YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 25

25
1Van Dawid.
א ALEF
Na U, Here, hunker ek.
ב BET
2My God, op U vertrou ek;
laat my tog nie beskaamd staan nie;
laat my vyande nie oor my jubel nie.
ג GIMEL
3Ja, niemand wat op U wag,
sal beskaamd staan nie;
maar hulle wat sonder rede
ontrou is, sal beskaamd staan.
ד DALET
4 Here, maak u paaie aan my bekend;
leer my u weë.
ה HE
5Lei my deur u waarheid
ו WAW
en leer my,
want U is die God wat my red;
op U wag ek die hele dag.
ז ZAJIN
6Dink aan u barmhartigheid
en u troue liefde, Here,
want dit is van altyd af daar.
ח GET
7Aan die sondes van my jeug
en my oortredings
moet U nie dink nie;
dink aan my in u troue liefde,
omdat U goed is, Here.
ט TET
8Die Here is goed en reg,
daarom leer Hy sondaars die pad.
י JOD
9Mag Hy verdruktes lei in wat reg is;
mag Hy hulle sy pad leer.
כ KAF
10Al die paaie van die Here
is troue liefde en waarheid
vir hulle wat hou by sy verbond
en sy bepalings.
ל LAMED
11 Ter wille van u Naam, Here,
vergewe my sondeskuld,
want dit is groot.
מ MEM
12Wie is die mens
wat vir die Here ontsag het?
Die Here leer hom die pad
wat hy moet kies.
נ NUN
13Sy lewe verloop voorspoedig
en sy nageslag sal die land besit.
ס SAMEK
14Die Here neem
hulle wat vir Hom ontsag het,
in sy vertroue,
en sy verbond is daar
om hulle te onderrig.
ע AJIN
15My oë bly altyd op die Here,
want dit is Hy wat my voete
uit die vangnet bevry.
פ PE
16Draai U na my en wees my genadig,
want ek is eensaam en magteloos.
צ TSADE
17Die benoudheid van my hart
is oorweldigend;
lei my uit my kwellinge.
ר RESJ
18Sien tog my ellende
en my swaarkry raak
en vergewe al my sonde.
19Kyk na my vyande,
hoe baie hulle geword het;
en hoe fel hulle my haat.
שׁ SJIN
20 Beskerm tog my lewe en red my;
laat my nie beskaamd staan nie,
want ek skuil by U.
ת TAW
21 Mag onskuld en opregtheid
oor my wag hou,
want ek wag op U.
22Bevry Israel, o God,
van al sy benoudheid.

Currently Selected:

Psalms 25: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in