YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 26

26
Ussia koning van Juda
1Die hele volk van Juda het toe vir Ussia – hy was sestien jaar oud – geneem en hom koning gemaak in die plek van sy vader, Amasia. 2Hy is die een wat Elat herbou en teruggebring het onder Juda se beheer nadat die koning by sy voorouers gaan rus het. 3 Ussia was sestien jaar oud toe hy koning geword het, en hy het twee-en-vyftig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jegolja, uit Jerusalem. 4Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, net soos sy vader Amasia gedoen het. 5Hy het God altyd gesoek in die tyd van Sagaria, die een wat hom insig gegee het in ontsag vir God. So lank as wat hy die Here gesoek het, het God hom sukses laat behaal.
6Hy het uitgetrek, teen die Filistyne geveg, en bresse geslaan in die stadsmure van Gat, Jabne en Asdod. Hy het dorpe gebou by Asdod en tussen die Filistyne. 7God het hom gehelp teen die Filistyne, die Arabiere wat in Gur-Baäl gewoon het, en teen die Meüniete. 8Die Ammoniete moes aan Ussia belasting betaal. Sy roem het so ver as die grens van Egipte gestrek, want hy het baie magtig geword. 9Ussia het wagtorings gebou in Jerusalem by die Hoekpoort, die Dalpoort en die Hoek; en hy het dit versterk. 10Hy het wagtorings in die woestyn gebou en baie opgaarputte gegrawe, want hy het baie vee gehad in sowel die Sjefela as op die vlakte. Hy het plaaswerkers en wingerdwerkers in die bergland en op vrugbare grond gehad, want hy was lief vir landbou.
11Ussia het 'n leër gehad wat oorlog kon voer, wat as troepe op 'n veldtog kon uittrek, ooreenkomstig die getal van hulle monstering deur Jeïel, die sekretaris, en Maäseja, die opsiener onder bevel van Gananja, een van die koning se bevelvoerders. 12Die volle getal van die familiehoofde, van die dapper krygers, was tweeduisend seshonderd. 13 Onder hulle bevel was daar 'n leër van driehonderd-en-seweduisend vyfhonderd wat met groot slaankrag oorlog kon voer om die koning by te staan teen die vyand. 14Ussia het hulle, die hele leër, voorsien van kleinskilde, steekspiese, helms, harnasse, boë en klippe vir slingervelle. 15In Jerusalem het hy oorlogstuig, die uitvindsel van deskundiges, gemaak vir die torings en hoeke van die stadsmuur om pyle en groot klippe te skiet. Sy roem het ver versprei, want hy is wonderbaarlik gehelp totdat hy so sterk was.
Ussia se siekte en dood
16Maar toe hy magtig geword het, het sy hart hoogmoedig geraak, tot sy eie ondergang. Hy was ontrou aan die Here sy God en het die •tempel van die Here binnegegaan om reukwerk te verbrand op die altaar vir die reukwerk. 17Die priester Asarja het hom na binne gevolg. Saam met hom was daar tagtig priesters van die Here, onverskrokke manne. 18Hulle het Ussia, die koning, teengestaan en vir hom gesê: “Dit is nie vir u, Ussia, beskore om reukwerk te laat brand vir die Here nie, maar vir die priesters, die nageslag van Aäron, wat geheilig is om reukwerk te laat brand. Gaan uit die heiligdom uit, want u was ontrou! Dit sal u nie tot eer strek by die Here God nie.”
19 Ussia was onbeheersd kwaad. Terwyl hy met die pan met reukwerk in sy hand, gereed om reukwerk te laat brand, sy onbeheersde woede op die priesters uithaal, het 'n velsiekte daar voor die priesters, langs die altaar vir die reukwerk in die huis van die Here, op sy voorkop uitgeslaan. 20Toe Asarja, die hoëpriester, en al die priesters na hom draai, het hy sowaar 'n velsiekte op sy voorkop! Hulle het hom inderhaas daar verwyder. Hy was self ook haastig om uit te gaan, omdat die Here hom getref het.
21Koning Ussia het 'n velsiekte gehad tot die dag van sy dood. Hy het in 'n plek van afsondering gewoon, want hy was verban uit die huis van die Here. Jotam, sy seun, het beheer gehad oor die koninklike paleis en het reg gespreek oor die volk van die land.
22Die verdere geskiedenis van Ussia, die vroeëre en latere geskiedenis, het die profeet Jesaja, seun van Amos, opgeteken. 23Ussia het by sy voorouers gaan rus, en hulle het hom by sy voorouers begrawe in die veld by die graf wat aan die konings behoort, want hulle het gesê: “Hy het 'n velsiekte.” Sy seun Jotam het in sy plek koning geword.

Currently Selected:

2 Kronieke 26: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in