YouVersion Logo
Search Icon

Die Wapenrusting - Klere Vir Die OkkasieSample

Die Wapenrusting - Klere Vir Die Okkasie

DAY 2 OF 6

Vrygespreek deur God: My borsharnas!

Het jy al ooit skuldgevoelens oor iets gehad? Of is dit net ander mense wat daarmee sukkel? 

Skuldgevoelens en skaamte is een van die grootste uitdagings wat alle mense ervaar, maar veral jongmense. Hierdie skaamte gaan natuurlik nie noodwendig daaroor dat jy nie voor ander mense wil praat nie. Die skaamte is dieselfde as wat Adam en Eva ervaar het. Hulle het vir God gaan wegkruip en was skaam oor dit wat hulle gedoen het. 

Wat sou jy gedoen het as jy in Adam of Eva se skoene was? Natuurlik sou jy wegkruip! En dit is presies wat ons doen wanneer ons skaam kry. Ons probeer dit so ver as moontlik wegsteek. Ons steek dit weg van ander mense, ons ignoreer dit soveel as wat ons kan en dit maak dat ons soms vir God ook “wegkruip”. Ons voel dat ons nie meer ‘n persoonlike verhouding met God kan hê nie en ook nie alles met Hom deel nie. Jy voel of God nie vir jou nog 'n kans gaan gee nie. 

God het geweet dat Hy iets gaan moet doen om ons te help, sodat ons van ons skuldgevoelens en skaamte verlos kan word. Wat is die volmaakte offergawe wat God gegee het, sodat ek en jy van ons sondes vrygespreek kan word? Die volmaakte offergawe is Jesus Christus. As gevolg van Jesus wat Homself as die volmaakte offergawe gegee het, hoef ek en jy nie meer weg te kruip nie. Ons hoef nie meer skaam te wees nie, ons is vrygespreek. Nadat ons, ons sondes bely het hoef ons nie meer skuldgevoelens of skaamte te ervaar nie! Jy hoef ook nie skaam te wees om mense te vertel dat God jou vrygemaak het nie. Jy kan dit met vrymoedigheid verkondig. 

Wat doen ons, as Jesus se volgelinge, elke keer wanneer ons toelaat dat skuldgevoelens en skaamte die oorhand kry? Ons “kruip weg” en ons het nie meer die vrymoedigheid om ons geloof openlik uit te leef nie. Ons vrees dat ander dalk kan sê dat ons oneg is en dink dat ons beter as ander is. God wil hê dat ons van sy goedheid moet getuig, maar ons laat toe dat die vyand skuldgevoelens en skaamte gebruik om ons getuienis te verhinder. 

Die borsharnas stel God se vryspraak voor. Dit beskerm ons hart en lewensbelangrike organe. Dit beskerm ons teen die leuens wat die vyand vir ons vertel: dat ons nie goed genoeg is om vrygespreek te word nie. Dat jou verlede en jou sonde te groot is om vrygespreek te word. Dit is nie die waarheid nie. Die borsharnas herinner ons, dat ons deur Jesus se  vryspraak beskerm word. 

Jy is vrygespreek! Dra hierdie vryspraak as borharnas in jou lewe.

Day 1Day 3

About this Plan

Die Wapenrusting - Klere Vir Die Okkasie

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie. Voel dit vir jou asof jy nie oorwinning in die stryd behaal nie? Het jy al jou uitdagings vanuit 'n geestelike perspektief benader? Oorwinning in hierdie stryd word behaal deur die ses waarhede van die wapenrusting elke dag deel van jou lewe te maak. As jy vir jou geestelike stryd moed nodig het, gaan hierdie leesplan jou help!

More