10 Kernwaarhede Van DissipelskapSample
Kernwaarheid 7 - God het my VERGEWE, daarom verwag Hy dat ek ander vergewe.
Kom ons wees eerlik, dit is sekerlik nie altyd maklik om te vergewe nie. Alhoewel dit soms 'n enorme stryd is, is vergifnis vir God 'n baie belangrike beginsel.
Het jy al ooit gewonder hoekom vergifnis vir God so belangrik is? Wat maak die eindresultaat so aanloklik vir die Satan dat hy so hard baklei om jou kwaad te hou? Almal sê altyd jy moet vergewe … Maar nie hoekom nie. Wat gaan die eindresultaat vir jou wees? En wat is die resultaat indien jy sou kies om dit nie te doen nie?
Die realiteit is dat onvergewensgesindheid ‘n effek op ons liggaam, siel en gees het!
Die effek op ons liggaam — dit tas ons fisies aan! Deur emosies van bitterheid te vertroetel, verminder ons die afskeiding van serotonien in ons brein. Serotonien is een van die hormone wat ons laat goed voel en dit het ‘n baie belangrike funksie — dit reguleer jou bui, jou eetlus, en selfs slaappatrone. Dit speel ook ‘n rol in wondheling en dit het ‘n groot effek op kognitiewe funksies, veral rondom ons geheue en leervermoë. Onvergewensgesindheid kan jou letterlik depressief maak! Dit affekteer jou liggaam en gedagtes!
Die effek op ons gees – Johannes 15:5 sê dat as ons in Christus is, sal ons vrug dra … Hoe weet ek (en die wêreld) dat ek in Christus is? Deur my dade. Daar is ‘n spreekwoord wat sê “woorde wek, maar voorbeelde trek”. Ons bly in Christus deur sy opdragte uit te voer. In Johannes 15:12 gee Hy ons ‘n opdrag om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet. Daarom, as ons mekaar nie vergewe nie, bly ons nie in Christus nie. Dis ‘n harde waarheid, maar ons kan dit nie ignoreer nie! God verwag van ons om mekaar en ander te vergewe, omdat Hy ons eerste vergewe het!
Moenie dat die Satan jou in die wurggreep van onwilligheid om te vergewe hou nie. Kies vandag om te vergewe!
VRAE VIR REFLEKSIE:
- Wat het jy vandag geleer?
- Hoe gaan jy dit prakties in jou lewe toepas?
About this Plan
'n Lewe van oorwinning, is dit moontlik? Ja dit is! Die Woord sê dat ons in Christus meer as oorwinnaars is! Om vanuit hierdie oorwinning te leef is dit belangrik dat ek en jy sekere waarhede oor Jesus en sy afgehandelde werk in ons lewens vasmaak. Kom ontdek in die volgende 10 dae 10 kernwaarhede van dissipelskap wat jou sal help om in hierdie raamwerk te anker .
More