YouVersion Logo
Search Icon

Toegang Tot Die TabernakelSample

Toegang Tot Die Tabernakel

DAY 5 OF 5

DIE TWEEDE VOORHANGSEL IN DIE ALLERHEILIGSTE

Die derde ingang is die voorhangsel in die Allerheiligste. Hierdie voorhangsel het skeiding gemaak tussen die heiligdom en die Allerheiligste (Ex 26:33). Agter hierdie voorhangsel kon net Aäron ingaan, en net een maal in die jaar, om as hoëpriester die voorskrifte van die groot versoendag na te kom waarvan ons in Levitikus hoofstuk 16 lees. In ’n wolk van reukwerk, en met ’n bakkie bloed, het hy ingegaan om vir homself en die volk versoening te doen nadat hy sy pragtige hoëpriesterlike gewaad afgelê het, en ’n eenvoudige wit linnerok aangetrek het. 

Die voorhangsel binne die tabernakel het gedien as ’n skeiding tussen die Heilige en Allerheiligste plekke en het verhoed dat die priesters wat daagliks die Heilige plek moes bedien, tot die Allerheiligste plek sou toetree en sterwe. Die figure van die gérubs wat op die voorhangsel geborduur was, spreek van bewaking (Gen 3:24) en het die priesters gedurig daaraan herinner om nie tot die Allerheiligste plek toe te tree nie. Soos ons tereg gesien het, het net die hoëpriester een maal per jaar, op die groot versoendag, met bloed toegang tot die regstreekse teenwoordigheid van God – om vir homself en vir die hele volk versoening te doen (Lev 16:26; 29-31).

Die voorhangsel was van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne – kunstige werk, met gérubs daarop ingeweef. Ons lees dat Besáleël en Ohóliab met die gees van wysheid en verstand en kennis en bekwaamheid gesalf is om kunstige planne uit te dink en dit uit te voer (Ex 31:1-10). Hierdie voorhangsel (gordyn) het gehang aan vier pilare van akasiahout wat met goud oorgetrek is. Die pilare het op silwervoetstukke gestaan. Aan die bokant van die pilare was kramme van goud met hakies waaraan die voorhangsel gehang het.

Soos ons reeds gesien het, spreek die veelkleurige behangsel – die pers (bloupurper), purperrooi, bloedrooi stowwe en die fyn wit dubbeldraad-linne; alles kunstig verweef – van Christus as Koning, sy lyding, dood en oorwinning, sy reinheid en geregtigheid en die feit dat Hy van die hemel kom.

Op hierdie gordyn is gérubs uitgewerk (borduur) wat die Allerheiligste beskerm het – die doel van hierdie voorhangsel was om mense weg te hou. Die gérubs op die voorhangsel was dus embleme van wagters wat waak. Die troon en heiligheid van God (versoendeksel) word bewaak. Dit word weer eens bevestig deur die feit dat op die versoendeksel (Engels: mercy-seat) twee gérubs troon. ’n Noukeurige beskouing van die Skrifte bevestig dat die gérubs, meer as enige ander skeppingswesens, bestem is om die krag, die majesteit en die heerlikheid van God ten toon te stel. Hulle is bewakers en ook die troondraers van die troon van God (Eségiël 1 en 10).

Hierdie binne-voorhangsel wys op Christus volgens Hebreërs 10:19-20.

Hierin kan ons duidelik sien dat die voorhangsel Christus se “vlees” is – dit is sy lewe hier op aarde. Die Skrif is ook duidelik in Hebreërs 9:8 dat die weg na die heiligdom nie geopen was terwyl die voorhangsel nog nie geskeur was nie. Dus spreek die voorhangsel van sy lewe en die skeuring daarvan van sy sterwe. “Die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon” (Joh 1:14). “God is geopenbaar in die vlees” (1 Tim 3:16), “gebore uit ’n vrou” (Gal 4:4). Dit was toe Jesus Christus op die kruishout gehang en uitgeroep het en daarna die gees gegee het dat ons lees: “die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur” (Matt 27:51). Volgens Hebreërs 10:20 is dit sy sterwe en nie sy lewe nie wat ons toegang tot God verleen. Die voorhangsel wat in twee geskeur het spreek ongetwyfeld van Christus se dood. Die voorhangsel as ’n versperring het, onmiddellik nadat dit in twee geskeur het, ’n geopende weg vir ons na die Allerheiligste plek daargestel. Die dood van Christus het vir die sondige mense ’n nuut-geopende weg tot die hemel na God gebaan.

In watter sin is Christus se dood vir ons ’n toegang tot God in die hemel? Christus het Hom met die sondige mens vereenselwig deur die vleeswording en het ons sondeskuld op Hom geneem (Jes 53:5; 2 Kor 5:21), en ons skuld betaal deur aan die kruis te sterf. Wie Christus Jesus as persoonlike Saligmaker aanneem, word met sy dood vereenselwig en is nou met God versoen en het vrede by God (Rom 5:1; 5:8-10). Die gelowige geregverdig in Christus (Rom 10:6-10) kan dus nou met vrymoedigheid tot God gaan (Heb 4:16; 10:19-22).

Die feit dat die Skrif verklaar dat die voorhangsel van bo na onder geskeur het, toon dat dit onmoontlik deur die toedoen van ’n mens kon gewees het. Dit was uitsluitlik ’n daad van God. Hierin het ons ’n afbeelding van die feit dat die kruisdood van Jesus nie deur die toedoen van mense was nie (Joh 10:17-18), maar wel ’n daad van God self (Ps 22:15-16; Jes 53:10).

So kan gelowiges wat met Christus deur die Heilige Gees verenig is, met vrymoedigheid in die heiligdom gaan deur die bloed van Jesus (Heb 10:19), op die meriete van sy soenverdienstelike dood. Die voorhangsel wat tussen die Heilige en die Allerheiligste moes skeiding maak (Ex 26:33), is deur ’n daad van God self mee weggedoen. 

Die Allerheiligste wat verborge was en wat net een maal per jaar deur slegs die hoëpriester betree mog word, is nou geopen. Enige gelowige mag nou daagliks deur die bloed van Jesus Christus die Allerheiligste ingaan (Heb 4:16; 10:19-20).

Christus se dood het skaduwees (Heb 8:5; 10:1) verander in substansie, dit is werklikheid. Die voorhangsel wat in twee geskeur het, teken die einde van die ou bedeling, en die begin van ’n nuwe aan (Matt 26:26-28).

Vir meer inligting en studies oor die boeke van die Bybel, besoek Raymond Lombard Ministries 


Day 4

About this Plan

Toegang Tot Die Tabernakel

In hierdie plan sal ons die omheining en die hek deeglik ondersoek, asook die ingangsdeur en die sluier van die Tabernakel. Die omheining het gedien as ’n skeiding tussen die kamp van Israel en die tabernakel. Dit het die mense verhinder om regstreeks toe te tree tot die tabernakel, waar God gewoon het.

More