YouVersion Logo
Search Icon

Toegang Tot Die TabernakelSample

Toegang Tot Die Tabernakel

DAY 1 OF 5

DIE OMHEINING SELF

Die omheining van die tabernakel was 46 meter lank, 23 meter breed en byna 2½ meter hoog, as ons die algemeen aanvaarde mate van een el as 21 duim neem (Ex 27:9-18).

Die omheining van die voorhof het uit sestig pilare bestaan waarvan elke pilaar ongeveer vyf el van mekaar gespasieer was; twintig aan die suidekant, twintig aan die noordekant, tien aan die westekant, en tien aan die oostekant. Aan die oostekant was die poort (ingang) tussen vier pilare. Die poort was die enigste toegang van buite na die tabernakel in die voorhof.

Altesame 56 pilare was met fyn wit dubbeldraad-linne behang, terwyl die poort (tussen die vier pilare) se bedekking dié van fyn dubbeldraad-linne met veelkleurige werk van pers, purperrooi en bloedrooi stowwe was (Ex 27:16).

Die omheining het gedien as ’n skeiding tussen die kamp van Israel en die tabernakel. Dit het die mense verhinder om regstreeks toe te tree tot die tabernakel, waar God gewoon het.

Die beskrywing van die omheining van die voorhof vind ons in Exodus 27:9-18.

’n Noukeurige beskrywing van die omheining van die tabernakel bring drie belangrike aspekte na vore:

  • die omheining self (Ex 27:9, 11-13);
  • die poort in die omheining (Ex 27:16); en
  • die stabiliteit van die omheining (Ex 27:19; 35:18).

Die omheining het uit vyf verskillende soorte materiaal bestaan.

  1. Die behangsel – die gordyne van dubbeldraad-linne (Ex 27:9, 11-13). Hierdie wit behangsels het aan 56 pilare gehang en het die omheining gevorm. Die linne was van vlas gemaak, en vlas groei uit die aarde. Hierdie vlas is ’n veselagtige plant wat grondstof vir linnegoedere lewer.
  2. Die pilare van akasiahout (Ex 27:10-12). Hier word nêrens gesê dat hierdie pilare van akasiahout gemaak is nie. Ons neem aan dat dit wel die geval is, omdat dit die enigste houtsoort was wat in die tabernakel gebruik is (Ex 26:32,37). Daar was altesame sestig pilare in die omheining; twintig aan elke lang kant en tien aan die twee kort kante.
  3. Die kopervoetstukke van die pilare (Ex 27:10-17; 38:17). Die sestig pilare van die omheining het sestig kopervoetstukke, waarin die pilare gerus het, as basis gehad.
  4. Die silwertoppe van die pilare (Ex 27:10-11; 38:17). Elke pilaar het ’n silwertop gehad en daarmee saam silwerkramme en silwerringe waaraan die fyn dubbeldraad-linne gehang het.
  5. Die ankers van die omheining (Ex 27:19; 35:18; 38:20; 39:40). Die ankers was penne van koper en lyne. Die penne in die grond of sand was met toue aan die silwerringe en die silwertoppe van die pilare verbind. Hiermee kon die omheining gestabiliseer word.
Day 2

About this Plan

Toegang Tot Die Tabernakel

In hierdie plan sal ons die omheining en die hek deeglik ondersoek, asook die ingangsdeur en die sluier van die Tabernakel. Die omheining het gedien as ’n skeiding tussen die kamp van Israel en die tabernakel. Dit het die mense verhinder om regstreeks toe te tree tot die tabernakel, waar God gewoon het.

More