YouVersion Logo
Search Icon

TydelikSample

Tydelik

DAY 5 OF 5

Dag 5: Kiekies

Habakuk 3:17-19 “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God my Redder”.

Ons praat maklik nostalgies oor die “goeie ou dae”, die wonderlike vry gemaksones van veiligheid waarna soveel verlang, die “groot trosse druiwe” en glinstergoud “olyfoeste”. Ek verlang ook. Laer kospryse, spasie vir myle aaneen, geen hekke en drade voor ons huise nie.

Wat sou die korrekte siening hierop wees, of sal ons eerder bly staar soos ‘n kameralens wag vir die perfekte foto van die wêreld daarbuite? Hoe lyk die venster van jou hart en wie sal daardeur wíl loer? Wanneer ons polaroid kiekies opdelf, is dit asof ‘n ander wêreld open vanuit ‘n agtergeblewe dossier, êrens ver weggesteek in jou geheue. Almal het ‘n storie maar so min word vertel. Ons elkeen kan deur kiekies die draad van ons lewensreis aanmekaar weef en tog versuim so baie om dit te doen. Waarom bêre ons hierdie vensters na ons menswees so diep weg?

Ek het al gewens dat ek van die kiekies in my lewe kan uitvee en met pastelle kan (oor)inkleur. Maar as ek dit sou kon doen, soos in ‘n tydkapsule-fliek, sal my hele storie verander. Ek sal nie verstaan van iemand se seer nie, ook nie van alleen wees nie, selfs van honger en verstote wees nie. Ek sou geen begrip kon vertoon van God se genade en heling nie.

Die realiteite rondom ons beïnvloed beslis ons huidige lewens-venstertjies. Dis net anders as op die polaroid kiekie. Ook die besef dat ek menslik gesproke al méér as helfte van my tydelike lewe geleef het is ‘n demper — ek het nog tyd nodig!

Wat bêre jy daar diep binne in die laai of vergeelde album? Vertel jy jou storie? Het jy al die draad van jou reis gevolg en op die tafel van jou hart neergepen? Het jy gesien en besef dat êrens ‘n hoër en sterker wese jou nog bymekaar hou ten spyte van die vyeboom wat nie bot nie?

Gebed: Hemelse Vader, Habakuk vertel van ‘n moeilike tydperk, ‘n tyd wat ook verbygegaan het. Help my om vandag en die dae wat U my nog gun veilig te stoor en met wysheid en insig te gebruik.

Kiekies herinner jou waar jy vandaan kom en dat jy nogtans kan juig in God jou Redder — soos nog altyd. Hy ís en blý tydloos!

Day 4

About this Plan

Tydelik

Het jy geweet? Elke persoon op aarde het ‘n vervaldatum. Op supermarkte se rakke kan ons elke produk se vervaldatum sien. Die produkte is tydelik op die rak. Ons weet egter nie wanneer dit óns beurt is nie. Ek en jy is tydelik op aarde. Wat doen ons in ons tydelikheid? Die beste van alles is dat probleme en uitdagings ook tydelik is, elkeen ook met sy eie vervaldatum!

More