YouVersion Logo
Search Icon

2 Konings 14

14
Koning Amasia van Juda
1Amasia, die seun van Joas, het koning van Juda geword. Dit was in die tweede jaar wat koning Joas, die seun van Joahas, in Israel regeer het. 2Amasia was 25 toe hy koning geword het en hy het 29 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jehoaddan, afkomstig uit Jerusalem.
3Wat Amasia gedoen het, het die Here tevrede gestel, maar nie soos sy voorvader Dawid nie. Hy het dieselfde dinge as sy pa Joas gedoen: 4hy het nie die heidene se heilige plekke vernietig nie. Die mense kon aanhou om diere daar te gaan offer en wierook te brand.
5Toe die mag stewig in Amasia se hande gevestig was, het hy die amptenare wat sy pa vermoor het, laat doodmaak. 6Hy het egter nie hulle kinders laat doodmaak nie, want die Here verbied dit in die wetboek van Moses. Daar staan dat ’n ouer nie vir die oortreding van ’n kind, of ’n kind vir die oortreding van ’n ouer die doodstraf kan kry nie. Elkeen moet vir sy eie oortredings gestraf word.
7Dit was Amasia wat 10 000 Edomiete in die Soutdal verslaan het. Hy het ook die dorp Sela verower en die naam na Jokteël verander, soos dit nou nog genoem word.
Amasia daag koning Joas van Israel uit
8Op ’n dag het Amasia boodskappers na koning Joas van Israel, die seun van Joahas en kleinseun van Jehu, gestuur. Die boodskap was: “Kom, laat ons teen mekaar veg!”
9Joas het Amasia met ’n fabel geantwoord: “In die Libanonberg was daar ’n distelbos wat vir die sederboom gesê het: ‘Laat jou dogter met my seun trou.’ Net toe kom daar egter ’n wilde dier verby wat die distelbos vertrap. 10Jy het inderdaad nou vir Edom verslaan en jy voel trots daarop. Wees tog nou tevrede daarmee en bly by die huis! Waarom wil jy nou moeilikheid maak wat vir jou én die mense van Juda net ongeluk kan bring?”
11Amasia wou nie luister nie. Joas van Israel het toe teen Amasia van Juda gaan veg en hulle het by Bet-Semes in Juda slaags geraak. 12Juda is deur Israel oorwin en die soldate het huis toe gevlug. 13Joas het Amasia in Bet-Semes gevang en verder getrek Jerusalem toe. Daar het hy ’n stuk van Jerusalem se muur laat afbreek: omtrent 180 meter tussen die Efraimspoort en die Hoekpoort. 14Toe het hy die stad geplunder: hy het al die goud en silwer wat hy kon kry, gevat, asook die waardevolle goed in die tempel en die stoorkamers van die paleis. Hy het dit, saam met die gyselaars wat hy gevang het, Samaria toe geneem.
15Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. 16Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe. Jerobeam II het hom opgevolg.
17Amasia het ná Joas se dood nog vyftien jaar lank gelewe. 18Die res van Amasia se geskiedenis word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings. 19Daar is ’n komplot in Jerusalem teen Amasia gesmee en hy het na Lagis toe gevlug. Die samesweerders het die moordenaars agter hom aangestuur en hom daar in Lagis vermoor. 20Hulle het sy lyk op perde na Jerusalem toe teruggeneem, waar hy in sy familiegraf in die Stad van Dawid begrawe is.
21Al die mense van Juda het toe Amasia se sestienjarige seun Asarja koning gemaak in sy pa se plek. 22Na sy pa se dood het Asarja die stad Elat herbou en dit vir Juda teruggeneem.
Koning Jerobeam II van Israel
23In die vyftiende jaar wat koning Amasia in Juda regeer het, het Jerobeam II, die seun van Joas, koning in Israel geword. Hy het 41 jaar in Samaria regeer. 24Die Here was nie tevrede met Jerobeam II se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam, die seun van Nebat, Israel laat doen het. 25Maar tog het hy al die grond wat Israel verloor het, teruggeneem. Hy het Israel se grense van Lebo-Hamat af tot by die Dooie See herstel.
Dit het gebeur volgens die uitspraak van die Here, die God van Israel, deur die profeet Jona, die seun van Amittai, uit die dorp Gat-Gefer. 26Die Here het die bitter lyding van die Israeliete gesien. Hulle was heeltemal gedaan, want daar was niemand wat hulle kon help nie. 27Aangesien die Here nie besluit het om Israel van die aardbodem af weg te vee nie, het Hy Jerobeam II, die seun van Joas, gebruik om hulle te red.
28Die res van Jerobeam II se geskiedenis en alles wat hy gedoen het, ook sy dapperheid in gevegte en hoe hy Damaskus en Hamat vir Israel teruggeneem het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings. 29Na sy dood is Jerobeam II by die konings van Israel begrawe. Hy is deur sy seun Sagaria opgevolg.

Currently Selected:

2 Konings 14: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy