2 KRONIEKE 7:11-22

2 KRONIEKE 7:11-22 Bybel vir almal (ABA)

So het Salomo die tempel en die paleis klaar gebou. Hy het alles goed gedoen wat hy in die tempel en in sy huis wou doen. Die Here het in die nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: “Ek het gehoor wat jy gebid het, en Ek het vir My hierdie plek gekies om 'n tempel te wees waar die mense vir My kan offer. Ek sal miskien die hemel toesluit en dit sal nie reën nie, of Ek sal vir die sprinkane sê hulle moet al die koring in die land opvreet, of Ek sal pes na my volk toe stuur. As my volk wat my Naam dra, hulleself verneder en hulle bid en hulle kom na My toe en hulle hou op om sleg te lewe, dan sal Ek in die hemel hoor en Ek sal hulle sonde vergewe. Ek sal hulle land laat word soos dit voorheen was. Nou sal Ek sorg vir hierdie plek en Ek sal luister wanneer iemand hier bid. Ek het nou hierdie plek gekies en Ek het dit gewy sodat dit altyd aan My sal behoort. Ek sal altyd sorg vir die plek en daaraan dink. En jy, Salomo, as jy lewe voor My soos jou pa Dawid gelewe het, en jy doen alles wat Ek vir jou sê, as jy doen wat Ek wil hê en wat Ek besluit, dan sal Ek jou en jou nageslag altyd laat regeer. Ek het dit vir jou pa Dawid belowe. Ek het vir hom gesê: ‘Iemand uit jou nageslag sal altyd oor die volk Israel regeer.’ Maar as julle ophou om My te dien en julle doen nie meer wat Ek wil hê nie, as julle nie gehoorsaam is aan die gebooie wat Ek vir julle gegee het nie en julle gaan dien ander gode en julle buig voor hulle, dan sal Ek julle wegjaag uit die land wat Ek vir julle gegee het. Ek sal hierdie tempel voor My wegvee, die tempel wat Ek gewy het en waar Ek altyd wil woon. Ander volke sal daaroor praat en spot. Ja, hierdie tempel wat nou so hoog is, sal elkeen laat skrik wat hier verbykom. Hy sal vra: ‘Hoekom het die Here dit gedoen? Hoekom het Hy hierdie land en hierdie tempel so gestraf?’ Dan sal die mense sê: ‘Dit het gebeur omdat die Israeliete die Here gelos het, die God van hulle voorvaders, die God wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het ander gode gekies en voor hulle gebuig en hulle gedien. Dit is hoekom die Here al hierdie slegte dinge met hulle laat gebeur het.’ ”

2 KRONIEKE 7:11-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi het, en alles wat in Salomo se hart gekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, voorspoedig uitgevoer het, verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as 'n offerhuis verkies. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie huis verkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees. En wat jou betref, as jy wandel voor my aangesig soos jou vader Dawid gewandel het, deur naamlik te doen net soos Ek jou beveel het, en my insettinge en my verordeninge onderhou, dan sal Ek die troon van jou koningskap bevestig, soos Ek dit jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit 'n man ontbreek wat in Israel sal heers nie. Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan 'n spreekwoord en 'n spotlied maak onder al die volke. En hierdie huis wat so hoog was — elkeen wat daarlangs verbygaan, sal verstom staan en vra: Waarom het die HERE so gedoen met hierdie land en met hierdie huis? Dan sal hulle sê: Omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, verlaat het wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en ander gode aangehang en voor hulle neergebuig en hulle gedien het, daarom het Hy al hierdie onheil oor hulle gebring.

2 KRONIEKE 7:11-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

So het Salomo dan die huis van die Here en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel. Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word. As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel. Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. En nou kies Ek en heilig Ek hierdie tempel sodat my Naam altyd daar sal wees, en dit altyd my sorg en my liefde sal geniet. “En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie. “Maar as julle wegdraai en my voorskrifte en my gebooie wat Ek julle gegee het, verontagsaam en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, sal Ek julle wegdryf uit my land wat Ek julle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal daarvan 'n spot en 'n skimp maak onder al die volke. Ja, hoe verhewe hierdie tempel ook al was vir elke verbyganger, die verbyganger sal dan sy asem intrek en sê: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ En die mense sal sê: Omdat daardie volk vergeet het van die Here die God van hulle voorvaders, wat hulle uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het Hy al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.”

2 KRONIEKE 7:11-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

So het Salomo die huis van die HERE en die koninklike paleis voltooi. Alles wat Salomo hom voorgeneem het om in die huis van die HERE, en in sy paleis te doen, het hy suksesvol uitgevoer. Toe verskyn die HERE in die nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My gekies as 'n tempel vir offers. As Ek die hemelruim sluit, sodat daar geen reën is nie, of as Ek die koringkrieke opdrag gee om die land kaal te vreet, of as Ek 'n pessiekte onder my volk loslaat, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid, en my teenwoordigheid opsoek en terugdraai van hulle verkeerde paaie, sal Ek self uit die hemel hulle hoor. Ek sal hulle sonde vergewe en hulle land genees. My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees. En jy, as jy voor My leef soos jou vader Dawid geleef het, deur op te tree volgens alles wat Ek jou beveel, en my vaste voorskrifte en beslissings, as jy dit nakom, sal Ek jou koninklike troon laat standhou, volgens die verbintenis wat Ek met jou vader Dawid aangegaan het deur te sê, ‘Daar sal vir jou nooit iemand ontbreek wat in Israel heers nie.’ “As julle egter van My af wegdraai, en my vaste voorskrifte en gebooie wat Ek aan julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal Ek julle uitpluk uit my grond wat Ek aan julle gegee het, en hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek uit my teenwoordigheid verwerp. Ek sal dit tot 'n spreuk en 'n spotnaam maak by al die volke. Hierdie tempel wat so verhewe was – elkeen wat daar verbygaan, sal verslae wees en vra, ‘Waarom het die HERE so iets gedoen aan hierdie land en aan hierdie tempel?’ Dan sal hulle antwoord, ‘Omdat hulle die HERE, die God van hulle voorouers, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, verlaat en ander gode aangehang het, in aanbidding voor hulle gebuig en hulle gedien het – dit is waarom Hy al hierdie onheil oor hulle gebring het.’ ”

2 KRONIEKE 7:11-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

So het Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi, en alles wat in die hart van Salomo opgekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, het hy voorspoedig gedoen. En die HERE het in die nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My as 'n offerhuis uitverkies. As Ek die hemel toesluit dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkane beveel om die land te verslind, of as Ek pes onder my volk stuur; As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë; dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees. Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed wat in hierdie plek gedoen word. Want nou het Ek hierdie huis uitverkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees. En wat jou betref, as jy voor my aangesig wandel soos jou vader Dawid gewandel het, en doen volgens alles wat ek jou beveel het, en my insettinge en my verordeninge onderhou; Dan sal Ek die troon van jou koninkryk bevestig soos Ek met jou vader Dawid 'n verbond gesluit het deur te sê: Daar sal vir jou geen man ontbreek om heerser in Israel te wees nie. Maar as julle afwyk en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en hulle neerbuig; Dan sal Ek hulle met wortels uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het; en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig weggooi en dit 'n spreekwoord en 'n spot onder al die nasies maak. En hierdie huis wat hoog is, sal 'n verbasing wees vir elkeen wat daarby verbygaan; sodat hy kan sê: Waarom het die HERE so met hierdie land en met hierdie huis gedoen? En daar sal geantwoord word: Omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, verlaat het, en ander gode gegryp en hulle voor hulle neergebuig en hulle gedien het; daarom het Hy al hierdie onheil oorgebring op hulle.

2 KRONIEKE 7:11-22 Die Boodskap (DB)

Salomo het die tempel en sy eie paleis klaar gebou. Hy het ook alles voltooi wat hy graag aan die tempel wou doen. Toe het die Here een nag aan hom verskyn en gesê: “Ek het jou gebed gehoor en hierdie tempel gekies as die plek waar julle vir My moet offer. Daar kan tye kom dat Ek ’n droogte stuur, of sprinkane om die oeste op te vreet, of siekte-epidemies onder die mense. As dit gebeur en my volk verneder hulleself en hulle soek na my wil, en as hulle ophou met hulle verkeerde optrede, sal Ek hulle vergewe. Dan sal Ek hulle land gesond maak. Ek sal luister na elke gebed wat hiervandaan gebid word, want Ek het nou hierdie tempel gekies. Dit sal altyd my huis wees. Ek sal altyd self hier wees. “Nou wat jou betref: as jy optree soos jou pa, Dawid, gedoen het, en as jy my wette en voorskrifte en reëls gehoorsaam, sal Ek sorg dat niemand jou posisie as koning aantas nie. Ek herhaal die belofte wat Ek aan jou pa, Dawid, gemaak het nou ook aan jou: daar sal altyd iemand uit die nageslag van Dawid wees om op die troon van Israel te sit. “Maar as jy My verlaat en my wette en voorskrifte vergeet en ander gode begin dien, sal Ek my volk uitroei uit hierdie land wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal die tempel wat Ek vir Myself as woonplek gekies het, verwerp. Dit sal iets word waaroor die volke sal spot. Die tempel wat nou so pragtig is, sal dan ’n ruïne wees en almal wat daar verbyloop, sal vra: ‘Wat het hier gebeur? Waarom het die Here dit aan sy land en sy tempel gedoen?’ Dan sal die antwoord wees: ‘Hulle het mos die Here, die God van hulle voorouers, verlaat. Dit is Hy wat hulle uit Egipte laat kom het, maar hulle het ander gode vereer. Dít is waarom Hy al die rampe oor hulle gebring het.’”

2 KRONIEKE 7:11-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

So het Salomo die tempel van die HERE, asook die koninklike paleis, voltooi. Hy het alles wat hy beplan het om te doen, suksesvol afgehandel. Een nag het die HERE aan Salomo verskyn en gesê: “Ek het jou gebed verhoor en het hierdie tempel vir Myself gekies as die plek waar daar offers vir My gebring moet word. Soms sal Ek die hemele toesluit sodat daar geen reën val nie, of Ek kan bepaal dat sprinkane julle oeste opvreet, of Ek kan dalk plae onder julle stuur. Wanneer die volk wat my Naam dra, hulle verootmoedig en bid, en My weer soek en hulle afkeer van hulle bose lewens, sal Ek in die hemel hoor en hulle sondes vergewe en hulle land gesond maak. Ek sal ’n oog hou oor hierdie plek en luister na elke gebed wat hier opgestuur word, want Ek het hierdie tempel gekies en dit afgesonder om vir altyd my woning te wees. My oë en my hart sal altyd daar wees. “Wat jou betref: As jy My volg soos jou pa Dawid, doen wat Ek beveel het en al my voorskrifte, gebooie en bepalings gehoorsaam, sal Ek toesien dat niemand jou koninklike troon wegneem nie. Dit is dieselfde belofte wat Ek vir jou pa Dawid gegee het toe Ek gesê het: ‘Jy sal nooit sonder ’n opvolger wees wat oor Israel regeer nie.’ “Maar as julle My verlaat en ongehoorsaam is aan my gebooie en die voorskrifte wat Ek vir julle gegee het, en as julle ander gode dien en hulle aanbid, dan sal Ek die volk Israel ontwortel uit hierdie land van My wat Ek vir hulle gegee het. Ek sal hierdie tempel verwerp wat Ek afgesonder het om my Naam te eer. Ek sal dit tot bespotting en minagting onder die volke maak. En hoewel hierdie tempel nou indrukwekkend is, sal almal wat verbykom, verskrik wees. Hulle sal vra: ‘Hoekom het die HERE sulke verskriklike dinge aan hierdie land en hierdie tempel gedoen?’ En die antwoord sal wees: ‘Omdat sy volk die HERE, die God van hulle voorouers wat hulle uit Egipte gebring het, laat vaar het en eerder ander gode aangehang, voor hulle gebuig en hulle gedien het. Dit is waarom Hy al hierdie rampe oor hulle gebring het.’”