YouVersion Logo
Search Icon

Moenie Vir Die Vyand ’N Plek Aan Jou Tafel Gee NieSample

Moenie Vir Die Vyand ’N Plek Aan Jou Tafel Gee Nie

DAY 2 OF 6

Die vyand se taktiek

Dit neem slegs ’n oomblik vir die vyand om hom in te wriemel in ’n sitplek aan die tafel wat jou Herder vir jou voorberei het. Skielik is dit nie meer net jy en God Almagtig aan jou tafel nie. Die vyand het net die kleinste opening as gevolg van twyfel of ’n krakie van onsekerheid nodig om te begin om die stryd om jou gedagtes te wen.

Ongelukkig het ons dit as normaal begin aanvaar om die vyand aan ons tafel te sien. Dit is ’n groot probleem. Ons gee vir hom toestemming elke keer wanneer ons die leuen glo dat ons nie veel werd is voor God – of enigiemand anders – nie. Of ons neem die uitgangspunt aan dat ons meer verdien en laat jaloesie en hebsug ons Godgegewe identiteit opvreet. En voor ons weet, praat ons soos die duiwel en dink ons die gedagtes waarop hy wil hê ons moet fokus.

Om die vyand toe te laat om ’n sê in ons lewe te hê, behoort nie normaal te wees nie. In die Naam van Jesus kan ons hom en sy gewoontes weerstaan. Dieselfde Heilige Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, leef in almal wat hul geloof in Hom gesit het as hul Verlosser en Heer. Jesus Christus het die mag van die sonde gebreek en God se uitnodiging aan ons is om ’n nuwe siening en manier van leef aan te gryp. In die Naam van Jesus hoef ons nie toe te laat dat die vyand se stem die manier waarop ons leef, beheer nie. Ons kan die stryd in ons gedagtes wen. Danksy Jesus is ons nie meer slawe nie. Ons is vrygemaak. Ons lewe. Ons is kinders van God.

Ons skep ’n groot probleem wanneer ons slegs vashou aan die eerste deel van Psalm 23:4 (die baie donker kloof), maar vergeet om die volgende deel (God se belofte om altyd by ons te bly) te onthou. Wanneer ons kamp opslaan in die vallei van moeilike tye of vervolging of eensaamheid, spoor die vyand ons aan om te twyfel of God regtig omgee. Dit is dan wat ons die geluid hoor van ’n onwelkome gas wat sy stoel nader sleep aan die tafel wat ons met God deel. Hy is dikwels eers stil. Selfs vriendelik. Jy herken hom dalk nie eens wanneer hy gaan sit nie. Dit lyk dikwels of hy aan jou kant is, en hy belowe maklike verligting vir jou struwelings (2 Korintiërs 11:14). Jou vyand sal enigiets tot sy beskikking gebruik om sy gedagtes in jou kop in te smokkel (1 Johannes 2:16).

Hoe ook al die vyand ’n plek aan jou tafel bekom: Sy doel is altyd dieselfde. Hy wil toegang tot jou gedagtes kry sodat hy jou kan verwoes (Johannes 8:44; 2 Timoteus 2:26; en 1 Petrus 5:8). Hy wil jou verhouding met God vernietig en skeiding bring tussen jou en die mense wat vir jou omgee. Jy kan nie die duiwel keer om rond te sluip nie, maar dit is jou verantwoordelikheid om te keer dat hy hom by jou tafel tuismaak.

As die vyand reeds aan jou tafel kom sit het, moet jy eerstens sy leuens raaksien en die verwoestende effek wat dit op jou lewe het, erken. Dan moet jy besef daar is ’n almagtige Goeie Herder met ’n stok in sy een hand en ’n staf in sy ander hand. Met die staf kan Hy jou gryp en na veiligheid trek. En met die stok kan hy die duiwel vermorsel (Psalm 23:4).

NADINK-VRAE

Op watter maniere het jy die vyand toestemming gegee om aan jou tafel te kom sit?

Watter verwoesting het die duiwel in jou lewe of iemand na aan jou se lewe ingebring? Watter taktiek het hy gebruik?

Hoe het jy God al in moeilike tye, jou donker kloof, beleef? Hoe het jy sy stok en sy staf in aksie gesien?

Scripture

Day 1Day 3

About this Plan

Moenie Vir Die Vyand ’N Plek Aan Jou Tafel Gee Nie

Ons almal sukkel soms om ons gedagtes te beheer en hulle eerbaar en verheerlikend vir God te maak. In hierdie 6-dag-leesplan, gebaseer op Louie Giglio se boek DON’T GIVE THE ENEMY A SEAT AT YOUR TABLE, sal jy leer hoe om beheer te neem oor jou gedagtes en emosies – deur die krag wat God vir ons gegee het deur Jesus Christus om die vyand te oorwin.

More