YouVersion Logo
Search Icon

Christus, ons Koningin EsterSample

Christus, ons Koningin Ester

DAY 3 OF 3

Nes Ester, wat slegs haar volk kon help deur met hulle te identifiseer, het Jesus ʼn mens geword soos ons sodat Hy ten volle met ons kon identifiseer en ons plek aan die kruis kon inneem om ons sondeskuld te betaal. En nes die Jode verheug was toe God tot hulle redding gekom het en hulle van uitwissing gered het, kan ons bly wees dat Jesus ingegryp het en ons vrygemaak het om deur sy opstandingskrag te lewe.

Die oorblywende hoofstukke van die boek Ester is boeiend en vol (klaarblyklike) dramatiese toeval. In Ester 5 tree die Joodse koningin dapper vir haar volk in deur die koning te nader sonder vooraf toestemming. Wonderbaarlik ontvang hy haar hartlik en woon dan ook ʼn onthaal by wat sy voorberei het. By die onthaal lê sy Haman se konkelry bloot en smeek by die koning om genade vir haar volk. Haman word gehang. Xerxes gee toe al Haman se besittings aan Ester en Haman se posisie en mag aan Mordegai. Dit is poëtiese geregtigheid en kosmies mooi.

Die wet weerhou Xerxes daarvan om Haman se opdrag om die Jode uit te wis, te herroep so hulle kan steeds doodgemaak word. Die koning bekragtig egter ʼn tweede proklamasie wat deur Mordegai uitgereik is waarvolgens die Jode hulself op welke manier ook al mag verdedig. Dit is ʼn goddelike ommekeer van lewenslot; die Jode behaal die oorwinning en hulle reageer met uitbundige feesviering. Baie heidene sluit selfs by die Joodse volk aan as gevolg van hierdie gebeure — net soos wat Godhaters na Jesus toe draai wanneer Hy wonderbaarlik in hulle lewens ingryp.

En weereens eggo hierdie hele verhaal die evangelie. Jesus het in die opperste paleis gewoon en tog het Hy dit doelbewus verlaat om op aarde vir ons onthalwe in te gryp (Filippense 2:5-11). Jesus het dit boonop nie gedoen deur sy lewe op die spel te plaas, soos Ester, nie. Hy het dit ten koste van sy eie lewe gedoen. Ester het gesê: “As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf.” Jesus het egter gesê: “As ek moet sterf, sal ek sterf” (Matteus 26:42). Ester het haar lewe gewaag om guns vir haar volk te wen. Jesus het egter sy lewe gegee om vir ons guns te wen en daarom kan ons met vrymoedigheid enige tyd na ons Koning toe gaan.

Die hele verhaal van die boek Ester — ballingskap, dreigende volksmoord, verlossing, uiteindelike terugkeer vanuit ballingskap — is ʼn spieëlbeeld van die oorkoepelende Bybelse narratief wat in Genesis begin en met Openbaring eindig, wat ontvou in die vier fases van die skepping, die sondeval, verlossing en die nuwe skepping. Net soos wat die Jode verlos is van volksmoord deur Ester se ingryping en hulle uiteindelik uit ballingskap kon terugkeer na Jerusalem, is ons ook verlos deur Jesus Christus, ons ware en beter Ester. Dit maak nie saak hoe moeilik ons huidige Christelike ballingskap in hierdie gevalle wêreld is nie, ons kan daarna uitsien om eendag in die nuwe Jerusalem fees te vier waar daar nie meer trane, pyn, siekte of dood sal wees nie.

Mag hierdie wonderlike waarheid uit die evangelie jou moed en geloof gee ten spyte van wat jy ook al tans deurmaak.

Hierdie leesplan is aangepas en vertaal uit die reeks, "Christ, Our Ultimate Queen Esther", op RightNow Media. Om tot meer video-Bybelstudies vir jou hele kerk of organisasie toegang te verkry, klik hier.

Day 2

About this Plan

Christus, ons Koningin Ester

Die boek Ester is ʼn verstommende verhaal van waagmoed en liefde en tipeer ook Jesus se verhaal. In hierdie drie-dag leesplan ondersoek Dr. Kwasi Amoafo hoe die Ou Testamentiese verhaal van Ester parallel loop met die evangelie en ʼn fantastiese prentjie skets van ons geestelike verlossing deur Jesus wat met ons geïdentifiseer het, ingegryp het en ons verlos het toe ons magteloos was om onsself te red.

More