21 Dae Vas en GebedSample
Ons handhaaf nie ’n toegewyde periode van vas en gebed sodat ons beter as ander kan wees of godsdienstig voorkom nie. Dit is ons doelwit om nader aan die Here te kom en ons verhouding met Hom te versterk en verryk.
In vandag se Skrifgedeelte is dit duidelik dat die mense van die koninkryk van Judea (Jesaja se gehoor) toegelaat het dat hulle vasgevang word in wat ons ’n godsdienstig vas kan noem. ’n Godsdienstige vas is wanneer ons, pleks van om nader aan die Here te kom, verstrengel raak in die reëls van vas en dan begin dink dat ons beter as ander is. Die rede waarom ons vir ’n periode lank vas en bid is juis om die Here beter te leer ken en Sy hart vir die gebroke wêreld waarin ons leef, te beleef. Ons wil leer om soos Hy teenoor ander op te tree, veral teenoor diegene wat dit die nodigste het.
Vas en gebed verander ons deurdat dit by ons 'n dieper afhanklikheid van die Here kweek en ons nederig maak. Wanneer ons gefokus vas en bid en die ander stemme in die wêreld uitdoof om na Sy stem op te let en te luister, verkry ons dikwels meer duidelikheid. So leer ons om die dissipline van die Here se teenwoordigheid in ons lewens te kweek en dit selfs ná ons gefokusde vastydperk te beleef.
Ons vas en bid gefokus om in hierdie een-en-twintig dae in ons verhouding met ons Vader te groei en ons te verdiep in ons liefde en toewyding aan Hom. Die een seker teken daarvan is dat ons die Here se hart vir ander sal ervaar en in pas met Sy hartklop sal dink, doen en voel.
Scripture
About this Plan
Hallo Kerk, Centurion, se 21-dae-vas-en-gebedleesplan wil jou aanmoedig om jou verhouding met die Here te verdiep en versterk. Jy sal meer leer oor vas (Wat is vas? Hoekom vas ons? Wat is die voordele van vas?), en dit sal jou ook help om jou gebedslewe te verdiep. Die leesplan bestaan uit kort dagstukke en Skriflesings vir elke dag. Om ons te kontak besoek gerus: www.hallokerk.co.za
More