YouVersion Logo
Search Icon

Herwin Jou BalansSample

Herwin Jou Balans

DAY 6 OF 7

WÊRELDSE DINGE MAAK MY MAKLIK BANG  

Ek het die laaste tyd in my lewe net gevra waarvoor ek moet blind en doof word. Wat ek moet begin sien en wat ek moet begin hoor. My ou manier van hoor en sien het nie vir my stabiliteit gegee nie. Inteendeel, dit het my net verwar. 

Hoe meer ek na die wêreld kyk, hoe meer paniekerig raak ek. Hoe meer dryf vrees my en hoe meer wil ek presteer. Hoe meer wil ek Hosea wees en self alles uitsorteer. En hoe meer ek van die wêreldse dinge hoor, hoe minder word my geloof. 

Ek het besef as ek net begin hoor en sien wat ek moet, dan groei daar liefde en geloof in my hart. Dan is ek vasbeslote om ’n verskil te maak in hierdie wêreld. 

Die afgelope tyd sien ek dinge anders, want dit is wat ek gevra het om te sien. Ek wil nie net sien wat almal sien nie. Ek wil sien wat die koninkryk sien. Ek wil nie net hoor wat almal hoor nie, ek wil hoor wat die engel fluister. 

Ek huil deesdae maklik as ek lees van ander mense se pyn en hartseer. Dit het nooit voorheen gebeur nie! Ek kyk skielik met ander oë daarna. Ek hoor van mense in die kerk se gebedsversoeke en my hart breek vir hulle. 

Jou aardse oë en ore moet toe gaan. Dit wil sê daar moet trauma, pyn en teleurstellings in jou lewe wees. Anders ontwikkel jy nooit die behoefte om geestelik te sien en hoor nie. Daar is baie sulke voorbeelde: Ouers wat ’n kind begrawe, ’n bankrekening wat in die rooi is, mense wat nie mediese kostes kan betaal om ’n lewe te red nie. Iemand wat nog nie seer gehad het nie, se geestesoë bly dof. 

 Ons het al almal iemand anders seergemaak of is deur iemand seergemaak. Ek is een van hulle! Al wat ons kan doen, is om te vra vir opregte liefde, al is ons te na gekom. Gelukkig hoef ons dit nie uit ons eie krag te doen nie, want ons sal dit nooit regkry nie. Net die Gees kan ons help. Gun ander en jouself ruimte om foute te maak. Ons is almal sondaars en gebroke mense, maar ons is almal ongelooflik kosbaar vir die koninkryk. 

Die saak staan so: Jy kan toe nie kanker gesond maak nie. Jy kan toe nie jou werk beskerm nie. Jy kan toe nie jou bankrekening vol hou nie. Jy kan toe nie jou kinders se keuses beheer nie. Jy kan nie alles in die lewe fix nie. Maar daar is Iemand wat dit kan doen. 

Ek is jammer as jy op die oomblik seer in jou lewe ervaar. Wanneer dit vir jou voel die lug word uit jou longe gepers. As jy nie hoop het vir môre nie, byt vas, jou pyn gaan nog jou lewesverhaal baie mooi maak. 


Day 5Day 7

About this Plan

Herwin Jou Balans

Jou keuse: Gaan jy toelaat dat jou krisis jou definieer en jou vreugde steel? Of gaan jy sterker word? Dis nie maklik nie, maar dis hoe geloof groei. In hierdie 7 dae wys Andries Enslin ons hoe om jou balans te herwin voordat jy jou Goliat aanvat en sterker anderkant uit kom ná seerkry en pyn met God wat jou dra en 100% in beheer is van jou lewe.

More