YouVersion Logo
Search Icon

1 Kronieke 12

12
Dawid se leërmag
1 Dit was die manne wat na Dawid gekom het in Siklag toe hy nog uitgesluit was uit die teenwoordigheid van Saul, seun van Kis. Hulle was onder die helde wat bystand verleen het in die oorlog. 2 Gewapen met boë, kon hulle regs- of linkshandig gooi met 'n slingervel, of skiet met pyl en boog. Hulle was van die stamgenote van Saul uit Benjamin:
3Die hoof was Agiëser;
dan Joas, seun van Semaä, uit Gibea;
Jesiël en Pelet, seuns van Asmawet;
Beraka en Jehu uit Anatot;
4Jismaja uit Gibeon, 'n held onder die dertig en in beheer van die dertig;
Jeremia, Jagasiël, Joganan en Josabad uit Gedera;
5Elusai, Jerimot, Bealja, Semarja en Sefatja uit Garif;
6Elkana, Jissija, Asarel, Joëser en Jasobam, die Koragiete;
7Joëla en Sebadja, seuns van Jerogam, uit Gedor.
8 Van die mense van Gad het oorgeloop na Dawid, na die bergvesting in die woestyn, dapper manne, krygsmanne gereed vir die geveg, toegerus met grootskild en steekspies. Hulle gesigsuitdrukkings was soos dié van leeus, en soos gaselle op die berge, so vinnig was hulle.
9Eser was die hoof,
Obadja die tweede,
Eliab die derde,
10Mismanna die vierde,
Jeremia die vyfde,
11Attai die sesde,
Eliël die sewende,
12Joganan die agtste,
Elsabad die negende,
13Jeremia die tiende, Magbannai die elfde.
14 Hierdie manne was uit die nageslag van Gad, leërhoofde; net een, die geringste, was die gelyke van 'n honderd, en die belangrikste, die gelyke van 'n duisend. 15 Dit was hierdie manne wat die Jordaan oorgesteek het in die eerste maand, terwyl dit vol was tot oor al sy walle, en water al die valleie aan die ooste- en westekant versper het.
16 Toe daar van die nageslag van Benjamin en Juda na die bergvesting, na Dawid, gekom het, 17 het Dawid uitgegaan, voor hulle gaan staan en vir hulle gesê: “As julle in vrede na my gekom het om my te help, is ek dit met julle van harte eens. Maar as julle gekom het om my aan my teenstanders te verraai, terwyl daar nie geweld aan my handpalms kleef nie, mag die God van ons voorouers dit sien en straf.”
18 Toe het 'n gees van Amasai, die hoof van die dertig, besit geneem, en hy het gesê:
“Ons is vir u, Dawid,
en saam met u, seun van Isai!
Vrede, vrede vir u,
en vrede vir die wat u help,
want u God help u!”
Dawid het hulle aanvaar en hulle as hoofde van die troepe aangestel.
19 Uit Manasse het mense na Dawid oorgeloop toe hy saam met die Filistyne gegaan het vir die geveg teen Saul. Hulle het die Filistyne egter nie gehelp nie, want die Filistynse regeerders het Dawid ná oorlegpleging weggestuur en gesê: “Met ons koppe sal hy oorloop na sy heer Saul.” 20 Toe hy na Siklag gegaan het, het mense uit Manasse na hom oorgeloop. Dit was Adnag, Josabad, Jediael, Migael, Josabad, Elihu en Silletai, hoofde oor duisende wat by Manasse hoort. 21Dit is hulle wat Dawid ondersteun het teen die rowerbende, want almal van hulle was dapper krygers, en hulle het •aanvoerders in die leër geword. 22 Ja, dag ná dag het mense na Dawid gekom om hom te help, totdat dit 'n groot leër was, inderdaad 'n geweldige leër.
23Dit is die getalle van die manne wat ná 'n hoofdelike telling slaggereed was vir oorlog. Hulle het na Dawid in Hebron gekom om die koningskap van Saul op hom oor te dra, ooreenkomstig die bevel van die Here:
24Die nageslag van Juda wat grootskild en steekspies dra – 6 800, gewapen vir oorlog;
25uit die nageslag van Simeon, dapper krygers van die leër – 7 100;
26uit die nageslag van Levi – 4 600;
27 Jojada, die leier van die Aärongroep, en saam met hom 3 700;
28 Sadok, 'n jong man, 'n dapper kryger, en sy familie, met 22 aanvoerders;
29 uit die nageslag van Benjamin, stamgenote van Saul – 3 000, en tot op daardie stadium het die meeste van hulle die verpligtinge teenoor die huis van Saul nagekom;
30uit die nageslag van Efraim – 20 800, dapper krygers, manne met aansien in hulle families;
31uit die halwe stam van Manasse – 18 000, wat by die naam aangewys is om Dawid te kom koning maak;
32 uit die nageslag van Issaskar, kenners met insig in die tye, sodat hulle weet wat Israel moet doen – hulle hoofde was 200, met al hulle stamgenote onder hulle bevel;
33uit Sebulon, dié wat gereed was om op 'n veldtog te vertrek en met onverdeelde harte hulp te verskaf, in gevegslinies opgestel met al die oorlogswapens – 50 000;
34uit Naftali, 1 000 aanvoerders, en saam met hulle 37 000 met grootskilde en vegspiese;
35uit die mense van Dan, in gevegslinies opgestel – 28 600;
36uit Aser, dié wat gereed was om op 'n veldtog te vertrek, om in gevegslinies opgestel te word – 40 000;
37van oorkant die Jordaan, uit die mense van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse, met al die wapens van 'n leërmag – 120 000.
38 Hulle was almal krygsmanne wat gereed was om hulp te verleen met die gevegslinies. Met onverdeelde harte het hulle na Hebron gekom om Dawid koning te maak oor die hele Israel. Ook die hele res van Israel was een van hart om Dawid koning te maak. 39Hulle was drie dae lank daar saam met Dawid, besig om te eet en te drink, want hulle volksgenote het vir hulle voorsien. 40 Ook dié wat naby hulle was, maar tot so ver as Issaskar, Sebulon en Naftali, het kos gebring op donkies, kamele, muile en beeste: eetgoed, meel, blokke saamgeperste droë vye, blokke saamgeperste rosyne, wyn, olyfolie, en beeste en kleinvee in oorvloed; want daar was vreugde in Israel.

Currently Selected:

1 Kronieke 12: AFR20

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in