Gebede wat God altyd verhoorSample
God hoor almal
Die Here ken nie iets soos celebrity-Christene wat in die geestelike eersteklas bid en die res van ons wat maar in die ekonomiese klas of selfs in die vragruim van die gebedskamer moet uithang nie.
Al God se kinders is gelyk voor Hom. Hy het ons almal ewe veel lief. Hy trek nie een van ons voor nie. Dit geld aan hierdie kant van die graf, sowel as aan die ander kant. Van laasgenoemde gepraat, Jesus verduidelik in sy gelykenis van die arbeiders wat op verskillende tye deur die loop van die dag gehuur is (Matt. 20) dat ons almal tot in die verste ewigheid gelyk is voor God. Uiteindelik betaal die eienaar vir een en almal dieselfde loon. Dit was pynlik vir dié wat vroegdag begin werk het, maar die Eienaar (God) hou voet by stuk dat Hy sy woord teenoor elkeen gehou het en aan hulle gegee het wat Hy met hulle persoonlik ooreengekom het. Punt is: God gee vir ons almal presies dieselfde geskenk, naamlik die ewige lewe in sy teenwoordigheid. Dan sal Hy mos aan hierdie kant ook dieselfde teenoor al sy kinders optree.
In God se oë is daar nie klasseverskille of statusverskille tussen Christene nie. Ons almal is ewe naby aan Hom. Titels en kerklike posisies tel niks vir Hom nie. Ons almal is geliefde kinders in sy huis. Mans of vroue, slawe of vryes, Jode of nie-Jode – ons almal is een in Christus (Gal. 3:28). Net soos goeie ouers nie diskrimineer tussen hulle kinders nie, doen God dit ook nie.
Ja, die Woord het duidelike uitsprake oor die aard en inhoud van egte gebed, maar dit maak nie van God ’n wispelturige God wat sekere bidders by voorbaat voortrek nie. Hy hoor elke gebed wat opreg in Jesus se Naam voor sy troon geoffer word. Hy nooi ons almal ewe veel uit om te bid. En Hy waarborg dat elke opregte gebed groot effek het. Elkeen wat Hom opsoek volgens sy voorwaardes sal aangehoor word. Hy draai sy oor na elke persoon, arm of ryk, swak of sterk, wat Hom gelowig aanroep.
About this Plan
Vir baie gelowiges is frustrasie iets wat hulle gebedslewe karakteriseer, en dit voel meestal of God nie hoor as hulle bid nie. Dié dagstukkies, gebaseer op Stephan Joubert se boek GEBEDE WAT GOD ALTYD VERHOOR, wys aan die hand van Bybelse rigtingwysers hoe ons moet bid sodat God, wie se oor altyd na sy kinders gedraai is, sal luister.
More