YouVersion Logo
Search Icon

SuurlemoenseisoenSample

Suurlemoenseisoen

DAY 4 OF 7

Ja, daar is probleme...

Volgens Einstein is kranksinnigheid om herhaaldelik dieselfde ding te doen terwyl jy elke keer ’n ander uitkoms verwag. Wel, hallo. Noem my Amanda Stapelgek.

’n Mens trap maklik in dié strik wanneer jy deur ’n oormag probleme gekonfronteer word. Jou visie vernou en jy kan nie aan oplossings dink nie. Vrees klop aan die deur. Nie net jou produktiwiteit en kreatiwiteit word belemmer nie; dit besoedel ook jou geestelike lewe en verhouding met die Here.

Dan is dit nie meer die omstandighede self wat jou pootjie nie, maar jou onvermoë om verder te kyk.

Ons gaan altyd probleme hê. Sommige klein en nietig, ander groot en verlammend.

Die Here het geweet hoe probleme en vrees ons sou intimideer om weg te hardloop voordat ons ons beloftes vir ons kan toe-eien. Daarom word ons deurentyd aangemoedig om dapper te wees.

Kort voor Israel die Jordaanrivier sou oorsteek om ná 40 jaar uiteindelik hul Beloofde Land te betree, het die Here dit behoorlik by Josua ingeprent: “Wees sterk en dapper” (Jos 1:6); “Wees sterk en baie dapper!” (v 7); “My opdrag aan jou is dat jy sterk en dapper moet wees. Moenie bang of huiwerig wees nie” (v 9).  

Sommer met die intrapslag in Josua 1 (NLV) herhaal Hy dié opdrag drie keer!

Ons moet altyd let op die Here se woordkeuses. As Hy sê wees sterk en dapper en moenie bang wees nie, gaan daar beslis geleentheid wees om baie bang te word. Jy sal dalk vergeet hoe om die woord dapper te spel.

So was dit ook met Israel. ’n Hoop probleme het op hulle gewag in die vorm van nasies wat hulle moes uitwis. Die plek het van reuse en ongediertes gewemel.

Maar die Here lei ons net in ’n oorlog in wanneer Hy reeds beplan het om dit vír ons te wen. Juis daarom sê Hy ons moet dapper en vol moed wees. Ons kruip net met ons bewende kniekoppe agter Hom weg. Nadat die stryd gewen is, klop Hy ons boonop op die skouer en sê: “Mooi so! Goeie geveg, my kind.”

Wanneer jy op die stryd terugkyk, weet jy nie aldag hoe jy daardeur gekom het nie. Jy kan ook nie juis te koop loop met jou dapperheid en krag nie. Jy kan bloot jou hande ophef en die eer aan die Here gee, juis omdat jy wéét dit was nie jy nie.

Ons moet kies om God se belofte in Deuteronomium 31:6 as ewige waarheid te aanvaar: “Moenie bang wees nie, want Ek is met jou. Ek sal jou nie in die steek laat nie en jou nie verlaat nie.”

Daar is tye wanneer ons nie oplossings kan vind nie, maar Hý weet altyd hoe om ons daarby uit te bring. As ons stil genoeg kan raak om te midde van die onrustigheid weer sy stem te hoor, sal Hy ook vir ons die weg uit die wildernis wys.

Dit is ’n pad wat ons dapper en vol moed kan trotseer.

Scripture

Day 3Day 5

About this Plan

Suurlemoenseisoen

Kyk anders na jou lewe en dink in terme van die liefde en goedheid van God as ’n Vader, Verlosser en Vertrooster. Besef dat daar in Hóm altyd ’n oplossing is vir selfs die suurste suur wat die lewe kan opdis.

More