“Roep vir Batseba!” sê Dawid. Sy het ingekom en voor die koning gaan staan. Die koning lê toe ’n eed af: “So seker as wat die HERE leef wat my uit elke gevaar gered het, soos ek tevore met ’n eed voor die HERE, die God van Israel, vir jou belowe het, bevestig ek dit vandag dat jou seun Salomo ná my koning sal word en op my troon sal sit.” Batseba buig toe weer laag voor hom en sê: “Mag my heer koning Dawid vir altyd lewe!” Toe beveel Dawid: “Roep vir Sadok die priester, vir Natan die profeet en Benaja seun van Jojada.” Met hulle aankoms voor die koning sê hy vir hulle: “Neem Salomo en my lyfwagte saam met julle na die Gihonspruit toe. My seun Salomo moet op my eie muil ry. Sadok die priester en Natan die profeet moet hom daar as koning oor Israel salf. Blaas dan op die ramshoring en roep uit: ‘Lank lewe koning Salomo!’ Bring hom dan weer terug hierheen sodat hy kan ingaan en op my troon kan sit, want hy sal my as koning opvolg. Ek het hóm aangewys as heerser oor Israel en Juda.” “Laat dit so wees!” antwoord Benaja seun van Jojada. “En mag die HERE u God dit ook bevestig. Mag die HERE by Salomo wees soos Hy by u was, en mag Hy die regering van Salomo selfs groter maak as u regering!” Sadok die priester, Natan die profeet, Benaja seun van Jojada en die koning se lyfwag het Salomo na die Gihonspruit toe geneem. Hy het op Dawid se muil gery. Sadok die priester het ’n horing vol olie uit die heiligdom saamgeneem en Salomo daarmee gesalf. Toe blaas hulle op die ramshoring en al die mense roep uit: “Lank lewe koning Salomo!” Almal het agter Salomo aan teruggegaan stad toe terwyl hulle op fluite speel en juig dat die aarde dreun. Adonia en sy gaste was net besig om klaar te maak met hulle feesmaal toe hulle die groot feesvierings hoor. Toe Joab die ramshoring hoor, vra hy: “Wat gaan aan? Hoekom is daar so ’n lawaai in die stad?” Terwyl hy nog praat, kom Jonatan seun van Abjatar daar aan. “Kom nader,” sê Adonia vir hom, “want jy is ’n gerekende man en bring goeie tyding.” “Glad nie!” antwoord Jonatan. “Koning Dawid het Salomo koning gemaak! Die koning het hom saam met Sadok die priester, Natan die profeet en Benaja seun van Jojada, en die koning se lyfwag gestuur. Hulle het hom op die koning se muil laat ry, en Sadok die priester en Natan die profeet het hom by die Gihonspruit tot koning gesalf. Hulle het daarvandaan met groot gejuig teruggekom en daar is groot blydskap in die stad. Dis waaroor al die geraas gaan. Salomo sit nou op die troon. Al die koninklike amptenare het na koning Dawid toe gegaan en hom gelukgewens en gesê: ‘Mag u God Salomo se roem selfs nog groter maak as u eie. Mag Salomo se koninkryk selfs groter wees as u koninkryk!’ Toe het die koning op sy bed sy kop in aanbidding gebuig. Hy het gesê: ‘Prys die HERE, die God van Israel, wat vandag iemand gegee het om op my troon te sit terwyl ek dit met my eie oë kan sien.’” Toe het al Adonia se gaste in paniek van die feesmaal opgespring en elkeen sy koers gegaan. Adonia self was bang vir Salomo. Hy het na die heiligdom toe gegaan en die horings van die altaar vasgegryp. Dis aan Salomo meegedeel: “Adonia is bang vir koning Salomo, en hy hou aan die horings van die altaar vas. Hy pleit: ‘Laat koning Salomo vandag nog onder eed verklaar dat hy my nie sal doodmaak nie!’” Salomo het geantwoord: “As hy bewys lewer dat hy betroubaar is, sal hy niks oorkom nie. Maar as hy dit nie doen nie, sal hy sterf.” Koning Salomo het Adonia ontbied, en hy is van die altaar af gebring. Hy het voor die koning gebuig en Salomo het gesê: “Gaan na jou huis toe.”
Lees 1 KONINGS 1
Luister na 1 KONINGS 1
Deel
Vergelyk alle weergawes: 1 KONINGS 1:28-53
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's