1 SAMUEL 2:1-11

1 SAMUEL 2:1-11 NLV

Toe het Hanna gebid: “My hart is bly in die HERE! Kyk hoe het die HERE my geseën! Nou kan ek my vyande antwoord terwyl ek my verbly oor u verlossing. Niemand is heilig soos die HERE nie! Niemand is u gelyke nie; daar is geen Rots soos ons God nie. “Hou op om so hoogmoedig en trots te wees! Moenie met sulke verwaandheid praat nie! Die HERE is ’n God wat weet van al jou dade; Hy sal jou oordeel volgens wat jy gedoen het. Hulle wat magtig was, is dit nie meer nie; en hulle wat swak was, is nou sterk. Hulle wat goed geëet het, ly nou honger; en hulle wat honger was, is nou versadig. Die kinderlose vrou het nou sewe kinders, maar die vrou met baie kinders kwyn weg. Die HERE laat doodgaan en laat lewe; Hy bring sommige na die graf, maar wek ander weer op. Die HERE maak een arm en die ander ryk; Hy trek een af en lig ’n ander op. Hy verhef die minderwaardige uit die stof, die behoeftige uit die ashoop! Hy behandel hulle soos prinse en laat hulle op ereplekke sit. “Die onwankelbaarheid van die aarde kom van die HERE. Daarop het Hy die wêreld gebou. Hy beskerm die getroues op hulle lewenspad, maar die goddeloses word in die graf stilgemaak. Dis nie deur eie krag dat ’n mens oorwin nie. Hulle wat die HERE weerstaan, sal vernietig word. Uit die hemel sal Hy sy donderende stem teen hulle laat hoor. Die HERE oordeel oor die hele aarde. Hy gee sterkte aan sy koning; en Hy gee krag aan sy gesalfde.” Daarna het Elkana en Hanna sonder Samuel teruggegaan na Rama toe. Die seun het die HERE onder toesig van die priester Eli gedien.