1 KORINTIËRS 8:1-13

1 KORINTIËRS 8:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Julle het vir my gevra of gelowiges afgod-offervleis mag eet. Ek wil nou daaroor praat. Ons weet dat almal dink hulle weet alles hiervan. Maar julle moet onthou, wanneer 'n mens dink hy weet alles, dan maak hy ander mense maklik hartseer. Maar wanneer hy lief is vir ander mense, dan kan hy hulle help. Iemand dink miskien hy weet alles, maar so iemand het nog nie alles geleer wat hy moet leer nie. Iemand wat lief is vir God, ken vir God. Maar die belangrikste is dat God ook vir daardie persoon ken. Ek wil nou praat oor die afgod-offervleis. Ons weet almal dat daar nie regtig afgode in die wêreld is nie. Ons weet dat daar net een ware God is. Ja, baie mense sê dat daar gode in die hemel of op die aarde is, en ons weet mense aanbid daardie baie gode en noem hulle ook “Here.” Maar vir ons is daar net één God. Hy is die Vader wat alles gemaak het. Ons moet vir Hom lewe. En daar is een Here. Hy is Jesus Christus. Jesus het saam met die Vader gewerk om alles te maak, Hy het vir ons die ware lewe gegee. Maar al die gelowiges verstaan nie goed dat daar net een God is nie, want hulle het baie jare lank die afgode gedien voordat hulle gelowiges geword het. Hulle dink dat wanneer hulle afgod-offervleis eet, dan dien hulle ook die afgod. En omdat hierdie gelowiges maklik skuldig voel, glo hulle dat hulle sonde gedoen het. Maar julle moet weet dat kos nie kan help dat God minder of meer van ons sal hou nie. As ons nie die afgod-offervleis eet nie, dan beteken dit nie dat ons geloof swak is nie, en as ons dit eet, dan beteken dit nie dat ons geloof sterk is nie. Julle wat dink dit is nie verkeerd om afgod-offervleis te eet nie, julle moet versigtig wees, want julle kan ander gelowiges sonde laat doen. Miskien dink jy dit is nie verkeerd om afgod-offervleis te eet nie. Maar miskien is 'n ander gelowige se geloof swak, en wanneer hy sien dat jy in 'n tempel afgod-offervleis eet, dan sal hy dink hy kan dit ook eet, en miskien sal hy dan weer afgode begin dien. Sy geloof is swak, en omdat jy dink dit is nie verkeerd om afgod-offervleis te eet nie, sal hy miskien verlore gaan. Maar jy moet onthou, hy is 'n gelowige, Christus het vir hom gesterf. Onthou, wanneer julle iets doen wat ander gelowiges skuldig laat voel, dan doen julle sonde teen hulle en ook teen Christus. Daarom, as kos iemand sonde laat doen, iemand wat soos ek in Christus glo, dan sal ek nooit weer vleis eet nie. So sal ek seker maak dat ander gelowiges nie sonde doen nie.

1 KORINTIËRS 8:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN met betrekking tot die offervleis aan die afgode weet ons dat ons almal kennis het. Die kennis maak opgeblase, maar die liefde stig. As iemand meen dat hy enige kennis het, weet hy nog niks soos 'n mens behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken. Wat dan die eet van die offervleis aan die afgode betref, weet ons dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een. Want al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is — soos daar baie gode en baie here is — tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom. Die kennis is egter nie in almal nie; maar sommige, nog altyd bewus van die afgod, eet dit as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel. Maar die voedsel bring ons nie nader by God nie; want as ons eet, het ons geen oorvloed nie, en as ons nie eet nie, ly ons geen gebrek nie. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie miskien 'n struikelblok word vir die wat swak is nie. Want as iemand jou wat kennis het, aan tafel sien in 'n afgodstempel, sal sy gewete, as hy 'n swak man is, nie aangemoedig word om van die offervleis aan die afgode te eet nie? En moet die swakke broeder vir wie Christus gesterf het, verlore gaan deur jou kennis? Maar deur so teen die broeders te sondig en hulle gewete wat swak is, seer te maak, sondig julle teen Christus. Daarom, as voedsel my broeder laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broeder nie te laat struikel nie.

1 KORINTIËRS 8:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

En nou julle vraag oor vleis wat aan 'n afgod geoffer is. Ons weet dat ons almal kennis het. Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand meen hy het kennis van iets, het hy nog nie die kennis wat 'n mens behoort te hê nie. Maar as iemand God liefhet, ken God hom. Wat nou betref die eet van vleis wat aan 'n afgod geoffer is: ons weet dat daar geen afgod in die hele wêreld is wat iets beteken nie, en dat daar ook geen God is nie, behalwe Een. En al is daar ook sogenaamde gode, of dit in die hemel en of dit op die aarde is, soos daar trouens baie is wat “God” en baie wat “Here” genoem word, is daar nogtans vir ons net een God: die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Maar nie almal het hierdie kennis nie. Daar is party van julle wat so gewoond is aan afgode dat hulle nog altyd vleis eet asof dit 'n offer aan 'n afgod is. Daardeur word hulle gewete, wat reeds swak is, verder beswaar. Wat ons eet, bring ons egter nie nader aan God nie. As ons nie eet nie, verloor ons niks nie; en as ons eet, wen ons niks nie. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie vir dié wat swak is, 'n aanleiding tot sonde word nie. As jy wat hierdie kennis het, in 'n afgodstempel gaan eet en iemand met 'n swak gewete sien jou, sal dit hom dan nie aanmoedig om die vleis as afgodsoffer te eet nie? Dan gaan die swakke verlore deur hierdie kennis van jou, en dit 'n broer vir wie Christus gesterf het. Deur so teen die broers te sondig en 'n las op hulle swak gewetens te lê, sondig julle teen Christus. Daarom, as ek deur wat ek eet, my broer laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie: ek wil nie my broer se val veroorsaak nie.

1 KORINTIËRS 8:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Wat die afgodsoffers betref, stem ons saam: “Ons het almal kennis.” Kennis maak verwaand, maar liefde bou op. As iemand dink hy weet iets, is sy kennis nog nie soos dit behoort te wees nie. Maar as iemand God liefhet, word hy deur Hom geken. Wat die eet van afgodsoffers betref, weet ons “Daar bestaan geen afgod in die wêreld nie,” en “Daar bestaan geen god nie, behalwe Een.” Selfs al is daar inderdaad sogenaamde gode in die hemel of op die aarde, en net so ook baie “gode” en baie “here” – Vir ons egter is daar een God, die Vader, uit wie alles is, en ons vir Hom, en een Here, Jesus •Christus, deur wie alles is, en ons deur Hom. Maar nie almal het hierdie kennis nie. Sommige is nog so gewoond aan die afgod dat hulle steeds die vleis eet as 'n afgodsoffer, en hulle gewete, wat swak is, word besoedel. Kos bring ons nie nader aan God nie. As ons nie sou eet nie, ly ons nie gebrek nie, en as ons sou eet, het ons nie oorvloed nie. Pasop dat hierdie vryheid van julle nie vir die swakkes 'n struikelblok word nie. Want as iemand jou, wat die kennis het, in 'n afgodstempel aan tafel sien, sal hy nie, omdat sy gewete swak is, aangemoedig word om afgodsoffers te eet nie? Dan gaan die swakke, 'n broer vir wie Christus gesterf het, verlore as gevolg van jou kennis. Deur op dié manier teen die broers te sondig en hulle swak gewetens te kwets, sondig julle teen Christus. Daarom, as kos my broer laat struikel, sal ek beslis vir ewig nie weer vleis eet nie, sodat ek nie my broer laat struikel nie.

1 KORINTIËRS 8:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Nou as ontroerende dinge wat aan afgode gebied word, weet ons dat ons almal kennis het. Kennis blaas op, maar naasteliefde stig. En as iemand meen dat hy iets weet, weet hy nog niks soos hy behoort te weet nie. Maar as iemand God liefhet, dit is van hom bekend. Wat dan die eet van die offergawes aan die afgode betref, weet ons dat 'n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe een. Want al is daar ook wat gode genoem word, hetsy in die hemel of op die aarde, (soos daar baie gode is en baie here) Maar vir ons is daar maar een God, die Vader, uit wie alles is, en ons in Hom; en een Here Jesus Christus, deur wie alle dinge is, en ons deur Hom. Maar daar is nie by elke mens daardie kennis nie; en hulle gewete wat swak is, is besoedel. Maar vleis beveel ons nie by God aan nie, want as ons eet, is ons ook nie beter nie; ook nie, as ons nie eet nie, is ons die slegter. Maar pas op dat hierdie vryheid van julle nie hoegenaamd 'n struikelblok word vir die wat swak is nie. Want as iemand jou wat kennis het, sien aan tafel in die tempel van die afgod, sal die gewete van die swakke nie aangemoedig word om te eet wat aan die afgode geoffer word nie; En deur jou kennis sal die swak broeder omkom vir wie Christus gesterf het? Maar as julle so teen die broeders sondig en hulle swak gewete verwond, sondig julle teen Christus. Daarom, as vleis my broer laat struikel, sal ek geen vleis eet terwyl die wêreld staan nie, sodat ek my broer nie laat struikel nie.

1 KORINTIËRS 8:1-13 Die Boodskap (DB)

Julle het mos ook in julle brief gevra of ’n mens kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Dit is waar wat julle sê: “Julle weet wat die kerk alles leer.” Maar as ’n mens dink jy weet so baie, kan dit jou te veel van jouself laat dink. Onthou egter, liefde blaas jou nie so op nie, maar bou liewer ander mense op. Boonop, iemand wat dink hy weet so baie van God se dinge af, weet baiekeer nie dít wat eintlik belangrik is nie. Maar as iemand God liefhet, is hy gedurig in God se gedagtes. Kom ons gesels nou daaroor of ’n Christen kos mag eet wat aan afgode geoffer is. Ons almal weet tog dat afgode nie “regtig” is nie, want daar is net een ware God. Mense praat maklik van “gode” wat glo in die hemel of op die aarde is. So hoor ’n mens van baie verskillende “gode” en “here”. Ons weet egter dat daar net een God is. Alles het deur Hom ontstaan en ons leef net vir Hom. Daar is ook net een Here, naamlik Jesus Christus. Hy is die instrument waardeur alles gemaak is en aan wie ons ook ons bestaan te danke het. Nie al die Christene weet of besef dit nie. Daar is nog van julle Christene wat dink dat die afgode regtig bestaan. As hulle kos eet wat in die afgodstempels geoffer is, pla hulle gewete hulle nog meer as gewoonlik. Maar onthou, dit is nie kos wat ’n mens se verhouding met God sterker maak nie. Watter kos ons nou ook al eet of nie eet nie, dit sal ons nie ’n duim nader aan God of verder van Hom af bring nie. Maar vir een ding moet julle oppas. Moenie dat julle vryheid om te eet wat julle wil vir ander Christene ’n probleem word wat hulle Christenskap benadeel nie. Sê nou net iemand wat nog dink dat daar regtig afgode is, sien jou in die afgodstempel lekker sit en eet. Vir jou is dit natuurlik nie ’n probleem nie, want jy weet dat die kos jou verhouding met die Here nie kan beïnvloed nie. Dit sal die persoon wat nog dink dat afgode “regtig” is, aanmoedig om ook van die kos te eet, al voel hy dit is verkeerd omdat hy daarmee die afgode op ’n manier dien. Dié mede-Christen van jou se Christenskap word so eintlik deur jou beter godsdienstige kennis stukkend geskeur. En onthou, Jesus het vir hom gesterf. As jy jou mede-Christene so skade aandoen en dit vir hulle moeilik maak om werklik Christen te bly, is jy eintlik besig om Christus self seer te maak. Dus, as die kos wat ek eet my mede-Christen dinge laat doen wat nie reg is nie, sal ek nooit aste nimmer my mond weer aan sulke kos sit nie. So sal ek nie die oorsaak wees dat hy die verkeerde dinge doen nie.

1 KORINTIËRS 8:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Kom ons praat nou oor vleis wat aan afgode geoffer is – ’n saak waaroor julle ook navraag gedoen het. Ons weet julle sê: “Ons het almal kennis oor hoe ons moet optree.” Kennis laat ’n mens belangrik voel; die liefde, daarenteen, bou ’n gemeente op. As jy dink jy weet alles, het jy nog nie die ware kennis nie. Maar as jy God liefhet, dan ken God jou en jy is vir Hom belangrik. Wat dan die eet van afgodsoffervleis betref – wel, ons weet almal dat ’n wêreldse afgod eintlik een groot niks is en dat daar in werklikheid geen god is nie, behalwe die een ware God. Selfs al sou daar, volgens sommige, gode in die hemel en op die aarde wees – ja, daar is inderdaad baie wat “God” en “Here” genoem word – vir ons is daar net een God, naamlik ons Vader uit wie alles afkomstig is en ons lewe is op Hom gerig. En daar is net één Here, naamlik Jesus Christus deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe. Maar nie alle gelowiges besef dit nie. Party is daaraan gewoond om te dink ’n afgod bestaan werklik. As hulle dan kos eet wat aan die afgode geoffer is, dink hulle dat hulle betrokke is by die verering van werklik bestaande wesens en hulle sensitiewe gewetens word met skuldgevoelens belas. Onthou, dis nie kos wat ons nader aan God bring nie. Ons verloor niks as ons nie eet nie en ons wen niks as ons wel eet nie. Maar wees versigtig dat jou vrymoedigheid om alles te eet nie jou medegelowiges met ’n sensitiewe gewete in hulle geloof laat struikel nie. Julle sien, dit kan maklik gebeur dat iemand jou sien aansit vir ’n ete in ’n afgodstempel. Omdat jy die nodige kennis het, besef jy daar is niks daarmee verkeerd nie. Maar gaan jy nie daarmee jou sensitiewe medegelowiges aanmoedig om teen hulle gewete in afgodsoffervleis te gaan eet nie? Dan gaan jou sensitiewe medegelowige deur jou kennis verlore – iemand vir wie Christus sy lewe gegee het. So sondig julle teen Christus self wanneer julle teen julle broers en susters sondig deur hulle sensitiewe gewetens te laat seerkry. Daarom – as iets wat ek eet ’n ander gelowige laat struikel, sal ek nooit weer vleis eet nie. Ek wil nie aandadig wees aan die val van ’n medegelowige nie.