2 KRONIEKE 7:11-22

2 KRONIEKE 7:11-22 NLV

So het Salomo die tempel van die HERE, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel. Een nag het die HERE aan Salomo verskyn en gesê: “Ek het jou gebed verhoor en het hierdie tempel vir Myself gekies as die plek waar daar offers vir My gebring moet word. Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur. Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak. Ek sal ’n oog hou oor hierdie plek en luister na elke gebed wat hier opgestuur word, want Ek het hierdie tempel gekies en dit afgesonder om vir altyd my woning te wees. My oë en my hart sal altyd daar wees. “Wat jou betref: As jy My volg soos jou pa Dawid, doen wat Ek beveel het en al my voorskrifte, gebooie en bepalings gehoorsaam, sal Ek toesien dat niemand jou koninklike troon wegneem nie. Dit is dieselfde belofte wat Ek vir jou pa Dawid gegee het toe Ek gesê het: ‘Jy sal nooit sonder ’n opvolger wees wat oor Israel regeer nie.’ “Maar as julle My verlaat en ongehoorsaam is aan my gebooie en die voorskrifte wat Ek vir julle gegee het, en as julle ander gode dien en hulle aanbid, dan sal Ek die volk Israel ontwortel uit hierdie land van My wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel verwerp wat Ek afgesonder het om my Naam te eer. Ek sal dit tot bespotting en minagting onder die volke maak. En hoewel hierdie tempel nou indrukwekkend is, sal almal wat verbykom, verskrik wees. Hulle sal vra: ‘Hoekom het die HERE sulke verskriklike dinge aan hierdie land en hierdie tempel gedoen?’ En die antwoord sal wees: ‘Omdat sy volk die HERE, die God van hulle voorouers wat hulle uit Egipte gebring het, laat vaar het en eerder ander gode aangehang, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dit is waarom Hy al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”

Video vir 2 KRONIEKE 7:11-22

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 KRONIEKE 7:11-22