Paasfees verduidelik: 'n 8-dag Gids om die Heilige Week te VierSample
Oor die afgelope 1 600 jaar, herdenk Christene regoor die wêreld die laaste dae van Jesus se lewe gedurende die "heilige week". Vandag is heilige Dinsdag. Op hierdie dag dink ons aan Jesus wat die vyeboom vervloek sodat dit dadelik verdroog het.
Dit was God se voorgenome plan om deur Israel, in besonder die priesters en tempel, sy liefde en seën na ander volke uit te brei. Ongelukkig het die priesters in daardie dae dit vir vreemdelinge onmoontlik gemaak om God te aanbid (Matteus 21:13). Die vooraanstaande godsdienstiges se geloof het van hul oorspronklike doel wegbeweeg en was nou 'n dooie godsdiens. Ons het gister onthou hoe Jesus met 'n sweep in die hand die godsdienstige instelling van Israel uitgedaag het. Net soos Jesus het die profete in die Hebreeuse Bybel dikwels teen die Israelitiese priesters en hul leierskap in die tempel uitsprake gelewer. Baie onder hulle, soos die profeet Miga, beskryf hulle so: "Die beste onder hulle is soos 'n gifplant, die opregte erger as 'n doringheining" (Miga 7:4). Jesus het 'n vyeboom met geen vye aan nie vervloek sodat dit dadelik verdroog het (Matteus 21:19). Hierdie optrede van Jesus is 'n profetiese simbool aan sy dissipels dat Israel se huidige leierskap in die tempel hul doelwit vergeet het. Dit is korrup, dood en moet vernietig word.
Die dissipels het egter hierdie simboliek misgekyk en wou net weet hoe die vyeboom so vinnig kon verdroog. "Daarop antwoord Jesus hulle: 'Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur" (Matteus 21:21).
Jesus se doel was egter nie om aan die dissipels te verduidelik hoe om 'n vyeboom te vervloek of hul probleme in die oseaan te gooi nie. Hy het aan hulle gesê hoe die godsdienstige instelling van Israel tot 'n val sal kom. As die dissipels waarlik in geloof bid, sal die berg verkrummel waarop die tempel gebou is. Deur die geloof van die dissipels, sal die korrupte leierskap van Israel tot 'n val kom. Jesus het gekom om die tempel van die dooie godsdiens te reinig en Hy het verwag dat sy dissipels in daardie verantwoordelikheid sou deel. Hulle is deel van sy opstand teen die godsdienstige stand van sake. In die daaropvolgende verse, bevraagteken die godsdiensleiers Jesus se gesag om 'n einde van hul tempelstelsel aan te kondig. Herhaaldelik reageer Jesus met verhale en gelykenisse wat hul korrupsie ontbloot (Matteus 21:33-46). Net soos die profete voor Hom, voorspel Jesus die vernietiging van die tempel deur 'n weermag wat hulle sal binneval. Israel se godsdiensleiers kan dit nie langer verduur nie. "Hulle het daar saam planne gemaak om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak" (Matteus 26:4).
Heilige Dinsdag se goeie nuus is dat Jesus die einde van 'n korrupte godsdiensorde aankondig en die aanbreek van 'n nuwe wêreldwye volk van God. Hy nooi ons selfs uit om by Hom aan te sluit, beide om die dooie godsdiens te verwerp en 'n nuwe onvernietigbare kerk te stig. Jesus sê ons veg en bou deur gebed. As ons vir God in geloof vra om die dooie godsdiens af te breek, sal Hy dit doen. As ons vir God vra om in die plek daarvan 'n wêreldwye kerk te bou wat nie vernietig kan word nie, sal Hy dit ook doen. God waarborg dat sulke gebede in die dood en opstanding van Jesus beantwoord sal word. Omdat Jesus sterf, weet ons dat die dooie godsdiens vir sy mislukkings eendag veroordeel sal word. Omdat Jesus uit die dood opgestaan het, weet ons in die plek daarvan bou Jesus 'n nuwe tempel, die kerk, wat nooit — nie eens deur die dood — vernietig sal word nie.
My gebed is dus dat jy op hierdie heilige Dinsdag sal aanvaar dat Jesus besig is om 'n nuwe godsdiensorde in ons te skep. Deur geloof kan ons by Jesus aansluit om 'n kerk te bou wat nie deur dood, korrupsie of enige slinkse planne van die mens ooit vernietig sal word nie.
Scripture
About this Plan
Oor die afgelope 1 600 jaar, herdenk Christene regoor die wêreld die laaste dae van Jesus se lewe gedurende die "heilige week". Hierdie 8-dag leesplan sal verduidelik wat op elk van Jesus se laaste dae gebeur het en waarom dit plaasgevind het, alhoewel dikwels tragies, is dit tog uiteindelik goeie nuus. Daar sal elke dag 'n kort leesstuk uit 'n psalm, een van die Ou Testamentiese profete en 'n paar verse uit die Nuwe Testament wees. Daar sal ook 'n kort oordenking wees om jou deur daardie gedeeltes te lei om die diepsinnige van Jesus se laaste dae op aarde te besef.
More