verby, ja, hy het 'n nuwe lewe gekry. Dit is God wat al hierdie dinge gedoen het. Hy het ons met Hom versoen omdat ons aan Christus behoort. God het vir ons die werk gegee om mense met Hom te versoen. Dit beteken dat God die wêreld met Hom versoen het omdat mense aan Christus behoort. Hy het die sonde wat mense gedoen het, nie gestraf nie. En Hy het vir ons gesê ons moet vir mense vertel dat God so vir hulle versoening gedoen het. Ons werk nou vir Christus omdat God ons gekies het. God gebruik ons om vir julle te preek. Daarom vra ons vir julle mooi maar ernstig, nee, dit is Christus wat dit vra: Julle moet aanvaar dat God versoening gedoen het vir julle.
2 KORINTIËRS 5:14-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die liefde van Christus dring ons, omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou. Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.
2 KORINTIËRS 5:14-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het. En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is. Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie. Al het ons Christus vroeër volgens menslike maatstaf beoordeel, nou beoordeel ons Hom nie meer so nie. Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou. Ons tree dus op as gesante van Christus, en dit is God wat deur ons 'n beroep op julle doen. Ons smeek julle namens Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!
2 KORINTIËRS 5:14-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die liefde van •Christus dryf ons, omdat ons tot dié insig gekom het dat, indien Een vir almal gesterf het, almal dan gesterf het; en Hy het ter wille van almal gesterf, sodat dié wat leef, nie meer vir hulleself sal leef nie, maar vir Hom wat ter wille van hulle gesterf het en opgewek is. Gevolglik ken ons van nou af niemand meer na sy uiterlike nie. Selfs al het ons Christus eens na die uiterlike leer ken, ken ons Hom nou nie meer so nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. En dit alles kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen het, en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Dit bestaan daarin dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle nie hulle oortredings toe te reken nie; en Hy het aan ons die boodskap van versoening toevertrou. Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons 'n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!
2 KORINTIËRS 5:14-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die liefde van Christus dwing ons; want so oordeel ons dat as een vir almal gesterf het, dan was almal dood. En dat Hy vir almal gesterf het, sodat die wat lewe, nie meer vir hulleself sou lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgestaan het. Daarom ken ons van nou af niemand na die vlees nie; ja, al het ons Christus na die vlees geken, ken ons Hom tog nou nie meer nie. Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepsel: die ou dinge het verbygegaan; kyk, alles het nuut geword. En alles is van God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en aan ons die bediening van die versoening gegee het; Dit wil sê dat God in Christus was wat die wêreld met Homself versoen het en hulle hulle oortredinge nie toereken nie; en die woord van versoening aan ons toevertrou. Nou dan is ons gesante van Christus, asof God julle deur ons smeek; ons bid julle in Christus se plek, laat julle met God versoen.
2 KORINTIËRS 5:14-20 Die Boodskap (DB)
Ek weet dat Christus se liefde ons almal aanvuur. Ons weet dat een Man ter wille van ons almal gesterf het. Daarom is ons almal nou ook dood. Ons is bevry van die mag van die sonde en die dood. Ons behoort nou net aan Christus. Daarom mag ons nie langer vir onsself leef nie. Nee, ons moet nou leef tot eer van Hom wat in ons plek doodgegaan het en deur God lewendig gemaak is. Noudat ek op ’n nuwe manier leef, dink ek ook op ’n nuwe manier oor ander mense en oor Christus. Vroeër, toe ek nog nie ’n Christen was nie, het ek heeltemal verkeerd oor Christus gedink. Toe het ek glad nie in Hom geglo nie. Maar nou dink ek op die regte manier oor Hom. Nou weet ek dat wanneer iemand aan Christus behoort, hy ’n splinternuwe mens is; ’n nuwe skepping in die kleine. Al die ou sondige dinge is dan iets van die verlede. Dan is die nuwe lewe hier! Dit alles is God se werk. Hy het die vyandskap tussen ons en Hom uit die pad gevat toe Christus aan die kruis dood is. God het my nou in sy diens geneem om vir mense te vertel van sy versoening. Deur Christus se sterwe het God vrede tussen Hom en die wêreld kom maak omdat Hy nie langer mense se sondes teen hulle hou nie. Dit is die goeie nuus wat ek nou oral bekendmaak. Ek is Christus se ambassadeur hier op aarde. Ek verteenwoordig Hom op elke plek waar ek kom. God praat deur my met julle almal. Ek smeek julle in die Naam van Christus, laat toe dat God die vyandskap tussen Hom en julle wegvat. Aanvaar hierdie versoening as ’n geskenk uit sy hand.
2 KORINTIËRS 5:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die liefde van Christus dring ons. Omdat ons geoordeel het dat Een vir almal gesterf het, glo ons dat ons almal ons ou, sondige lewe afgesterf het. Hy hét vir almal gesterf sodat dié wat lewe, nie meer vir hulself moet leef nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is. Van nou af beoordeel ons niemand meer volgens ’n menslike maatstaf nie. Al het ons Christus ook vroeër volgens ’n menslike maatstaf beoordeel, oordeel ons nou heeltemal anders oor Hom. Daarom – iemand wat aan Christus verbind is, is ’n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier! Hierdie hele nuwe werklikheid kom van God af, wat ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening gegee het. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie. Hierdie boodskap van die versoening het Hy aan ons opgedra om te gaan verkondig. Ons tree op as ambassadeurs vir Christus terwyl God deur ons ’n appèl aan julle rig. Ons smeek julle ter wille van Christus: Kom tot versoening met God!