YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 42

42
BOEK TWEE
(Ps 42 – 72)
1Vir die •musiekleier. 'n Maskiel. Van die Koragiete.
2 Soos 'n wildsbok
wat smag na waterstrome,
so smag my siel na U, o God.
3 My siel dors na God,
na die lewende God.
Wanneer kan ek in die •tempel ingaan
en voor God verskyn?
4Trane is dag en nag my brood,
omdat daar die hele dag lank
vir my gevra word:
“Waar is jou God?”
5Hieraan moet ek dink
terwyl ek my hart uitstort,
hoe ek optrek in 'n magtige skare,
hoe ek voor hulle uit gaan
na die huis van God,
met luide jubelkrete
en dankliedere –
'n feesvierende menigte.
6Waarom kwyn jy weg, my siel,
en is jy so onrustig in my?
Hoop op God,
want ek sal Hom weer prys
vir die verlossing
wat sy teenwoordigheid bring.
7My God!
My siel kwyn weg in my,
daarom dink ek aan U
hier uit die Jordaanstreek
en by die Hermonberge,
hier van berg Misar af.
8Die diep water laat die geluid
van u watervalle weergalm.
Al u deinings en golwe
het oor my gespoel.
9Bedags sal die Here
sy troue liefde laat geld,
en snags sal 'n lied vir Hom
by my opkom,
'n gebed tot die God van my lewe.
10Ek wil vir God sê:
“My rotsvesting,
waarom het U my vergeet,
waarom moet ek in rouklere loop
oor die verdrukking deur 'n vyand?”
11Dit sny tot op die been,
as my teenstanders my tart
deur die hele dag lank vir my te vra:
“Waar is jou God?”
12Waarom kwyn jy weg, my siel,
en is jy so onrustig in my?
Hoop op God, want ek sal Hom,
my God, weer prys vir die
verlossing wat Hy, my God,
deur sy teenwoordigheid bring.

Currently Selected:

Psalms 42: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in