TydelikSample
Dag 4: Stryd met Tyd
Klaagliedere 3:21-23 “Maar dít sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut. U trou is groot”.
Die rekenaarskerm blink daagliks in jou pupille. Telefone lui beurtelings, jou dagboek voer lyn-vir-lyn oorlog met tyd en jou brein voel soos deeg in ‘n skottel. Dit kan selfs voel of jou huismense, kollegas, die hele lot, net verby sweef en jy hang net binne in ‘n abstrakte vakuum. Het jy al so gevoel?
Die antwoord op hierdie vraag sal waarskynlik "ja" wees, met ‘n noodkreet uitroepteken in jou maag. Hoe gemaak as alles rondom jou net te veel raak? Soms oorval angstige gedagtes jou in die middernagtelike ure. Dis wanneer jou onafgeskakelde psige jou herinner aan die doen-lysie op die lessenaar, waarby jy op daardie oomblik nog ‘n paar punte kan byvoeg. En só voer ons ‘n ewige stryd met tyd, binne-in ons tydelikheid. Ons word geklee in grys spanning en skuldgevoelens wat naarstiglik aan jou broekspype torring vir ‘n spreekbeurt.
Of is dit dalk Hy? Sagte ontferming probeer jou aandag trek.
Wie is jou bemiddelaar? Grys spanning en gewete speel nie hierdie spel om te verloor nie, dit is 'n keuse wat die skeidsregtersrol vertolk. Keuses — moeilik om te maak. Verantwoordelikhede. Lojaliteit. Onsself. Die uurglas wat sagte sand laat deurgly.
Tyd is geskep met woorde, God se woorde. Dit bevat lewe en rus vir altyd. As ons Vader kon rus, kan ek en jy ook. Elke dag is nuut, en sy liefde laat ons nie vergaan nie, al vóél dit vir jou so! Emosies, gevoelens, druk en ongevraagde omstandighede is onafwendbaar, máár dit gaan verby. Jy ís nog hier selfs al is dit onduidelik vir hoe lank dit nog gaan wees.
Gebed: Vader, ek dank U dat daar geen einde aan U ontferming is nie.
Begin elke (tydelike) dag met sý tyd en jy sal verstom staan hoe die res van jóú tyd in plek val vir solank jy nog tyd hét!
Scripture
About this Plan
Het jy geweet? Elke persoon op aarde het ‘n vervaldatum. Op supermarkte se rakke kan ons elke produk se vervaldatum sien. Die produkte is tydelik op die rak. Ons weet egter nie wanneer dit óns beurt is nie. Ek en jy is tydelik op aarde. Wat doen ons in ons tydelikheid? Die beste van alles is dat probleme en uitdagings ook tydelik is, elkeen ook met sy eie vervaldatum!
More