2 KRONIEKE 8:11-18
2 KRONIEKE 8:11-18 Bybel vir almal (ABA)
Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad gebring na die huis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “'n Vrou van my mag nie woon in die paleis van koning Dawid van Israel nie, want die plekke is gewyd waar die kis van die Here gekom het.” Daarna het Salomo brand-offers vir die Here gebring op die altaar van die Here. Salomo het die altaar voor die voorportaal van die tempel laat bou. Hy het ge-offer soos dit elke dag nodig was, en soos Moses gesê het. Hy het ge-offer op die Sabbatdae, op die Nuwemaan-feeste, en op die drie groot feeste wat hulle elke jaar gevier het: die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Hutte-fees. Salomo het groepe priesters gekies en aangestel vir hulle werk en hy het Leviete aangestel om die Here te prys en die priesters te help. Hy het gedoen soos sy pa Dawid gesê het. Hy het ook poortwagte aangestel om elke dag by al die poorte te werk, want so het Dawid, die man van God, gesê. Hulle het alles gedoen wat die koning gesê het oor die priesters en die Leviete en oor die stoorkamers. So het Salomo alles gedoen van die dag toe hy die fondamente van die tempel gebou het totdat hy die tempel heeltemal klaar gebou het. Daarna het Salomo na die stad Esjon-Geber en na die stad Elot gegaan. Dit was by die strand langs die see in die land Edom. Hiram het party van sy amptenare na Salomo toe gestuur en hulle het skepe gebring en mense wat die see ken. Hulle het saam met Salomo se mense na die land Ofir gegaan en hulle het 450 talente goud vir koning Salomo gebring.
2 KRONIEKE 8:11-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Salomo het die dogter van Farao uit die stad van Dawid gebring na die huis wat hy vir haar gebou het; want hy het gesê: Geen vrou van my mag woon in die huis van Dawid, die koning van Israel, nie; want dit is heilig, omdat die ark van die HERE daarin gekom het. Toe het Salomo brandoffers aan die HERE gebring op die altaar van die HERE wat hy voor die voorportaal gebou het. Daarop moes hulle na die eis van elke dag offer volgens die gebod van Moses, op die sabbatte en op die nuwemane en op die feestye, drie maal in die jaar — op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees. Ook het hy volgens die voorskrif van sy vader Dawid vir die afdelings van die priesters hulle dienswerk vasgestel; en vir die Leviete hulle ampspligte, om God te prys en te dien voor die priesters na die eis van elke dag; en vir die poortwagters volgens hulle afdelings vir elke poort; want so was die gebod van Dawid, die man van God. En hulle het in geen enkele opsig afgewyk van die gebod van die koning oor die priesters en die Leviete en ten opsigte van die skatkamers nie. So het dan al die werk van Salomo tot stand gekom van die dag af dat die huis van die HERE gegrondves is tot sy voltooiing toe: die huis van die HERE was voltooi. Toe het Salomo na Éseon-Geber getrek en na Elot, aan die seekus in die land Edom. En Huram het aan hom deur sy dienaars skepe gestuur en dienaars wat die see ken; en hulle het saam met Salomo se dienaars in Ofir aangekom, en daarvandaan vierhonderd-en- vyftig talente goud gaan haal en na koning Salomo gebring.
2 KRONIEKE 8:11-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad laat trek na die paleis toe wat hy vir haar gebou het, “want,” het hy gesê, “'n vrou van my kan nie in die paleis van koning Dawid van Israel woon nie; dit is 'n heiligdom, want die ark van die Here het daar gestaan.” Salomo het brandoffers vir die Here gebring op die altaar van die Here wat hy reg voor die voorportaal gebou het. Die offers is gebring soos dit van dag tot dag moes gebeur volgens die voorskrif van Moses: op die sabbatte, die nuwemaansfeeste en die feestye drie maal per jaar, naamlik die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. Salomo het, volgens die orde wat sy vader Dawid vasgestel het, vir die priesterafdeling hulle dienste bepaal en vir die Leviete hulle diensbeurte met die oog op die lofsang en die bystand aan die priesters soos dit van dag tot dag nodig was; so ook vir die afdelings poortwagte by elke poort. Dit is immers hoe Dawid, die man van God, dit voorgeskryf het. Hulle het ook nie afgewyk van die koninklike voorskrif vir die priesters en die Leviete ten opsigte van alles in verband met die voorraadkamers nie. So is al Salomo se werk afgehandel, van die dag af dat die fondamente van die huis van die Here gelê is totdat Salomo die tempel voltooi het. Daarna is Salomo na Esjon-Geber en na Elat toe, aan die see by Edom. Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne onder bevel van hulle eie offisiere. Hulle het met die manne van Salomo saamgegaan na Ofir toe en daar sowat vyftien en 'n half ton goud vir koning Salomo gaan haal.
2 KRONIEKE 8:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die dogter van die farao is deur Salomo uit die •Stad van Dawid opgeneem na die paleis wat hy vir haar gebou het, want hy het gesê: “'n Vrou van my mag nie in die paleis van Dawid, die koning van Israel, woon nie, want die plekke waar die ark van die HERE gekom het, is heilig.” Daarna het Salomo op die altaar van die HERE wat hy voor die portaal gebou het, aan die HERE •brandoffers gebring volgens die vereiste van elke dag, dit wat, ooreenkomstig die bevel van Moses, geoffer moes word op die Sabbatte, tydens die nuwemaansfeeste en die vaste feestye – drie keer per jaar by die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Huttefees. Hy het toe, volgens die voorskrif van sy vader Dawid, die afdelings van die priesters laat aantree vir hulle dienswerk, en die Leviete vir hulle verpligtinge om in die teenwoordigheid van die priesters lof te bring en om te dien volgens die vereiste van elke dag. Hy het ook die poortwagte in hulle afdelings laat aantree by elke poort, want dit was die opdrag van Dawid, die man van God. Hulle het nie afgewyk van die koning se opdrag aan die priesters en die Leviete oor enige saak of oor die skatkamers nie. So is al die werk van Salomo uitgevoer, van die dag af dat die fondament van die huis van die HERE gelê is tot by die voltooiing daarvan. Die huis van die HERE was volledig afgerond. Daarna het Salomo na Es-jon-Geber en na Elat, aan die seekus in die gebied van Edom gegaan. Huram het aan hom skepe onder bevel van sy dienaars beskikbaar gestel, asook dienaars wat die see geken het, en hulle het saam met Salomo se dienaars na Ofir gevaar. Hulle het van daar af vierhonderd-en-vyftig kikkar goud gebring en dit na koning Salomo geneem.
2 KRONIEKE 8:11-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Salomo het die dogter van Farao uit die stad van Dawid opgebring na die huis wat hy vir haar gebou het; want hy het gesê: My vrou mag nie in die huis van Dawid, die koning van Israel, woon nie, want die plekke is heilig waarvoor die ark van die HERE het gekom. Toe het Salomo brandoffers aan die HERE gebring op die altaar van die HERE wat hy voor die voorportaal gebou het, Selfs volgens 'n sekere tarief elke dag, offer volgens die bevel van Moses, op die sabbatte en op die nuwemane en op die feeste, drie maal in die jaar, op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van weke, en in die huttefees. En hy het volgens die bevel van sy vader Dawid die afdelings van die priesters vir hulle diens aangestel, en die Leviete vir hulle amptenare, om voor die priesters te loof en te dien soos die diens van elke dag vereis word: ook die poortwagters volgens hulle diens bane by elke poort, want so het Dawid, die man van God, beveel. En hulle het nie afgewyk van die bevel van die koning aan die priesters en Leviete oor enige saak of oor die skatte nie. En al die werk van Salomo was gereed tot op die dag van die grondlegging van die huis van die HERE, en totdat dit voltooi was. So het die huis van die HERE volmaak geword. Toe het Salomo na Esiongeber en na Elot gegaan, aan die seekant in die land Edom. En Huram het vir hom deur die hand van sy dienaars skepe gestuur en dienaars wat kennis van die see gehad het; en hulle het saam met die dienaars van Salomo na Ofir gegaan en daarvandaan vier honderd en vyftig talente goud geneem en dit na koning Salomo gebring.
2 KRONIEKE 8:11-18 Die Boodskap (DB)
Salomo het sy vrou, wat ’n dogter van die farao was, uit die Stad van Dawid verskuif na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou moet nie in koning Dawid se paleis woon nie, want die ark van die Here was daar en daarom is dit heilig.” Daarna het Salomo offers vir die Here verbrand op die altaar van die Here wat hy net buite die pilaargang voor die tempel gebou het. Die offers het van dag tot dag gewissel, volgens die opdragte van Moses. Daar was ekstra offers op die sabbatte, op nuwemaansfeeste en by die drie jaarlikse feeste. Die drie was die fees van die ongesuurde brode, die fees van die weke en die huttefees. Hy het ook volgens die voorskrifte van Dawid die priesters se diensbeurte per afdeling gereël. Dit is ook vir die Leviete gedoen vir hulle beurte by die lofsang, hulle hulp aan die priesters soos dit daagliks nodig was en hulle diensbeurte as wagte by elke poort van die stad. Dit was ’n opdrag van Dawid, die man van God. Salomo het glad nie afgewyk van Dawid se voorskrifte oor die priesters, die Leviete of die skatkamers nie. Dit is hoe Salomo verseker het dat alle werk ten opsigte van die tempel van die Here voltooi is: van die dag toe die fondasies gelê is tot op die dag toe alles voltooi is. Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, albei hawens in Edom, aan die kus van die Rooisee, gegaan. Hiram het vir hom skepe gestuur, met ervare bemanning onder bevel van hulle eie offisiere uit Tirus. Hulle is saam met Salomo se mense Ofir toe om ’n vrag van omtrent vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo te gaan haal.
2 KRONIEKE 8:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Salomo het sy vrou, die dogter van die farao, uit die Dawidstad laat verhuis na die nuwe paleis wat hy vir haar gebou het. Hy het gesê: “My vrou kan nie in koning Dawid van Israel se paleis woon nie, want dit is heilige grond omdat die ark van die HERE daar gestaan het.” Toe het Salomo brandoffers vir die HERE gebring op die altaar van die HERE wat hy in die voorportaal van die ingang na die tempel toe gebou het. Die offerandes het van dag tot dag gewissel volgens die opdragte wat Moses gegee het. Offers is gewy op die Sabbatte, by nuwemaan en die drie jaarlikse feeste, naamlik die Fees van die Ongesuurde Brood, die Fees van die Weke en die Huttefees. Hy het die priesters se take bepaal volgens die voorskrifte van sy pa Dawid. Hy het ook die Leviete beveel om volgens voorskrifte die volk te lei in die lofprysings. Hulle moes ook die priesters bystaan in hulle daaglikse pligte. Hy het ook die poortwagters volgens hulle afdelings aangestel soos Dawid, die man van God, beveel het. Salomo het in geen opsig afgewyk van Dawid se voorskrifte aangaande die priesters, die Leviete en dié in bevel van die voorraadkamers nie. So het Salomo verseker dat al die werk in verband met die tempel van die HERE uitgevoer is vanaf die dag toe die fondamente van die tempel van die HERE gelê is totdat dit voltooi is. Later het Salomo na Esjon-Geber en Elat, hawestede aan die kus van Edom, gegaan. Hiram het vir hom skepe, beman deur sy eie ervare seemanne, gestuur. Hulle het saam met Salomo se manskappe na die land Ofir gevaar. Hulle het byna vyftien en ’n half ton goud vir koning Salomo daarvandaan teruggebring.