2 KRONIEKE 8:11-18

2 KRONIEKE 8:11-18 NLV

Salomo het sy vrou, die dogter van die farao, uit die Dawidstad laat verhuis na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou kan nie in koning Dawid van Israel se paleis woon nie, want dit is heilige grond omdat die ark van die HERE daar gestaan het.” Toe het Salomo brandoffers vir die HERE gebring op die altaar van die HERE wat hy in die voorportaal van die ingang na die tempel toe gebou het. Die offerandes het van dag tot dag gewissel volgens die opdragte wat Moses gegee het. Offers is gewy op die Sabbatte, by nuwemaan en die drie jaarlikse feeste, naamlik die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Huttefees. Hy het die priesters se take bepaal volgens die voorskrifte van sy pa Dawid. Hy het ook die Leviete beveel om volgens voorskrifte die volk te lei in die lofprysings. Hulle moes ook die priesters bystaan in hulle daaglikse pligte. Hy het ook die poortwagters volgens hulle afdelings aangestel soos Dawid, die man van God, beveel het. Salomo het in geen opsig afgewyk van Dawid se voorskrifte aangaande die priesters, die Leviete en dié in bevel van die voorraadkamers nie. So het Salomo verseker dat al die werk in verband met die tempel van die HERE uitgevoer is vanaf die dag toe die fondamente van die tempel van die HERE gelê is totdat dit voltooi is. Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, hawestede aan die kus van Edom, gegaan. Hiram het vir hom skepe, beman deur sy eie ervare seemanne, gestuur. Hulle het saam met Salomo se manskappe na die land Ofir gevaar. Hulle het byna vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo daarvandaan teruggebring.