YouVersion Logo
Search Icon

Die Here Is My HerderSample

Die Here Is My Herder

DAY 7 OF 7

Altyd by my 

Wanneer ons terugkyk op ons lewe, sien ons God se hand in ons lewe. Sy antwoorde op ons gebede was waarskynlik nie altyd soos ons gedink het dit moes wees nie. Dalk wag ons nog vir party beloftes om te realiseer. Dalk lê daar ’n tyd vol droefheid en swaarkry en verlies agter jou. Dit is vir ons moeilik om God se plan duidelik in alles te sien.

Wanneer ons terugkyk op Dawid se lewe en op die beloftes wat God aan hom gemaak het, sien ons dat hulle almal bewaarheid is — in ’n veel ruimer sin as wat Dawid ooit sou kon vermoed. Ons moet aan hierdie wete vasklou.

Israel het aan die Sionsberg as die woonplek van God gedink. Daarom word dit regdeur die Ou Testament as simbool van God se teenwoordigheid gesien. Dit is dus gepas dat ons, soos Dawid, ons oë op die berge sal vestig — in vaste geloof dat God, die Ewig-Sterke, daar is vir ons. Onveranderlik. Rotsvas.

Met Christus se koms het God se teenwoordigheid konkreet sigbaar geword. Sy Seun, Immanuel, wat beteken God met ons het tussen ons kom woon.

Ons hoef dus nie bang te wees nie. God is inderdaad met ons.

Psalm 125 eindig met ’n seënbede: "Mag daar vir Israel vrede wees."

Die Vredevors is by ons. Dit is ’n belofte.

Here, dankie dat ons elke nuwe dag saam met U kan instap. Amen



Hierdie 7-dag leesplan is saamgestel uit DIE HERE IS MY HERDER deur Lizette Murray © Christelike Uitgewersmaatskappy.

Day 6

About this Plan

Die Here Is My Herder

Het God al ooit vir jou ver gevoel? Oorverdowend stil wanneer jy Hom die nodigste het? Lizette Murray lei ons in hierdie 7 dagstukke uit haar dagboek DIE HERE IS MY HERDER om opnuut te ontdek dat God ons nooit verlaat nie. Hy is áltyd by ons. Hy is daar in die vreugdes van die lewe, maar ook in die hartseer en donker tye.

More