YouVersion Logo
Search Icon

Herwin Jou BalansSample

Herwin Jou Balans

DAY 2 OF 7

STABILITEIT IS BLOOT DISSIPLINE

Kom ons praat oor een van die sterkste manne in die Bybel. Maar hy’t ’n bietjie gesukkel met stabiliteit. Hy was natuurlik Simson, die man met die lang hare wat baie mense doodgeslaan het met ’n donkiekakebeen! Ons lees oor hom in Rigters 13. 

Simson se ouers word deur ’n engel besoek wat sê hulle kind gaan die verlosser van Israel wees. Die engel sê hy gaan ’n nasireër wees. ’n Nasireër mag nie met vroue van ander lande meng nie, mag nie sterk drank gebruik nie, mag nie aan dooie mense vat nie en mag nie sy hare sny nie. Daar was ’n lang lys voorskrifte. 

As jy die verhaal gaan lees, sal jy sien sy ouers het nooit vir hom gepreek oor wat hy moes doen nie. Hulle het nooit gesê: “Simson, hierdie is jou doel in die lewe. Jy gaan ’n nasireër wees. Bly weg van vreemde vroue af, bly weg van drank af, bly weg van lyke. Wees ’n goeie Christenmens.” 

Maar al wat ons sien, is hoe Simson vir al die verkeerde dinge val. Hy begin sy stabiliteit verloor. Hy hou rowwe partytjies. Dit raak so erg dat hy almal met kompetisies en raaisels uitdaag en allerhande snaakse goed doen. Dan beland hy tussen prostitute en sy hele lewe is een hartseerstorie van agteruitgang daarna. 

Hierdie wonderlike, sterk man verwoes sy eie lewe. Al wat hy weet, is, hy moet net nie sy hare sny nie, want dis waar sy krag lê. Hy besef nie eers sy krag lê eintlik in sy verhouding met God en ’n gebalanseerde, stabiele lewe nie! Ek wens ek kon hom skud en sê: “Hare is ’n bysaak, pel. Dis nie alles nie!” Lank voor Simson sy krag verloor het, het hy klaar sy ewewig verloor. Gaan lees weer sy verhaal. 

Op ’n dag, sê Simson vir Delila sy kan maar sy hare sny. Hulle neem hom gevange en die Bybel sê hy het nie eers geweet dat God hom verlaat het nie. Is dit nie hartseer nie? As jy jou balans verloor, dan raak alles buite beheer. Dan gryp jy verbete vas aan verkeerde vriende of Bybelversies om jou te pas. Jy is besig om jou vertroue te verloor in ’n hemelse Pa wat gister, vandag en tot in alle ewigheid lief is vir jou. 

Hulle neem vir Simson gevange en steek sy oë uit. Hy moes soos ’n donkie al in die rondte loop en meel maal. Aan die einde van sy lewe lei ’n seuntjie hom uit na die arena toe waar die Filistyne wag om van hom ’n bespotting te maak. 

Simson vra dat hulle hom tog net tussen twee pilare laat staan. Hoe wonderlik is die Bybel geskryf! Simson gaan staan tussen twee pilare en hy kry sy balans terug. 

Wat doen twee pilare vir ’n mens? Dit gee jou stabiliteit. Dit beteken jy weet elke dag van jou lewe God is by jou en julle stap hierdie pad saam. 

Scripture

Day 1Day 3

About this Plan

Herwin Jou Balans

Jou keuse: Gaan jy toelaat dat jou krisis jou definieer en jou vreugde steel? Of gaan jy sterker word? Dis nie maklik nie, maar dis hoe geloof groei. In hierdie 7 dae wys Andries Enslin ons hoe om jou balans te herwin voordat jy jou Goliat aanvat en sterker anderkant uit kom ná seerkry en pyn met God wat jou dra en 100% in beheer is van jou lewe.

More