2 Kronieke 2 Kronieke 7

2 Kronieke 7
Die heerlikeheid van die HERE daal neer op die tempel
1En toe Salomo klaar gebid het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer; en die heerlikheid van die HERE het die huis vervul.
2En die priesters kon nie in die huis van die HERE ingaan nie, omdat die heerlikheid van die HERE die huis van die HERE vervul het.
3En toe al die kinders van Israel sien hoe die vuur neerdaal en die heerlikheid van die HERE op die huis, het hulle met hul aangesig na die grond gebuig op die plaveisel, en aanbid en die HERE geprys en gesê: Want Hy is goed; want sy goedertierenheid is tot in ewigheid.
4Toe het die koning en die hele volk offers voor die aangesig van die HERE gebring.
5En koning Salomo het 'n offer van twee-en-twintigduisend beeste en honderd-en-twintigduisend stuks kleinvee gebring; so het die koning en die hele volk die huis van God ingewy.
6En die priesters het op hulle ampte gewag: die Leviete ook met die musiekinstrumente van die HERE wat koning Dawid gemaak het om die HERE te loof, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid toe Dawid deur hulle diens geprys het; en die priesters het voor hulle op die trompette geblaas, en die hele Israel het gaan staan.
7Verder het Salomo die middel van die voorhof wat voor die huis van die HERE was, geheilig; want daar het hy brandoffers en die vet van die dankoffers gebring, omdat die koperaltaar wat Salomo gemaak het nie die brandoffers kon ontvang nie, en die spysoffers en die vet.
8En Salomo het in dieselfde tyd die fees sewe dae lank gehou, en die hele Israel saam met hom, 'n baie groot vergadering, van die ingang van Hamat af tot by die rivier van Egipte.
9En op die agtste dag het hulle 'n feestyd gehou, want hulle het die inwyding van die altaar sewe dae lank gehou en die fees sewe dae lank.
10En op die drie-en-twintigste dag van die sewende maand het hy die volk in hul tente laat weggaan, bly en vrolik van hart oor die goedheid wat die HERE aan Dawid en aan Salomo en aan sy volk Israel bewys het.
11So het Salomo die huis van die HERE en die huis van die koning voltooi, en alles wat in die hart van Salomo opgekom het om in die huis van die HERE en in sy huis te maak, het hy voorspoedig gedoen.
12En die HERE het in die nag aan Salomo verskyn en vir hom gesê: Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My as 'n offerhuis uitverkies.
13As Ek die hemel toesluit dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkane beveel om die land te verslind, of as Ek pes onder my volk stuur;
14As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hulle verkeerde weë; dan sal Ek uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.
15Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed wat in hierdie plek gedoen word.
16Want nou het Ek hierdie huis uitverkies en geheilig, dat my Naam daar kan wees tot in ewigheid, en my oë en my hart sal altyd daar wees.
17En wat jou betref, as jy voor my aangesig wandel soos jou vader Dawid gewandel het, en doen volgens alles wat ek jou beveel het, en my insettinge en my verordeninge onderhou;
18Dan sal Ek die troon van jou koninkryk bevestig soos Ek met jou vader Dawid 'n verbond gesluit het deur te sê: Daar sal vir jou geen man ontbreek om heerser in Israel te wees nie.
19Maar as julle afwyk en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en hulle neerbuig;
20Dan sal Ek hulle met wortels uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het; en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig weggooi en dit 'n spreekwoord en 'n spot onder al die nasies maak.
21En hierdie huis wat hoog is, sal 'n verbasing wees vir elkeen wat daarby verbygaan; sodat hy kan sê: Waarom het die HERE so met hierdie land en met hierdie huis gedoen?
22En daar sal geantwoord word: Omdat hulle die HERE, die God van hulle vaders, wat hulle uit Egipteland uitgelei het, verlaat het, en ander gode gegryp en hulle voor hulle neergebuig en hulle gedien het; daarom het Hy al hierdie onheil oorgebring op hulle.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid