YouVersion Logo
Search Icon

Christus, ons Koningin EsterSample

Christus, ons Koningin Ester

DAY 1 OF 3

Ek en my gesin het een keer vakansie gehou by ʼn strandoord in Mombasa, Kenia. My kinders was baie opgewonde omdat die vakansieoord ʼn swembad gehad het. Ek kan nie swem nie, maar om een of ander bisarre rede het ek een oggend besluit om in te spring. Groentjiefout! Ek het dadelik begin verdrink. Een van my seuns het opgemerk hoe ek spartel en toe — genadiglik! — soos ʼn wafferse held ingeduik en my gered.

Die laaste ding wat ʼn persoon wat besig is om te verdrink nodig het, is ʼn swemles van iemand wat veilig op die kant van die swembad staan. Die sopnat, sinkende persoon het iemand nodig wat die drenkeling se magteloosheid raaksien, met hulle worsteling kan identifiseer en kan ingryp om die drenkeling na veiligheid te bring.

Dit is waaroor die boek Ester handel. Ester se verhaal loop parallel met die evangelie en skets ʼn fantastiese prentjie van ons geestelike verlossing deur Jesus.

In die eerste plek beeld die boek hopelose magteloosheid uit — ons totale onvermoë om onsself van sonde en die dood te red. In die tweede plek herinner dit ons aan hoe Christus met ons geïdentifiseer het deur sy menswording. En derdens beeld dit Christus se ingryping uit om vir ons die ewige lewe te bewerk deur sy dood en opstanding.

Vandag gaan ons nadink oor die eerste waarheid: met ons geboorte kom ons hierdie wêreld binne belas met ʼn nalatenskap van geestelike doodsheid en ons is magteloos om dit te verander of om te keer.

Die gebeure van die boek Ester speel af in die hoofstad van die Persiese Ryk — die supermoondheid van daardie dae — gedurende die heerskappy van Koning Ahasveros, ook bekend as Xerxes. Op daardie stadium was die verbanne Jode versprei oor die hele Persiese Ryk. Interessant genoeg is Ester die enigste boek in die Bybel waarin God se naam nie genoem word nie. Ook nie gebed nie. En tog sien ons God se onmiskenbare soewereiniteit aan die werk in die agtergrond van nasionale gebeure om geskiedenis te vorm en sy mense te beskerm.

Van die begin tot die einde is die boek Ester ʼn aangrypende verhaal. In hoofstuk 1 word Koningin Vasti onttroon omdat sy geweier het om voor die mans wat die koning se partytjie bygewoon het, rond te paradeer. In hoofstuk 2 ontmoet ons vir Ester, ʼn weeskind, en Mordegai, die ouer neef wat haar grootgemaak het. Hulle was afstammelinge van die Joodse ballinge wat ongeveer 100 jaar vantevore weggevoer is en in Persië beland het. Ester word gekies as een van die maagde wat moet deelneem aan die oudisie om ʼn plaasvervanger vir Vasti se rol te kry. Sy kom in die koning se guns en word as koningin gekroon. Dan word Haman die onderpresident en vereis dat almal voor hom moet kniel. Mordegai weier egter. Haman is woedend. Hy besluit om nie net vir Mordegai te vermoor nie, maar om al die Jode in die ganse Ryk uit te roei.

Aan die einde van die derde hoofstuk van Ester is die Jode absoluut magteloos om enige iets aan hulle lot te doen. En aan die einde van die derde hoofstuk van Genesis was ons ook. Ons word almal in sonde gebore en het God van die eer beroof wat Hom toekom en daarom verdien ons die dood (Romeine 3:23, 6:23) — ons is nie in staat om iets aan ons geestelike toestand te doen nie. Ons kerklike gebruike gaan ons nie red nie. En so ook nie enige opleiding of kundigheid waaroor ons beskik nie. Nes die Jode in die dae van Ester het ons ʼn Verlosser nodig wat sal ingryp, ons sal red en met God herenig. Dank die Here: Hy het gekom!

Day 2

About this Plan

Christus, ons Koningin Ester

Die boek Ester is ʼn verstommende verhaal van waagmoed en liefde en tipeer ook Jesus se verhaal. In hierdie drie-dag leesplan ondersoek Dr. Kwasi Amoafo hoe die Ou Testamentiese verhaal van Ester parallel loop met die evangelie en ʼn fantastiese prentjie skets van ons geestelike verlossing deur Jesus wat met ons geïdentifiseer het, ingegryp het en ons verlos het toe ons magteloos was om onsself te red.

More