YouVersion Logo
Search Icon

2 Konings 15

15
Koning Asarja van Juda
1In die 27ste jaar wat koning Jerobeam II in Israel regeer het, het Asarja, die seun van Amasia, koning in Juda geword. 2Asarja was sestien toe hy koning geword het en hy het 42 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja, en uit Jerusalem afkomstig. 3Die Here was tevrede met wat Asarja gedoen het, net soos dit met sy pa Amasia ook die geval was. 4Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. 5Die Here het die koning met ’n velsiekte getref, wat hom tot by sy dood geteister het. Hy het in afsondering in ’n plek van sy eie gewoon. Intussen is sy seun Jotam in bevel van die paleis geplaas en het hy ook die land regeer.
6Die res van Asarja se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. 7Na sy dood is hy by die konings van Juda in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Jotam het hom opgevolg.
Koning Sagaria van Israel
8In die 38ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Sagaria, die seun van Jero- beam II, koning in Israel geword. Hy het ses maande lank in Samaria regeer. 9Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.
10Sallum, die seun van Jabes, het teen Sagaria in opstand gekom en ’n staatsgreep uitgevoer. Hy het Sagaria in die openbaar doodgemaak en in sy plek koning geword. 11Die res van Sagaria se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. 12So het die Here se belofte aan Jehu waar geword. Hy het hom beloof dat daar tot in die vierde geslag iemand uit sy nageslag in Israel sou regeer.
Koning Sallum van Israel
13Sallum, die seun van Jabes, het koning in Israel geword in die 39ste jaar wat koning Asarja van Juda regeer het. Hy het ’n maand lank in Samaria regeer. 14Menahem, die seun van Gadi, het toe uit Tirsa opgeruk en Sallum in Samaria aangeval. Hy het Sallum doodgemaak en in sy plek koning geword.
15Die res van Sallum se geskiedenis, insluitend die staatsgreep wat hy uitgevoer het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.
Koning Menahem van Israel
16In dié tyd het Menahem die dorp Tifsag aangeval. Aangesien hulle nie die poorte wou oopmaak nie, het hy die stad en die hele omgewing tot by Tirsa se mense doodgemaak en die swanger vroue oopgesny.
17In die 39ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Menahem, die seun van Gadi, koning in Israel geword. Hy het tien jaar lank in Samaria regeer. 18Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.
19Toe koning Tiglat-Pileser van Assirië Israel in dié tyd aanval, het Menahem hom 34 ton silwer betaal. In ruil sou Tiglat-Pileser Menahem se koningskap in Israel steun. 20Menahem het die geld in die hande gekry deur die land se ryk mense ’n spesiale belasting te laat betaal. Elkeen was verplig om 570 gram silwer betaal. Ná die betaling het Tiglat-Pileser besluit om nie die land aan te val nie, en is terug na sy eie land toe.
21Die res van Menahem se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. 22Menahem het gesterf en is deur sy seun Pekahia opgevolg.
Koning Pekahia van Israel
23In die 50ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Pekahia, die seun van Menahem, koning in Israel geword. Hy het twee jaar lank in Samaria regeer. 24Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.
25Remalja se seun Peka, wat Pekahia se adjudant was, het ’n staatsgreep teen Pekahia uitgevoer. Hy en 50 soldate uit Gilead het vir Pekahia, Argob en Arje in die paleis in Samaria doodgemaak. Peka het toe in Pekahia se plek koning geword.
26Die res van Pekahia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.
Koning Peka van Israel
27In die 52ste jaar wat koning Asarja in Juda regeer het, het Peka, die seun van Remalja, koning in Israel geword. Hy het twintig jaar lank in Samaria regeer. 28Die Here was nie tevrede met sy optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het.
29In Peka se tyd het Tiglat-Pileser van Assirië Israel weer aangeval. Hy het die stede Ijon, Abel-Bet-Maäka, Janoag, Kedes en Hasor ingeneem. Daarby het hy die streke Gilead en Galilea, die hele stamgebied van Naftali, afgeneem en die mense as gevangenes na Assirië weggeneem.
30Ela se seun Hosea het intussen ’n staatsgreep teen Peka beplan. Hy het hom aangeval en doodgemaak en in sy plek koning geword oor Israel. Dit het gebeur in die twintigste jaar wat koning Jotam van Juda, Asarja se seun, regeer het. 31Die res van Peka se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.
Koning Jotam van Juda
32In die tweede jaar wat koning Peka in Israel regeer het, het Jotam, die seun van Asarja, koning in Juda geword. 33Jotam was 25 toe hy koning geword het en het sestien jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jerusa, ’n dogter van Sadok. 34Die Here was tevrede met wat Jotam gedoen het, soos dit met sy pa Asarja die geval was. 35Hy het egter nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand. Dit was Jotam wat die Boonste Poort van die tempel van die Here herstel het.
36Die res van Jotam se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. 37Dit was in dié tyd dat die Here begin het om Resin, die koning van Aram, en Peka, die koning van Israel en seun van Remalja, te stuur om Juda aan te val. 38Na sy dood is Jotam by sy voorvaders in die Stad van Dawid begrawe. Sy seun Agas het hom opgevolg.

Currently Selected:

2 Konings 15: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy