Gebede wat God altyd verhoorSample
Praat direk met die Here
Moses het tyd ingeruim om mét God te praat, nie net óór Hom nie. Moses se dagboek was ongetwyfeld vir jare vooruit vol beplanning, krisisbestuur, en noem maar op. Moses kon maklik in die roetine verval om sy gesprekke met God te verander tot ’n vinnige gebed kort voor slaaptyd, of ’n roetine gebed daar by die etenstafel. Maar niks daarvan nie! Nee, Moses het gereeld met God gepraat, een tot Een. Dit was die geheim van sy vriendskap met die Allerhoogste. Hy het tyd gemaak vir gesprekke met God. Hierdie privaat ontmoetings was die hoogtepunt van sy daaglikse agenda!
As jy vriende wil wees met iemand, moet jy tyd maak vir hom of haar! Hoeveel te meer geld dit nie vir jou verhouding met God nie. Maak tyd om mét Hom te praat. Dan groei hierdie hemelse vriendskapsband al hoe sterker! God het tyd, maar ek en jy moet tyd maak. Dit is wat Habakuk gedoen het. Daarom het hy God se hart nuut leer ken. Daarom het hy die les van sy eie lewe geleer dat God nou hier is. Hy is nie nêrens nie; Hy is hier!
Opregte vriendskappe is kosbaar. Goeie vriende kan deur dik en dun op mekaar se steun reken. Hulle kan mekaar enige tyd van die dag of nag lastig val. God is so ’n Vriend (Luk. 11:5-8). Hy bly onder alle omstandighede getrou aan sy aardse vriende. Hy neem hulle opinies in ag. God luister wanneer hulle tot Hom nader in gebed en Hy verhoor hulle gebede – selfs wanneer hulle die onmoontlike van Hom verwag! Vra vir Moses. Hy moes op ’n dag vir God gaan vra om sy planne te verander. Hy moes die Allerhoogste oorreed om af te sien van sy plan om ’n engel saam met sy volk te stuur omdat Hy nie meer saam met hulle wou trek nie. En Moses het dit reggekry. God was bereid om ’n volk se lot te verander ter wille van sy aardse vriend se kragtige gebed!
Scripture
About this Plan
Vir baie gelowiges is frustrasie iets wat hulle gebedslewe karakteriseer, en dit voel meestal of God nie hoor as hulle bid nie. Dié dagstukkies, gebaseer op Stephan Joubert se boek GEBEDE WAT GOD ALTYD VERHOOR, wys aan die hand van Bybelse rigtingwysers hoe ons moet bid sodat God, wie se oor altyd na sy kinders gedraai is, sal luister.
More