In gesprek met my HereSample
’n Praktiese gebedsles
Wanneer jy weer sukkel om te bid, neem ’n Bybelgedeelte en lees dit baie aandagtig deur. Skryf dan die teksvers of verse wat die meeste tot jou spreek neer en dink na oor presies wat dit vir jou op daardie spesifieke dag wil sê. Onthou dat dit God self is wat met jou wil praat. As jy lank genoeg by God se boodskap stilgestaan het, is dit nou jou beurt om Hom op sy persoonlike boodskap te antwoord. Dit doen jy deur te bid.
Vandag se kernteks se boodskap vir my is dat God al van voor my geboorte af vir my gesorg het; dat Hy my van kleins af vasgehou het. Nadat ek oor hierdie wonderlike beloftes nagedink het, het ek die baie kere onthou toe God in die verlede vir my onderneem het, en vir Hom dankie gesê daarvoor. Ek het ook sy belofte dat Hy in die toekoms by my sal wees en my sal dra tot ek stokoud is, vir my toegeëien en Hom daarvoor geloof. Toe ek weer op my horlosie kyk, was ’n halfuur verby — ’n wonderlike, geseënde halfuur waarin ek God se teenwoordigheid om my kon voel en sy stem op ’n intieme manier met my hoor praat het.
Vader, dankie dat U persoonlik met my praat deur die woorde van u Woord en dat ek U daarop kan antwoord. Leer my op hierdie manier om tyd saam met U deur te bring. Amen.
Scripture
About this Plan
Al sukkel jy om die regte woorde te vind en al wonder jy of jou gebede ooit help, is gebed iets waarmee jy erns móét maak. Nina Smit word in 15 oordenkings saam met jou stil om dié belangrike onderwerp en sorg vir ’n positiewe inspuiting vir jou gebedslewe! Hierdie leesplan is saamgestel uit ’N LEWE NABY GOD deur Nina Smit.
More