1 KORINTIËRS 8:1-13

1 KORINTIËRS 8:1-13 NLV

Kom ons praat nou oor vleis wat aan afgode geoffer is – ’n saak waaroor julle ook navraag gedoen het. Ons weet julle sê: “Ons het almal kennis oor hoe ons moet optree.” Kennis laat ’n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ’n gemeente op. As jy dink jy weet alles, het jy nog nie die ware kennis nie. Maar as jy God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik. Wat dan die eet van afgodsoffervleis betref – wel, ons weet almal dat ’n wêreldse afgod eintlik een groot niks is en dat daar in werklikheid geen god is nie, behalwe die een ware God. Selfs al sou daar, volgens sommige, gode in die hemel en op die aarde wees – ja, daar is inderdaad baie wat “God” en “Here” genoem word – vir ons is daar net een God, naamlik ons Vader uit wie alles afkomstig is en ons lewe is op Hom gerig. En daar is net één Here, naamlik Jesus Christus deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Maar nie alle gelowiges besef dit nie. Party is daaraan gewoond om te dink ’n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas. Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as ons nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. Maar wees versigtig dat jou vrymoedigheid om alles te eet nie jou medegelowiges met ’n sensitiewe gewete in hulle geloof laat struikel nie. Julle sien, dit kan maklik gebeur dat iemand jou sien aansit vir ’n ete in ’n afgodstempel. Omdat jy die nodige kennis het, besef jy daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar gaan jy nie daarmee jou sensitiewe medegelowiges aanmoedig om teen hulle gewete in afgodsoffervleis te gaan eet nie? Dan gaan jou sensitiewe medegelowige deur jou kennis verlore – iemand vir wie Christus sy lewe gegee het. So sondig julle teen Christus self wanneer julle teen julle broers en susters sondig deur hulle sensitiewe gewetens te laat seerkry. Daarom – as iets wat ek eet ’n ander gelowige laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie. Ek wil nie aandadig wees aan die val van ’n medegelowige nie.