Maak My 'n RivierSample
Die Rivier Verteenwoordig Sy Teenwoordigheid
Ons sien deurgaans dat die Rivier van die Lewe vanuit God se teenwoordigheid vloei: die plek waar Hy woon en ook die plek waarvandaan Hy regeer. Ons sien dat seën en lewe hiervandaan vloei.
Die Rivier van die Lewe is nie net ’n abstrakte idee of konsep nie, maar verteenwoordig God se teenwoordigheid en elke volgeling van Jesus is uitgenooi om in en vanuit hierdie Rivier te leef.
"Jesus het gestaan en met 'n groot stem gesê: 'Laat elkeen wat dors is, na My toe kom en drink. Elkeen wat in My glo, soos die Skrif sê, strome van lewende water sal uit hulle binneste vloei.' Hiermee het Hy die Gees bedoel wat die wat in Hom glo, later sou ontvang” (Johannes 7:38-39).
Jesus het gesê dat wanneer ons van Hom drink, ons sy lewe ontvang en met sy Heilige Gees vervul word en strome van lewende water uit ons lewens sal vloei.
Die Rivier vloei nie net uit sy teenwoordigheid nie, dit IS sy teenwoordigheid, en sy teenwoordigheid kan nie geskei word van sy Heilige Gees nie. Vanuit die Rivier van sy Gees vloei verlossing, genesing, herskepping en die vreugde wat voortspruit vanuit 'n diep vriendskap met Hom.
Wanneer ons na die evangelies kyk (die boek Handelinge demonstreer dit ook), sien ons terwyl Jesus en sy volgelinge te werk gaan om die goeie nuus te verkondig, word soveel mense gesond en wonderwerke vloei voort.
Die Here nooi jou vandag uit om in en vanuit sy Gees te leef. Wil jy nie vandag die eerste tree gee nie? Miskien is dit net om in die Rivier van sy Gees te klim, miskien is dit om in geloof dieper in te gaan, of self soos Esegiël te moet swem. God roep elkeen van sy kinders vandag na ’n dieper plek van ontmoeting toe, sodat Hy Homself opnuut aan ons kan openbaar en ons Hom sterker en beter as ooit vantevore sal verteenwoordig. Luister na die lied, "Rivier" in die video hier onder as deel van jou oordenking en oorgawe.
Hierdie leesplan is voorsien deur Worship Awake, 'n netwerk van aanbiddingleiers in Suid-Afrika.
Baie dankie aan Hennie Maritz vir die skryf van hierdie leesplan. Hennie is 'n lid van die lof en aanbiddingsgroep, "Duis:Lig" en mede-skrywer van die lied, "Rivier". Hy is ook pastoor van sy eie gemeente, Remembrance in Johannesburg.
* Klik gerus op die skakel om meer te uit te vind oor Duis:Lig
Scripture
About this Plan
Jesus nooi ons uit om by Hom te kom drink en om in Hom te glo sodat riviere lewende water uit ons binneste kan vloei (Joh. 7:37-38) In hierdie 5-dag leesplan gaan ons op 'n reis om die betekenisvolheid van God se rivier te ontdek en ook hoe ons in die stroom van sy Gees kan leef sodat ons Hom op die beste manier kan verteenwoordig.
More