YouVersion Logo
Search Icon

Die Weg, Die Waarheid en Die LeweSample

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

DAY 5 OF 40

Dag 5 – Ek is die ingang

Jesus maak homself bekend as “die ingang”, wat groot betekenis dra in die konteks van die Mediterreense wêreld waar herders met hulle skape ʼn bekende gesig is. Jesus praat van skape wat in ʼn kraal beskerm word teen rowers en diewe en vergelyk Homself as die herder wat in die opening van die skaapkraal slaap om die funksie van ʼn ingang te verrig, waardeur die skape inkom en uitgaan. Wanneer die son sak het die herder sy skape in ʼn toe area of kraal ingelei en self as in-en-uitgang gedien en gepoog om die skape binne te hou en die rowers of roofdiere uit te hou wat op ʼn konstante basis skape wou steel of aanval in die nag.

Rowers het dan gewoonlik oor die kraal geklim en die skape gesteel, geslag en verwoes (Johannes.10:10). Wie is die rowers waarna Jesus verwys wat nie in verhouding met die herder is nie, maar van die anderkant af inklim (Johannes 10:1). Dit is hulle wat dink dat redding moontlik is sonder Christus. Hulle is ywerig in die Wet van God sonder om iets van God se vergifnis en liefde te verstaan en die gevolg is dat hulle mense mislei. Ons moet onthou dat Jesus in hierdie gesprek met die Fariseërs praat.

As die invloedryke leraars in Israel moes hulle die volk na die waarheid gelei het, maar het soos die slegte herders van Esegiël 34 en Jeremia 23 deur valse leerstellings die mense op 'n dwaalspoor gelei. Hulle moes die mense voor hulleself gestel het maar het hulle eie belange vooropgestel en die mense misbruik. Hulle moet God se agenda eerder as hulle eie gedien het. Deur hierdie metafoor plaas Jesus dadelik die Fariseërs in die kamp van die valse profete en slegte herders van die Ou Testament.

Jesus is egter die ingang. Wat beteken dit? Jesus maak dit duidelik: “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry” (Johannes 10:9). Die deur impliseer dus ʼn ingang en uitgang. Die ingaan volgens Jesus verwys na redding of saligheid en die uitgaan verwys na weiding of voeding. Hierdeur verklaar Jesus dat Hy die in-en-uitgang is tot die ewige lewe. Dit beteken dat redding gebeur wanneer iemand die skaapstal binnegaan deur die ingang (Johannes 10:9). ʼn Mens word volgens die woorde slegs ʼn gelowige deur Jesus Christus: “Dít verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape” (Joh.10:7).

Mense gaan by daardie ingang in wanneer hulle hul geloof en vertroue in Jesus Christus plaas as hulle Herder en Verlosser. Hierdie stelling is in lyn met Jesus se woorde in Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Wanneer ons deur die ingang ingaan word ons bevry van die mag, skuld en die straf van sonde (Romeine 8:1-2, Efesiërs 2:1-9).

Verder veroorsaak Jesus ook as die ingang die moontlikheid vir voeding: “Ek is die ingang ... hy sal ... en uit gaan en weiding vind” (Johannes 10:9). Vanuit ‘n verhouding met Jesus vind ons voedsel vir ons siele. In Psalm 23 het Dawid geskryf: “Die Here sorg vir my soos ’n herder wat sy skape oppas; ek het niks meer nodig nie. Hy gee vir my die heel beste van alles: kos, veiligheid en vrede. Omdat die Here by my is, bekommer ek my nie. Wanneer ek moedeloos word, laat Hy my die lewe weer anders sien. Hy gee my die krag om elke dag reg te lewe. Soos ’n goeie gids lei Hy my elke dag om volgens sy wil te lewe. Almal in my lewe kan sien hoe belangrik God is. Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel. (Psalm 23:1-4 DB). Jesus is die ingang. Plaas jou geloof in jou stiltetyd weer opnuut in hom. Sit die Bybel en die dagstukkie boek neer en fokus volkome op hom wat jou toegang tot lewe in God is. Ervaar hom vandag en aanbid hom!

Scripture

Day 4Day 6

About this Plan

Die Weg, Die Waarheid en Die Lewe

Hierdie leesplan is ʼn veertig dae reis in die lig van Jesus se woorde :"Ek is die weg, en die waarheid en die lewe" (Joh.14:6). Net na Jesus se hemelvaart was mense bekend as "mense van die weg"; hierdie het gedui op Jesus wat die weg was na God, en, tweedens, die leefwyse wat hulle gevolg het. Hierdie leesplan volg Jesus se lewe sodat ons soos Hy kan leef.

More