YouVersion Logo
Search Icon

2 Kronieke 25

25
Amasia koning van Juda
1 Amasia was vyf-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het nege-en-twintig jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Jehoaddan, uit Jerusalem. 2Hy het gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar nie heelhartig nie. 3Toe die koninkryk gevestig was onder sy beheer, het hy sy amptenare tereggestel – dié wat sy vader, die koning, vermoor het. 4Hulle seuns het hy egter nie doodgemaak nie, want so staan dit geskryf in die wet, in die •boekrol van Moses, waar die Here beveel: “Ouers mag nie doodgemaak word oor kinders nie, en kinders mag nie doodgemaak word oor ouers nie; maar elkeen moet vir sy eie sonde sterf.”
5 Amasia het Juda byeen laat kom en hulle volgens die families van die hele Juda en Benjamin laat aantree onder •aanvoerders van duisend en van honderd. Hy het hulle gemonster, van twintig jaar en ouer, en vasgestel dat hulle driehonderdduisend was, uitgesoektes, weerbare manne, gewapen met steekspies en grootskild. 6Hy het ook uit Israel honderdduisend dapper krygers gehuur vir honderd kikkar silwer.
7'n Man van God het egter na hom gekom en vir hom gesê: “Koning, die leër van Israel moet nie saam met u gaan nie, want die Here is nie by Israel, by al die Efraimiete, nie. 8Maar gaan self, tree op, staal jou vir die geveg! God kan u laat val voor 'n vyand, want by God is daar die krag om te help of om te laat val.” 9Amasia vra toe vir die man van God: “Maar wat van die honderd kikkar wat ek vir die troepe van Israel gegee het?” Die man van God het geantwoord: “Die Here het die vermoë om vir jou baie meer as dit te gee.”
10Amasia het hulle, die troepe wat uit Efraim na hom gekom het, onttrek om weer na hulle eie plek te gaan. Hulle was baie kwaad vir Juda, en het briesend kwaad na hulle eie plek teruggekeer. 11 Amasia het egter moed bymekaargeskraap en sy manskappe gelei. Hy het na die Soutvallei gegaan en die mense van Seïr neergevel, tienduisend van hulle. 12Tienduisend van hulle is lewendig gevang deur die Judeërs. Hulle het hulle na die bopunt van 'n rots geneem en hulle van die bopunt van die rots afgegooi. Hulle almal het hulle te pletter geval.
13Die troepe wat Amasia teruggestuur het, sodat hulle nie saam met hom na die geveg sou gaan nie, het 'n aanval geloods op die dorpe van Juda – van Samaria tot by Bet-Goron. Hulle het drieduisend van die mense neergevel en 'n groot buit geneem.
14 Nadat Amasia tuisgekom het van die aanval op die Edomiete, het hy die gode van die mense van Seïr laat bring en dit vir hom as gode opgestel. Voor hulle het hy in aanbidding gebuig, en vir hulle het hy offers verbrand. 15Die toorn van die Here het teen Amasia ontbrand en Hy het 'n profeet na hom gestuur. Hy het vir hom gesê: “Hoekom raadpleeg u die gode van 'n volk wat nie hulle volk uit u hand kon red nie?” 16Maar terwyl hy nog met hom praat, sê Amasia vir hom: “Het ons jou as raadgewer van die koning aangestel? Hou op! Waarom moet hulle jou neervel?” Die profeet het toe opgehou, maar tog gesê: “Ek weet dat God besluit het om u te vernietig, omdat u dit gedoen het en nie na my raad geluister het nie.”
17 Amasia, koning van Juda, het ná raadpleging boodskappers gestuur na die koning van Israel, Joas, seun van Joagas, seun van Jehu, om vir hom te sê: “Kom ons kyk mekaar in die oë. ” 18Maar Joas, koning van Israel, het vir Amasia, koning van Juda, laat weet: “Die sydissel wat op die Libanon is, het vir die seder wat op die Libanon is, laat weet, ‘Gee jou dogter aan my seun as vrou.’ Die wilde diere wat op die Libanon is, het egter verbygegaan en die sydissel vertrap. 19Jy sê, ‘Kyk, ek het die Edomiete 'n nederlaag toegedien!’ Jou hart is opgetoë, op eer gerig. Bly nou tuis! Waarom wil jy jouself in die ongeluk dompel en tot 'n val kom, jy en Juda saam met jou?” 20Amasia het egter nie geluister nie, want dit het van God gekom, met die doel dat hulle in Joas se hand oorgegee sou word, omdat hulle die gode van Edom geraadpleeg het. 21Joas, koning van Israel, trek toe op en hy en Amasia, koning van Juda, het mekaar in die oë gekyk by Bet-Semes, wat aan Juda behoort. 22Maar Juda is voor Israel verslaan, en hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. 23En Joas, koning van Israel, het die koning van Juda, Amasia, seun van Jehoas, seun van Joahas, in Bet-Semes gevange geneem en na Jerusalem gebring. Hy het die stadsmuur van Jerusalem afgebreek, van die Efraimspoort tot by die Hoekpoort – vierhonderd el. 24Al die goud en silwer, en al die voorwerpe wat in die huis van God by Obed-Edom te vinde was, asook die skatte in die koninklike paleis en die gyselaars, het hy geneem en teruggekeer na Samaria.
25Amasia, seun van Jehoas, koning van Juda, het ná die dood van Joas, seun van Joagas, koning van Israel, nog vyftien jaar lank geleef. 26Die verdere geskiedenis van Amasia, die vroeëre en latere geskiedenis, kyk, is dit nie opgeteken in die boekrol van die konings van Juda en Israel nie?
27Van die tyd af dat Amasia van die Here weggedraai het, is daar in Jerusalem 'n komplot teen hom gesmee. Hy het na Lagis gevlug, maar hulle het manne agter hom aan gestuur na Lagis, en dié het hom daar doodgemaak. 28Hulle het hom op perde vervoer, en hom by sy voorouers begrawe in die •Stad van Dawid.

Currently Selected:

2 Kronieke 25: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in