YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 65

65
1“Ek het My laat raadpleeg
deur hulle wat nie na My
gevra het nie;
Ek het My laat vind deur hulle
wat My nie gesoek het nie.
Ek het gesê, ‘Hier is Ek! Hier is Ek!’
vir 'n nasie wat nie na my Naam
genoem is nie.
2 Ek het my hande die hele dag
uitgestrek na 'n koppige volk,
hulle wat, agter hulle eie planne aan,
'n pad loop wat nie goed is nie,
3 'n volk wat My voortdurend
in my gesig uittart,
wat offerdiere slag in die tuine,
dit verbrand op altare van baksteen,
4wat in grafte sit,
op geheime plekke oornag,
wat die vleis van varke eet,
met die sous van iets walgliks
in hulle potte,
5 wat sê, ‘Bly waar jy is!
Moenie naby my kom nie,
want ek is te heilig vir jou.’
Sulke mense is rook in my neus,
'n vuur wat die hele dag smeul.
6 Kyk, voor My staan geskryf:
Ek swyg nie,
maar Ek vergeld.
En Ek sal vergeld
– in hulle skote –
7julle sondeskuld saam met
die sondeskuld van julle voorouers, ”
sê die Here,
“hulle wat offers verbrand het
op die berge,
en My op die heuwels beledig het,
Ek sal hulle loon van vroeër
in hulle skote aftel.”
8 So sê die Here:
“Wanneer daar nog sap
te vinde is in 'n druiwetros,
sal iemand sê,
‘Moet dit nie vernietig nie,
want daar is seën in.’
So sal Ek ook optree ter wille van
my diensknegte,
sodat alles nie vernietig word nie.
9 Ek sal uit Jakob 'n nageslag
laat voortkom,
en uit Juda dié wat my berge
sal besit.
My uitverkorenes
sal dit in besit neem,
en my diensknegte
sal daar woon.
10 Saron sal as weiveld
vir kleinvee dien,
en die vallei van Agor as rusplek
vir beeste,
en vir my volk wat My
geraadpleeg het.
11 Maar julle wat die Here verlaat het,
wat my heilige berg vergeet het,
wat 'n tafel dek vir Ghad,
wat 'n kruik gemengde wyn skink vir “Meni” –
12Ek bestem julle vir die swaard.
Julle sal almal kniel
vir die slagting,
omdat Ek geroep het,
maar julle nie geantwoord het nie,
omdat Ek gepraat het,
maar julle nie geluister het nie.
Julle het gedoen wat verkeerd is
in my oë;
en wat Ek nie aanvaar nie,
het julle gekies.”
13 Daarom, so sê my Heer, die Here:
“Kyk, my diensknegte sal eet,
maar julle sal honger ly.
Kyk, my diensknegte sal drink,
maar julle sal dors ly.
Kyk, my diensknegte sal hulle verheug,
maar julle sal beskaamd staan.
14Kyk, my diensknegte sal jubel met blye harte,
maar julle sal om hulp roep met bedroefde harte;
met 'n gebroke gees sal julle huil.
15 Julle sal julle naam agterlaat
om deur my uitverkorenes
in verwensings gebruik te word.
Die Heer, die Here,
sal jou doodmaak;
maar aan sy diensknegte
sal Hy 'n ander naam gee.
16 Wie vir homself seën afsmeek in die land,
sal vir hom seën afsmeek
van die ware God.
En wie in die land 'n eed aflê,
sal dit aflê by die ware God;
want die benoudhede van vroeër is vergete,
ja, vir my oë is dit verborge.
17“ Ja, Ek gaan 'n nuwe hemel
en 'n nuwe aarde skep.
Aan die vroeëres sal nie meer
gedink word nie;
dit sal nie in mense se gedagtes
opkom nie.
18 Maar wees bly en juig vir altyd
oor wat Ek gaan skep.
Ja, kyk, Ek gaan Jerusalem skep
as iets om oor te juig,
en haar volk tot 'n vreugde.
19 Ek sal oor Jerusalem juig
en oor my volk bly wees.
In haar sal die klank van gehuil
nie weer gehoor word nie,
ook nie die klank van 'n geroep
om hulp nie.
20 Daar sal nie meer 'n suigeling
wees van net enkele dae,
of 'n bejaarde wat nie sy lewensdae
voltooi nie.
Want die jongste sal op honderd
jaar sterf,
en wie nie honderd jaar bereik nie,
sal as 'n vervloekte beskou word.
21 Hulle sal huise bou en bewoon;
hulle sal wingerde plant
en die vrugte daarvan eet.
22Hulle sal nie bou, sodat 'n ander
dit bewoon nie,
of plant, sodat 'n ander
dit eet nie.
Want soos die lewensdae van 'n boom,
sal die lewensdae van my volk wees.
Die arbeid van hulle hande
sal my uitverkorenes self geniet.
23 Hulle sal hulle nie tevergeefs
vermoei nie;
hulle sal nie kinders verwek
vir 'n verskriklike lot nie;
want hulle sal 'n geslag
geseëndes van die Here wees,
en hulle nakomelinge
saam met hulle.
24 Nog voordat hulle roep,
sal Ek hulle antwoord;
hulle sal nog besig wees om te praat,
dan verhoor Ek hulle al.
25 'n Wolf en 'n lam sal saam wei,
'n leeu sal soos 'n bees hooi eet;
maar 'n slang – stof sal sy kos wees.
Mense sal nie kwaad aanrig
of hulle wangedra nie –
nêrens op my hele heilige berg nie, ”
sê die Here.

Currently Selected:

Jesaja 65: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy