Gesinspret met Kersfees deur Ewald & Beatrix van Rensburg Sample
Selfbeheersing
Beste en slegste
Gee elkeen ’n kans om oor die beste en slegste oomblik van elkeen se dag te gesels.
Waar het jy Jesus vandag ontmoet?
Gesels met mekaar oor waar elkeen vandag vir Jesus ontmoet het, of oor iets of iemand wat jou aan Hom laat dink het.
• Skryf alles neer wat julle in die Bybelverse oor selfbeheersing, eenvoud en feesviering geleer het.
• Hoe gaan julle dit in jul lewe toepas?
Gedagte vir die dag
’n Sielkundige, Walter Mischel, het in die 1960’s met ’n eksperiment in selfbeheersing begin by ’n kleuterskool op die Stanford Universiteitskampus. Hy het vir die kinders vertel dat hulle dadelik ’n malvalekker kon kry maar as hulle wag, kon hulle twee kry. Daar was kinders wat gewag het – tot 20 minute lank! Die geheim om selfbeheersing toe te pas en uit te hou, is natuurlik om aan iets anders te dink. Maar die interessantste was die opvolgtoets toe die kinders al volwassenes was. Die kinders wat kon wag, was ook as volwassenes mense wat selfbeheersing kon toepas en ook lewensprobleme makliker kon hanteer. Die ander was egter as grootmense gestres en besluiteloos! Dit laat ’n mens dink, nè?
Maar die selfbeheersing waarvan Paulus hier praat is meer as dit. Baie meer as dit. Lees gerus Galasiërs 5:24 in Die Boodskap: “Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef. Want al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker.”
Selfbeheersing maak dat ons anders is, want ons is Geesbeheers. Selfbeheersing is om Ja te sê vir reg dink en leef en Nee te sê vir verkeerd dink en leef omdat ons deur die Gees leef en gelei word.
Doen saam
Wees bewus daarvan dat jou liefde, respek en bedagsaamheid in jou gesinslewe insluit. Beplan en maak julle eie gesinsvideo. (Die meeste selfone kan video-opnames maak en daar is verskeie toepassings beskikbaar om dit af te rond en selfs musiek by te sit.)
Gebed
O Here, gee ons as gesin ’n hart van liefde en omgee in hierdie Kerstyd. Help elkeen van ons om vriendelikheid, selfbeheersing en vrygewigheid te betoon. Amen.
Leef jou geloof
Dink aan ’n paar mense vir wie julle as gesin wil bemoedig. Stel ’n geskenkpakkie saam met hul gunstelingdinge (bv. seep, koekies, blomme, sokkies, sjokolade) en neem dit vir hulle om hulle spesiaal te laat voel.
Net vir ouers
Lees Sagaria 4:10 en moenie die dag van oënskynlike klein dingetjies minag nie Leef die goeie raad prakties uit en sê gereeld dankie vir die klein dingetjies wat jou kinders doen.
About this Plan
Hierdie 5-dag-leesplan is ideaal vir Advent-oordenkings vir die hele familie en sal verhoudings, spanwerk, geduld en oorweging aanmoedig. Elke dag bevat Bybelverse, ’n geleentheid vir gesinslede om oor hulle dag te praat, ’n oordenking, ’n prettige aktiwiteit, ’n gebed asook “leef jou geloof” en “net vir ouers” gedeeltes. Die inhoud van hierdie leesplan is gebaseer op Ewald en Beatrix van Rensburg se “Nader aan God, nader aan mekaar”.
More