YouVersion Logo
Search Icon

In gesprek met my HereSample

In gesprek met my Here

DAY 14 OF 15

Gebedshindernisse

Hoekom sou dit wees dat sodra ’n mens kniel om te bid, jou telefoon lui, jou man sy hemp nóú gestryk wil hê, of daar soveel gedagtes deur jou kop flits dat jy met die beste wil ter wêreld nie op jou gebed kan konsentreer nie.

Ek het telkens ondervind dat as ek die oggend ’n uur vroeër as gewoonlik wakker word en besluit om dié ekstra uur in gebed deur te bring, my gedagtes begin dwaal — ek begin my spyskaart vir middagete uitwerk, ek dink aan die motor wat gediens moet word, óf ek raak sommer so op my knieë dadelik weer aan die slaap. Juis omdat ek so sukkel om te konsentreer het ek ontdek dat dit help om jou gesig met yskoue water te was en ’n pen en papier byderhand te hou om al die dinge wat jou gedagtes van jou gebed af hou neer te skryf sodat hulle nie jou aandag in beslag neem nie. Dit is ook ’n goeie idee om alle elektroniese apparate af te skakel terwyl jy met jou stiltetyd besig is en om jou kinders te leer dat jy dan nie gesteur mag word nie. 

Laastens kan jy die Here vra om jou te help om jou gedagtes by Hom te bepaal.

Hemelse Vader, neem asseblief alle dinge weg wat my aandag van U af wegneem, sodat ek sonder steurnisse met U kan praat. Amen.

Scripture

Day 13Day 15

About this Plan

In gesprek met my Here

Al sukkel jy om die regte woorde te vind en al wonder jy of jou gebede ooit help, is gebed iets waarmee jy erns móét maak. Nina Smit word in 15 oordenkings saam met jou stil om dié belangrike onderwerp en sorg vir ’n positiewe inspuiting vir jou gebedslewe! Hierdie leesplan is saamgestel uit ’N LEWE NABY GOD deur Nina Smit.

More